settings icon
share icon
Vraag

Wat is Bybelse afsondering?

Antwoord


Bybelse afsondering is die erkenning dat God gelowiges uit die wêreld geroep het in ‘n persoonlike en verenigde suiwerheid, midde in sondige kulture. Bybelse afsondering word gewoonlik op twee vlakke beskou: persoonlik en geestelik.

Persoonlike afsondering sluit ‘n individuele ooreenkoms teenoor ‘n gedrag van goddelike standaard in. Daniël het persoonlike afsondering beoefen, toe hy hom voorgeneem het om hom “nie met die koning se kos en wyn te verontreinig nie” Dan 1:8). Syne was ‘n Bybelse afsondering, omdat sy standaard op God se openbaring in die Mosaïese (Bybelse) wet gebaseer was.

‘n Moderne voorbeeld van persoonlike afsondering kan die besluit wees om uitnodigings na partytjies, waar alkohol bedien word, van die hand te wys. So ‘n besluit kan gemaak word om versoeking te voorkom (Rom 14:13), en om weg te bly van alles wat sleg is (1 Tess 5:22) of om eenvoudig vas oortuig te wees van jou persoonlike opvatting (Rom 14:5).

Die Bybel leer ons dat ’n kind van God van die wêreld afgesonder moet wees. “Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis? Hoe kan daar eenstemmigheid wees tussen Christus en Belial? Hoe kan ‘n gelowige dieselfde belange hê as ‘n ongelowige? Hoe kan ‘n ooreenkoms tot stand kom tussen die tempel van God en afgode? Ons is immers die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het: ‘Ek sal onder hulle woon en wandel, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.’ Daarom: ‘Gaan van hulle af weg en sonder julle af,’ sê die Here” (2 Kor 6:14-17; lees ook 1 Pet 1:14-16).

Geestelike afsondering behels die besluite van ‘n kerk, betreffende sy bande met ander organisasies, gebaseer op hul teologie of praktyke. Afsondering verwys na die ware woord “kerk”, wat van die Griekse woord “ekklesia” afgelei is en ‘n “opgeroepte byeenkoms” beteken. In Jesus se brief aan die kerk van Pergamum waarsku Hy teen diegene wat valse lering toelaat (Openbaring 2:14-15). Die kerk moes homself afsonder van dwaalleer en bande daarmee breek. ‘n Moderne voorbeeld van geestelike afsondering kan voorkom, wanneer ‘n denominasie hom by universele bondgenootskappe skaar, wat die kerk deur middel van afvalliges wil verenig.

Bybelse afsondering vereis nie dat Christene geen kontak met ongelowiges moet hê nie. Soos Jesus, behoort ons bevriend te wees met die sondaar, sonder om deel aan die sonde te hê (Luk 7:34). Paulus spreek hom uit oor ‘n gebalanseerde siening van afsondering: “In die vorige brief het ek aan julle geskryf om nie met mense om te gaan wat in onsedelikheid leef nie. Daarmee het ek glad nie die onsedelikes of die geldgieriges, bedrieërs of afgodsdienaars van hierdie wêreld bedoel nie, want om hulle te vermy, sou julle uit die wêreld moes padgee” (1 Kor 5:9-10). Met ander woorde, ons is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie.

Ons moet lig vir die wêreld wees, sonder om toe te laat dat die wêreld ons lig uitdoof. “Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik” (Matt 5:14-16).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is Bybelse afsondering?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries