As ons redding vir ewig gewaarborg is, waarom waarsku die Bybel so ernstig teen afvalligheid?




Vraag: "As ons redding vir ewig gewaarborg is, waarom waarsku die Bybel so ernstig teen afvalligheid?"

Antwoord:
Die rede waarom die Bybel ons so ernstig teen afvalligheid waarsku, is omdat opregte bekering aan sigbare vrug gemeet word. Toe Johannes die Doper mense in die Jordaanrivier gedoop het, het hy diegene wat gedink het dat hul regverdig was, gewaarsku, “Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is” (Matt 3:8). Jesus het die mense wat na Hom geluister het tydens die Bergpredikasie gewaarsku, dat elke boom aan sy vrugte geken word (Matt 7:16) en dat elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, “uitgekap en in die vuur gegooi word” (Matt 7:19).

Die doel agter hierdie waarskuwings is om die uitdrukking “maklike geloof” te weerspreek. Met ander woorde, om Jesus te volg, is meer as om te sê dat jy ‘n Christen is. Enigeen kan beweer dat Christus die Verlosser is, maar diegene wat waarlik gered is, sal sigbare vrugte dra. Wat beteken dit vir ‘n Christen om vrugte te dra? Die duidelikste voorbeeld word in Gal 5:22-23 gekry, waar Paulus die vrug van die Heilige Gees beskryf: “liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” Daar is ander soorte vrugte soos verering en om siele vir Christus te wen, maar hierdie lys voorsien ons van ‘n goeie opsomming van Christelike gesindhede. Ware gelowiges sal hierdie gesindhede in hul lewens toon en wel in toenemende mate soos hulle in hul Christelike lewe vorder (2 Pet 1:5-8).

Dit is hierdie ware, vrugdraende volgelinge wat die waarborg vir ewige sekuriteit het en hulle sal volhard tot die einde toe. Daar is baie Skrifgedeeltes wat hierdie waarheid onderskryf: Rom 8:29-30 praat van die “goue ketting” van verlossing en dui daarop dat hulle “wat volgens Sy besluit geroep is, is vrygespreek en verheerlik – daar is geen verlorenheid langs die pad nie. Fil 1:6 sê dat die werk wat God in ons begin het, Hy ook sal afhandel. Ef 1:13-14 leer ons dat God ons met die Heilige Gees verseël het, as waarborg van ons erfenis, totdat ons dit in besit neem. Joh 10:29 bevestig dat niemand by magte is om God se skape uit Sy hand te vat nie. Daar is baie ander Skrifgedeeltes wat dieselfde sê – opregte gelowiges is vir ewig verseker van hul redding.

Die teksgedeeltes wat teen afvalligheid waarsku, het twee primêre doelwitte as oogmerk. Eerstens maan dit die gelowiges om seker te maak van hul geloof en roeping. Paulus sê in 2 Kor 13:5 dat ons onsself moet ondersoek, om seker te maak of ons “in die geloof lewe”. Wanneer ware volgelinge van Jesus Christus vrug dra, dan behoort ons die getuienis van redding waar te neem. Christene dra vrugte met graadsverskille, afhangende van hul vlak van gehoorsaamheid en hul geestelike gawes, maar alle Christene dra vrug en ons behoort die bewys daarvan te sien deur selfondersoek.

Daar sal tye in ‘n Christen se lewe wees waar daar geen sigbare vrug is nie. Dit gebeur gedurende tye van sonde en ongehoorsaamheid. Wat hier in langdurige tye van ongehoorsaamheid gebeur, is dat God die sekerheid van redding van ons af wegneem. Dit is waarom Dawid in Ps 51:14 bid, “Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is.” Ons verloor die vreugde van verlossing wanneer ons in sonde leef. Dit is waarom die Bybel ons vermaan om onsself te ondersoek of ons in die geloof lewe (2 Kor 13:5). As ‘n opregte Christen homself ondersoek en nie onlangs vrug gedra het nie, behoort daar ernstige belydenis en omkering tot God plaas te vind.

Die tweede rede rakende afvalligheid, is om dit uit te wys, sodat ons dit kan waarneem. ‘n Afvallige mens is iemand wat sy godsdienstige geloof die rug keer. Die Bybel stel dit duidelik dat dit mense is wat in Jesus Christus glo, maar Hom nooit werklik as Verlosser aanneem nie. Matt 13:1-9 (die gelykenis van die saaier) illustreer dit duidelik. ‘n Saaier saai die saad (dit simboliseer die Woord van God) op vier tipes grond: harde grond, klipbanke, arm grond en goeie grond. Hierdie grond verteenwoordig vier reaksies ten opsigte van die Evangelie. Die eerste een is suiwer verwerping, terwyl die ander drie sekere mate van aanvaarding toon. Die klipbank- en die arm grond verteenwoordig mense wat aanvanklik belangstelling in die Evangelie toon Maar as vervolging kom (klipbanke) of wêreldse probleme hullle pad kruis (arm grond), dan draai hulle die rug op Jesus. Jesus maak dit duidelik dat alhoewel hulle aanvanklik die Evangelie “aanvaar” het, hulle nooit enige vrug gedra het nie, omdat die saad (van die Evangelie) nooit die grond in die hart binnegedring het nie. Slegs die vierde grond was deur God “voorberei en was reg om die saad te ontvang en vrug te dra. Tydens die Bergpredikasie het Jesus gesê, “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie” (Matt 7:21).

Dit lyk miskien ongewoon dat die Bybel teen afvalligheid waarsku en terselfdertyd sê dat ‘n ware gelowige nooit afvallig sal word nie. Tog is dit wat die Skrif sê. 1 Joh 2:19 maak spesifiek die stelling, dat die afvalliges juis daardeur aantoon dat hulle nie waarlik glo nie. Die Bybelse waarskuwing teen afvalligheid is dus juis vir diegene wat “glo”, sonder dat hul dit ooit aanvaar het. Skrifgedeeltes soos Hebr 6:4-6 en Hebr 10:26-29 is waarskuwings vir gelowiges wat “voorgee” en hulle maan om hulself te ondersoek en te besef dat as hul afvalligheid oorweeg, hulle nie waarlik gered is nie. Matt 7:22-23 dui aan dat daardie gelowiges wat “voorgee”, maar eintlik God verwerp, nie verwerp is as gevolg van die feit dat hul hul geloof verloor het nie, maar omdat God hul nooit geken het nie.

Daar is baie mense wat graag vir Jesus wil ken en met Hom wil identifiseer. Wie wil nie graag die ewige lewe en seën ontvang nie? Jesus waarsku ons egter om die prys van dissipelskap in ag te neem (Luk 9:23-26, 14:25-33). Ware gelowiges het daardie koste in ag geneem, terwyl afvalliges dit nie doen nie. Afvalliges is mense wat, wanneer hul die rug op geloof keer, daardeur getuig dat hulle in die eerste plek nooit gered was nie (1 Joh 2:19). Afvalligheid is nie om redding te verloor nie, maar eerder ‘n bewys dat redding nooit regtig verkry is en deel van so ‘n persoon se lewe gevorm het nie.


Terug na die Afrikaanse tuisblad

As ons redding vir ewig gewaarborg is, waarom waarsku die Bybel so ernstig teen afvalligheid?