settings icon
share icon
Vraag

Wat beteken dit dat Jesus red?

Antwoord


“Jesus red” of “Jesus saves” is ‘n gewilde slagspreuk op bufferplakkers, tekens by sport byeenkomste, en selfs op baniere wat deur die lug met ligte vliegtuie getrek word. Ongelukkig begryp net ‘n paar van die mense wat hierdie frase “Jesus red” of “Jesus saves” lees waarlik en ten volle wat dit beteken. Daar is ‘n verskriklike hoeveelheid krag en waarheid vasgevang in hierdie twee woorde.

Jesus red, maar wie is Jesus?
Die meeste mense weet dat Jesus ‘n man was wat ongeveer 2000 jaar gelede in Israel geleef het. Bykans elke godsdiens in die wêreld sien Jesus as ‘n goeie leermeester en/of ‘n profeet. En terwyl hierdie dinge beslis waar is van Jesus, omvat dit nie wie Jesus werklik is nie, ook verklaar dit nie hoe of waarom Jesus red nie. Jesus is God in ‘n menslike gedaante (Johannes 1:1, 14). Jesus is God wat na die aarde gekom het as ‘n mens (1 Johannes 4:2). God het mens geword in die persoon van Jesus om ons te red. Dit bring ons by die volgende vraag: waarom moet ons gered word?

Jesus red, maar waarom moet ons gered word?
Die Bybel verklaar dat elke mens wat ooit geleef het gesondig het (Prediker 7:20; Romeine 3:23). Om te sondig is om iets te doen, hetsy in gedagte, woord, of daad, wat teenstrydig is met God se volmaakte en heilige aard. Vanweë ons sonde, verdien ons almal God se veroordeling (Johannes 3:18, 36). God is volmaak regverdig, daarom kan Hy nie toelaat dat sonde en boosheid ongestraf bly nie. Aangesien God onbeperk en ewig is, en aangesien alle sonde uiteindelik teen God is (Psalm 51:4), is slegs onbeperkte en ewige straf voldoende. Ewige dood is die enigste regverdige straf vir sonde. Dit is waarom ons gered moet word.

Jesus red, maar hoe red Hy?
Omdat ons gesondig het teen ‘n onbeperkte God, moet óf ‘n beperkte wese (ons) vir ons sonde betaal vir ‘n onbeperkte tydperk, óf ‘n onbeperkte Wese (Jesus) moet eenmalig vir ons sonde betaal. Daar is geen ander keuse nie. Jesus het ons gered deur in ons plek te sterf. In die persoon van Jesus Christus, het God Homself opgeoffer ter wille van ons, deur die onbeperkte en ewige straf te betaal wat slegs Hy kon betaal (2 Korinthiërs 5:21; 1 Johannes 2:2). Jesus het die straf wat ons verdien op Hom geneem om ons te red van ‘n afgryslike ewige bestemming, die regverdige gevolge van ons sonde. Vanweë Sy groot liefde vir ons het Hy Sy lewe vir ons opgeoffer (Johannes 15:13), en daarmee die straf betaal wat ons verdien het, maar nie kon betaal nie. Jesus was daarna opgewek, en het daarmee gewys dat Sy dood inderdaad volkome betaling vir ons sonde was (1 Korinthiërs 15).

Jesus red, maar wie red Hy?
Jesus red almal wat Sy gawe van verlossing aanvaar. Jesus red almal wat volle vertroue het in Sy offer alleen as betaling vir ons sonde (Johannes 3:16; Handelinge 16:31). Alhoewel Jesus se offer volmaak voldoende was om vir die sonde van die hele mensdom te betaal, red Jesus slegs die wat Sy grootste, kosbaarste gawe persoonlik aanvaar (Johannes 1:12).

As jy nou verstaan wat dit beteken dat Jesus red, en jy wil Hom as jou persoonlike Redder aanneem, maak seker dat jy die volgende verstaan en glo, en sê dit dan as ‘n daad van geloof aan God. “Here, ek weet ek is ‘n sondaar, en ek weet dat ek vanweë my sonde verdien om vir ewig van U verwyderd te wees. Alhoewel ek dit nie verdien nie, dank ek U vir U liefde en die offer wat U vir my sonde voorsien het deur die dood en opstanding van Jesus Christus. Ek glo dat Jesus vir my sonde gesterf het en ek vertrou op Hom alleen om my te red. Help my om van hierdie oomblik af my lewe aan U te wy in plaas van aan sonde. Help my om die res van my lewe in dankbaarheid te leef vir die wonderbaarlike redding wat U voorsien het. Dankie Jesus, dat U my gered het!”

Het jy ‘n besluit vír Jesus Christus geneem as gevolg van wat jy hier gelees het? Indien wel, druk die “Ek het Jesus Christus vandag aanvaar” - knoppie hieronder.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat beteken dit dat Jesus red?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries