settings icon
share icon
Vraag

Wie/wat was die Nephilim?

Antwoord


Die Nephilim (“gevallenes, reuse”) was die afstammelinge van seksuele verhoudings tussen die seuns van God en dogters van mense in Genesis 6:1-4. Daar word baie gedebatteer oor die identiteit van die “seuns van God.” Dit is ons opinie dat die “seuns van God” gevalle engele (demone) was, wat met vroue uit die menslike geslag gemeenskap gehad het of mans uit die menslike geslag wat deur demone beset was, wat met vroue uit die menslike geslag geslagsgemeenskap beoefen het. Hierdie verbintenisse het aanleiding gegee tot die nasate, die Nephilim, wat “die sterk mense van die outyd, die manne van naam” was (Gen 6:4).

Waarom sou die demone sulke dinge doen? Die Bybel gee nie ‘n spesifieke antwoord nie. Demone is boos, verdraaide wesens – so, niks wat hulle doen, verras ons nie. Daar word gespekuleer dat die demone probeer het om die menslike bloedlyn te besmet, om sodoende die koms van die Messias te voorkom. God het belowe dat die Messias eendag die kop van die slang, Satan, sal vermorsel (Gen 3:15). Die demone in Gen 6 het moontlik probeer om dit te voorkom en dit onmoontlik te maak dat ‘n sondelose “saad van die vrou” gebore sou word. Weer eens, dit is nie ‘n Bybelse antwoord nie, maar Bybelse spekulasie.

Wat was die Nephilim? Volgens Hebraic en ander legendes (die Boek Henog en ander nie-Bybelse geskrifte), was hul reuse of super-helde, wat groot booshede aangevang het. Hul groot liggaamsbou en krag het moontlik weens die vermenging van demoniese “DNS” met menslike gene ontstaan. Na aanleiding van die rolprent “Noah”, vertolk deur die filmster Russell Crowe, was die Nephilim gevalle engele in ‘n klipomhulsel. Al wat die Bybel oor hulle sê, is dat hul “sterk mense van die outyd,die manne van naam” was (Gen 6:4). Die Nephilim was nie ruimtewesens, engele, bespieders of klipmonsters nie; hul was letterlik fisiese wesens wat voortgebring is uit die geslagsgemeenskap van die seuns van God en die dogters van die mense (Gen 6:1-4).

Wat het met die Nephilim gebeur? Dit was een van die hoofredes vir die groot vloed in Noag se tyd. Onmiddellik na die bekendmaking van die Nephilim, sê God se Woord, “Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, was die Here bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief. Die Here het gesê: ‘ Ek sal die mens wat Ek geskep het, wegvee van die aarde af; mens en dier, ook dié wat kruip en die voëls, want Ek is bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het’” (Gen 6:5-7). God het voortgegaan om die hele aarde te laat oorstroom en elkeen, met alles op aarde te laat sterf, behalwe Noag en sy familie en die diere in die ark. Alles het tot niet gegaan, insluitend die Nephilim (Gen 6:11-22).

Was daar Nephilim na die vloed? Gen 6:4 vertel ons, “In daardie tyd was daar reuse op die aarde en ook daarna, wanneer die hemelwesens na die dogters van die mense toe gekom en kinders by hulle gehad het.” Dit wil voorkom asof die demone nog na die vloed hul sonde herhaal het, alhoewel dit in mindere mate as voor die vloed plaasgevind het. Toe die Israeliete die land Kanaän gaan verken het, het hulle aan Moses gerapporteer: “Ons het daar ook die reuse gesien. Die Enakiete stam van hulle af. Ons was soos sprinkane in ons eie oë en so was ons ook in hulle oë” (Num 13:33). Hierdie gedeelte sê nie dat die Nephilim definitief daar was nie, net dat die verkenners gedink het hul sien die Nephilim daar. Dit kan dalk wees dat die verkenners baie groot mense in Kanaän opgemerk het en uit vrees gedink het dat dit die reuse was. Dit kan ook moontlik wees dat die demone na die vloed weer met die vroue gemeenskap gehad het en meer Nephilim voortgebring het. Dit is selfs moontlik dat daar sommige eienskappe van die Nephilim oorgedra is, deur oorerwing van een van Noag se skoondogters. Wat ook al gebeur het, hierdie “reuse” is deur die Israeliete vernietig gedurende hul inval in Kanaän (Jos 11:21-22) en ook later in hul geskiedenis (Deut 3:11; 1 Sam 17).

Wat weerhou die demone om vandag meer Nephilim te produseer? Dit wil voorkom asof God ‘n einde daaraan gemaak het, deur al die demone wat hierdie dinge gedoen het, in isolasie te plaas. Judas vers 6 vertel ons, “Dink ook aan wat gebeur het met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met onbreekbare kettings gebind en hou hulle in duister dieptes vir die oordeel van die groot dag.” Dit is duidelik dat nie alle demone in “gevangenis” vandag is nie, so daar moet ‘n groep demone wees wat verder gruwelike sondes pleeg, buiten die oorspronklike val. Vermoedelik is die demone wat met die menslike vroue gemeenskap gehad het, “met onbreekbare kettings gebind.” Dit sou voorkom dat die demone verder sulke sondes pleeg.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wie/wat was die Nephilim?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries