settings icon
share icon
Vraag

Wat sê die Bybel omtrent die bestuur van jou finansies?

Antwoord


Die Bybel het baie te sê oor die bestuur van geldsake. Wat betref lenery, raai die Bybel dit in die algemeen nie aan nie. Sien Spreuke 6:1-5; 20:16; 22:7, 26-27 (“Die ryke heers oor die armes, en hy wat leen, is ‘n slaaf van die man wat uitleen…. Wees nie onder die wat ‘n handslag gee, onder die wat vir skulde borg staan nie. As jy nie het om te betaal nie, waarom sal hulle jou bed onder jou uit neem?”). Die Bybel waarsku herhaaldelik teen die opgaar van rykdom en moedig ons aan om eerder geestelike rykdom te versamel. Spreuke 28:20: “’n Betroubare man is ryk aan seëninge; maar hy wat haastig is om ryk te word, sal nie ongestraf bly nie.” Sien ook Spreuke 10:15; 11:4; 18:11; 23:5.

Spreuke 6:6-11 verskaf wysheid rakende luiheid en die finansiële ondergang wat onvermydelik volg. Ons word aangesê om na die vlytige mier te kyk wat werk om voedsel vir homself te vergader. Die gedeelte waarsku ook teen slaap wanneer ons met iets voordelig besig behoort te wees. ‘n “Luiaard” is ‘n lui, trae persoon wat eerder wil rus as werk. Sy einde is versekerd – armoede en gebrek. Aan die ander kant van die spektrum is die een wat behep is met die verkryging van geld. So iemand, volgens Prediker 5:9, het nooit genoeg rykdom om hom tevrede te stel nie en moet aanhoudend meer en meer versamel. In 1 Timotheus 6:6-11 word ons ook gewaarsku teen die versoeking en strikke om ryk te wil word.

Eerder as om te begeer om onsself te verryk, is die Bybelse voorbeeld een van gee, nie neem nie. “Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai. Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief” (2 Korinthiërs 9:6-7). Ons word ook aangespoor om goeie opsigters te wees van dit wat God vir ons gegee het. In Lukas 16:1-13 vertel Jesus die gelykenis van die onregverdige bestuurder om ons teen swak toesighouding te waarsku. Die sedeles van die verhaal is “As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die ware goed toevertrou?” (v 11). Ons is ook verantwoordelik om vir ons eie huishouding te voorsien, soos 1 Timotheus 5:8 ons herinner: “Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ‘n ongelowige.”

Om op te som, wat sê die Bybel oor finansiële bestuur? Die antwoord kan saamgevat word in een woord – wysheid. Ons moet wys handel met ons geld. Ons moet geld spaar, maar nie opgaar nie. Ons moet geld spandeer, maar met oordeel en beheer. Ons moet terug gee aan die Here, met vreugde en offeringswaardig. Ons moet ons geld aanwend om ander te help, maar met oordeel en met die leiding van God se Gees. Dit is nie verkeerd om ryk te wees nie, maar dit is verkeerd om geld lief te hê. Dit is nie verkeerd om arm te wees nie, maar dit is verkeerd om geld te mors op beuselagtighede. Die Bybel se volhardende boodskap oor die bestuur van geld is om dit met wysheid te doen.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat sê die Bybel omtrent die bestuur van jou finansies?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries