Hoekom is daar so baie Christen- denominasies?




Vraag: "Hoekom is daar so baie Christen- denominasies?"

Antwoord:
Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons eerstens onderskei tussen denominasies binne die liggaam van Christus en nie-Christen sekte en vals godsdienste. Presbiteriane en Lutherane is voorbeelde van Christelike denominasies. Mormone en Jehova Getuies is voorbeelde van sektes (groepe wat beweer dat hulle Christene is, maar een of meer van die wesenlike van die Christelike geloof ontken). Islam en Boedhisme is totale aparte godsdienste.

Die ontstaan van denominasies binne die Christen-geloof kan teruggeneem word na die Protestantse Hervorming, die beweging wat die Rooms Katolieke Kerk gedurende die 16de eeu “hervorm” het. Hieruit het vier groot skeidings of tradisies van Protestantisme ontstaan: Lutheraans, Hervormdes, Anabaptiste en Anglikaans. Vanuit hierdie vier het ander denominasies gedurende die eeue gegroei.

Die Lutheraanse denominasie is na Martin Luther vernoem en was gebaseer op sy lering. Die “metodes” vir geestelike groei. Presbiteriane is so genoem na aanleiding van hul kerkleierskap – die Griekse woord vir ouderling is “prebyteros”. Baptiste het hul naam gekry, omdat hulle klem geplaas het op die belangrikheid van die doop. Elke denominasie verskil effens van leerstelling of klemplasing, soos die doopmetode, die beskikbaarheid van die Nagmaal aan almal of net aan diegene wat deur die kerkleiers goedgekeur word, die soewereiniteit van God teenoor die vrye wil in terme van redding, die toekoms van Israel en die kerk, die verdrukking voor die wegraping teenoor die verdrukking ná die wegraping, die beskikbaarheid van gawes om die “tekens” in die moderne tyd te bespeur, ens. Die kern van hierdie skeidings gaan nooit oor Christus as Here en Verlosser nie, maar eerder opregte verskille van opinie deur godvresende, hoewel gebrekkige mense, wat soek om God te eer en daarop uit is om die suiwere leer en begrip van die Woord te behou.

Denominasies is deesdae baie en verskillend. Die oorspronklike, bogenoemde“hoofstroom” denominasies het verskeie vertakkings soos Assemblies of God, Christian and Missionary Alliance, Nazarenes, Evangelical Free, onafhanklike Bybelkerke en nog meer. Sommige denominasies beklemtoon geringe verskille in leerstellings, maar meer dikwels gebruik hulle net verskillende maniere van aanbidding om die verskillende smake en voorkeure van Christene te pas. Moet egter nie ‘n fout maak nie: ons as gelowiges moet een van gees in terme van die wesenlike van die geloof wees, maar behalwe dit is daar ‘n groot mate van vryheid waarbinne Christene in ‘n korporatiewe opset kan aanbid. Dis hierdie vryheid wat so baie verskillende “geure” van Christenskap meebring. ‘n Presbiteriaanse kerk in Uganda se aanbiddingstyl verskil baie van dié in Colorado, maar hulle leerstellings sal meestal dieselfde wees. Diversiteit is ‘n goeie ding, maar verdeeldheid is nie. Wanneer twee kerke nie oor doktrine saamstem nie, kan daar gedebatteer word oor die Woord en gesprekvoering daaroor plaasvind. Hierdie tipe van “yster slyp yster” (Spreuke 27:17) is vir almal voordelig. Wanneer hulle nie saamstem oor styl en vorm nie, is dit egter goed om apart van mekaar te funksioneer. Hierdie skeiding neem egter nie die verantwoordelikheid wat op Christen rus, naamlik om mekaar lief te hê, weg nie (1 Joh 4:11-12) en behou bo alles, om in Christus verenig te lewe (Joh 17:21-22).


Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoekom is daar so baie Christen- denominasies?