settings icon
share icon
Vraag

Wat sê die Bybel omtrent genesing? Is daar genesing in versoening?

Antwoord


Jesaja 53:5, wat aangehaal word in 1 Petrus 2:24, is ‘n sleutelvers met betrekking tot genesing, maar word dikwels verkeerd verstaan en aangewend. “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” Die woord wat met “genesing” vertaal is, kan óf geestelike óf liggaamlike genesing beteken. Maar, binne die konteks van Jesaja 53 en 1 Petrus 2 word dit duidelik dat geestelike genesing hier bedoel word. “wat Self ons sondes in Sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur Wie se wonde julle genees is” (1 Petrus 2:24). Die vers praat oor sonde en geregtigheid, nie oor siekte en kwale nie. Daarom praat “genesing” in beide die verse van vergifnis en verlossing, nie van liggaamlike genesing nie.

Die Bybel verbind nie spesifiek liggaamlike genesing met geestelike genesing nie. Soms word mense liggaamlik genees wanneer hulle hul geloof in Christus plaas, maar dit is nie altyd die geval nie. Soms is dit God se wil om te genees, soms nie. Die apostel Johannes gee ons ‘n duideliker perspektief: “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens Sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het” (1 Johannes 5:14-15). God doen nog steeds wonderwerke. God genees nog steeds mense. Siekte, kwale, pyn, en dood is steeds werklikhede in hierdie wêreld. Tensy die Here terugkeer, sal elkeen wat vandag lewe sterwe, en die meerderheid (Christene ingesluit) sal sterf as gevolg van ‘n liggaamlike probleem (kwaal, siekte, besering). Dit is nie altyd God se wil om ons liggaamlik te genees nie.

Uiteindelik wag ons volledige liggaamlike genesing in die hemel. In die hemel sal daar nie meer pyn, siekte, kwale, lyding, of dood wees nie (Openbaring 21). Ons moet almal minder bekommerd wees oor ons liggaamlike toestand in hierdie wêreld en baie meer oor ons geestelike toestand (Romeine 12:1-2). Dan kan ons harte konsentreer op die hemel waar ons nie meer met liggaamlike probleme opgeskeep sal wees nie. Openbaring 21:4 beskryf die ware genesing waarna ons almal moet uitsien: “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat sê die Bybel omtrent genesing? Is daar genesing in versoening?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries