settings icon
share icon
Vraag

Wat is die verskil tussen die Wegraping en die Tweede Koms?

Antwoord


Die wegraping en die tweede koms van Christus is dikwels verwarrend. Soms is dit moeilik om vas te stel wanneer ‘n Skrifgedeelte na die wegraping of die tweede koms verwys. Dit is egter baie belangrik om tussen die twee te onderskei, wanneer dit kom by die Bybelse eindtye-profesieë.

Die wegraping is wanneer Jesus Christus terugkom om die kerk (al die gelowiges in Christus) van die aarde af te verwyder. Dit word in 1 Tess 4:13-18 en 1 Kor 15:50-54 beskryf. Gelowiges wat gesterf het se liggame sal opgewek word en saam met gelowiges wat nog lewe, die Here in die lug tegemoetgaan. Dit sal alles in ‘n oomblik gebeur, in ‘n oogwenk. Die tweede koms is wanneer Jesus terugkeer om die Antichris te oorwin, die bose te vernietig en Sy duisendjarige koninkryk op te rig. Die tweede koms word in Openbaring 19:11-16 beskryf.

Die belangrike verskille tussen die wegraping en die tweede koms is as volg:

Met die wegraping, ontmoet gelowiges die Here in die lug (1 Tess 4:17). Met die tweede koms kom gelowiges saam met die Here terug aarde toe (Open 19:14).

Die tweede koms gebeur ná die groot verdrukking (Open 6-19). Die wegraping gebeur vóór die verdrukking (1 Tess 5:9; Open 3:10).

Die wegraping is die verwydering van gelowiges van die aarde af, as ‘n verlossingsaksie (1 Tess 4:13-17, 5:9). Die tweede koms sluit die verwydering van ongelowiges in as ‘n aksie van veroordeling of straf (Matt 24:40-41).

Die wegraping sal in die geheim en skielik gebeur (1 Kor 15:50-54). Die tweede koms sal vir almal sigbaar wees (Open 1:7; Matt 24:29-30).

Die tweede koms van Christus sal plaasvind nadat sekere ander eindtyd-gebeure plaasgevind het (2 Tess 2:4; Matt 24:15-30; Open 6-18). Die wegraping is onmiddellik; dit kan enige tyd plaasvind (Titus 2:13; 1 Tess 4:13-18; 1 Kor 15:50-54).

Hoekom is dit belangrik om hierdie twee gebeure van mekaar te onderskei?

Indien die wegraping en die tweede koms dieselfde gebeurtenis is, sal gelowiges deur die verdrukking moet gaan (1 Tess 5:9; Open 3:10).

Indien dit dieselfde gebeurtenis is, is die wederkoms van Christus nie skielik nie – daar is baie goed wat moet gebeur voordat Hy wéér kom (Matt 24:4-30).

Waar die verdrukkingstyd beskryf word in Openbaring 6-19, word daar nêrens van die kerk gepraat nie. Gedurende die verdrukking – ook genoem in Jer 30:7 “’n tyd van swaarkry vir Jakob” – sal God Sy primêre aandag op Israel vestig (Rom 11:17-31).

Die wegraping en die tweede koms is eenders, maar aparte gebeure. Beide sluit Jesus se wederkoms in. Beide is eindtyd-gebeure, maar tog is dit uiters belangrik om die verskille te herken. Opsommenderwys is die wegraping die wederkoms van Christus op die wolke om al die gelowiges van die aarde af weg te neem, voor die tyd van God se wraak. Die tweede koms is die wederkoms van Christus na die aarde om die verdrukking te beëindig en om die Antichris en sy bose wêreldse koninkryk te verslaan.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die verskil tussen die Wegraping en die Tweede Koms?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries