settings icon
share icon
Vraag

Wat is ’n Christen?

Antwoord


Die woordeboek beskryf ’n Christen as iemand wat glo dat Jesus Christus die seun van God is en verlossing aanbied aan Sy volgelinge. Hierdie is ’n goeie beginpunt om te probeer verstaan wat ’n Christen is, maar soos baie sekulêre definisies verduidelik dit nie regtig wat dit beteken om ’n Christen vanuit ’n Bybelse oogpunt te wees nie.

Die woord Christen word drie keer in die Nuwe Testament gebruik (Handelinge 11:26; Handelinge 26:28; 1 Petrus 4:16). Jesus Christus se volgelinge is vir die eerste keer “Christene” genoem in Antiogië Handelinge 11:26) omdat hulle gedrag, aktiwiteite en spraak soos die van Christus was. Dit was oorspronklik gebruik deur die ongeredde mense van Antiogië as ’n tipe minagtende bynaam om die spot te dryf met Christene. Die letterlike betekenis daarvan is, “behorende aan die party van Christus” of ’n “aanhanger of volgeling van Christus”, wat baie dieselfde is as die woordeboek beskrywing.

Met verloop van tyd het die woord “Christen” ongelukkig baie geloofwaardigheid verloor en dit word dikwels gebruik om iemand wat gelowig is of hoë morele standaarde het te beskryf, in plaas van ’n ware, wedergebore volgeling van Jesus Christus. Baie mense beskou hulleself as Christene bloot omdat hulle kerk toe gaan of in ’n “Christelike” staat bly. Maar, om kerk toe te gaan, goed te wees vir die minderbevoorregtes of om ’n goeie mens te wees, maak nie noodwendig van jou ’n Christen nie. Soos een evangelis dit gestel het: “Net soos jy nie ’n motor word wanneer jy na die motorhawe gaan nie, word jy nie ’n Christen omdat jy kerk toe gaan nie.” Om lid van ’n kerk te wees, gereeld eredienste by te woon en deel te neem aan kerklike aktiwiteite, kan jou nie ’n Christen maak nie.

Ons leer in die Bybel dat goeie werke ons nie vir God aanvaarbaar kan maak nie. Titus 3:5 sê dat God ons bloot uit genade gered het en dat ons ou, sondige mens dood en begrawe is – dat God ons ’n tweede keer gemaak het. ’n Christen is dus iemand wat deur God weergebore is (Johannes 3:3; Johannes 3:7; 1 Petrus 1:23) en wat sy geloof en vertroue in Jesus Christus geplaas het. Efesiërs 2:8: “Vra julle waarom julle nou juis gered is? Wel, dit is omdat God so goed is en julle Jesus so vertrou.” ’n Ware Christen is iemand wat sy of haar sonde bely het en sy of haar volle geloof in en vertroue op Jesus Christus alleen plaas. Hulle vertroue is nie in die aanhang van ’n geloof of ’n stel morele waardes of lys van moets en moenies, nie.

’n Ware Christen is iemand wat sy geloof in en vertroue op die persoon van Jesus Christus geplaas het asook in die feit dat Hy as betaling vir ons sondes, aan die kruis gesterf het en op die derde dag uit die dood opgestaan het om die dood te oorwin en die ewige lewe te gee aan almal wat in Hom glo. Johannes 1:12: “Daar was mense wat Hom met oop arms ontvang het. Hulle het Hom en dit waarvoor Hy staan ten volle in geloof aanvaar. Omdat hulle so op Hom vertrou, het Jesus alles vir hulle gedoen wat nodig was om God se kinders te word.” ’n Ware Christen is voorwaar ’n kind van God, ’n deel van God se ware familie en iemand aan wie ’n nuwe lewe in Christus gegee is. ’n Ware Christen word herken aan sy liefde vir ander en sy gehoorsaamheid aan God se Woord (1 Johannes 2:4; 1 Johannes 2:10).

Het u ‘n besluit vír Jesus Christus geneem as gevolg van wat u hier gelees het? Indien wel, druk op die “Ek het Jesus Christus vandag aanvaar” - knoppie hier onder.
English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is ’n Christen?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries