settings icon
share icon
Vraag

Hoe, waarom en wanneer het Satan uit die hemel geval?

Antwoord


Satan se val uit die hemel is simbolies in Jes 14:12-14 en Eseg 28:12-18 beskryf. Alhoewel hierdie twee gedeeltes spesifiek na die konings van Babel en Tirus verwys, is daar ook verwysing na die geestelike krag agter hierdie konings, nl. Satan. Hierdie gedeeltes beskryf waarom Satan geval het, maar daar word nie spesifiek gemeld wanneer dit gebeur het nie. Wat ons wel weet, is dat die engele voor die skepping van die wêreld geskep is (Job 38:4-7). Satan het geval, voordat hy Adam en Eva in die Paradys verlei het (Gen 3:1-14). Satan se val moes dus gebeur het nadat die engele geskep is en voor die verleiding in die Paradys, maar ons weet nie die minute, ure of dae nie.

In Job lees ons dat vir ‘n sekere tyd Satan nog toegang tot die hemel en troon van God gehad het. Job 1:6-7, “Op ‘n dag het die hemelwesens voor die Here kom staan en die Satan was ook onder hulle. Toe vra die Here vir hom: ’Waar kom jy vandaan?’ En die Satan antwoord die Here: ‘Ek het die wêreld deurkruis.’” Gedurende daardie tyd het Satan waarskynlik nog vryelik tussen hemel en aarde beweeg en direk met God gepraat oor sy aktiwiteite. Op watter tydstip God dit gestop het, is onbekend.

Hoekom het Satan uit die hemel geval? Satan het as gevolg van trots geval. Hy wou God wees, nie ‘n dienskneg van God nie. Let op die baie stellings “Ek gaan…” in Jes 14:12-15. Eseg 28:12-15 beskryf Satan as ‘n buitengewone mooi engel. Hy was skynbaar die belangrikste van die engele, die mooiste van al God se skepsels, maar hy was nie tevrede met sy posisie nie. Satan het begeer om God te wees en wou God onttroon en die beheer oor die heelal oorneem. Satan wou God wees en interessant genoeg, dit is waarmee hy Adam en Eva in die Tuin van Eden mee verlei het (Gen 3:1-5). Hoe het Satan vanuit die hemel geval? Eintlik is val nie ‘n akkurate beskrywing nie. Dit sou beter wees om te sê dat God hom uit die hemel gewerp het (Jes 14:15; Eseg 28:16-17). Satan het nie uit die hemel “geval” nie; Satan is eerder uit die hemel “gestamp.”

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe, waarom en wanneer het Satan uit die hemel geval?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries