settings icon
share icon
Vraag

Waar is ‘n goeie plek om die Bybel te begin lees?

Antwoord


Vir beginners is dit belangrik om te besef dat die Bybel nie ‘n gewone boek is wat maklik van voor tot agter gelees kan word nie. Dit is eintlik ‘n biblioteek of versameling van boeke wat deur verskillende outeurs in verskeie tale, oor ‘n tydperk van 1500 jaar geskryf is. Martin Luther het gesê dat die Bybel die “wieg van Christus” is, omdat al die Bybelse geskiedenis en profesie uiteindelik na Jesus verwys. Daarom behoort enige “eerste lees” van die Bybel met die Evangelies te begin. Die Evangelie van Markus lees vinnig en is goed om mee te begin. Dan kan jy na die Evangelie van Johannes gaan, wat meer fokus op dit wat Jesus van Homself gesê het. Markus vertel wat Jesus gedoen het en Johannes vertel wat Jesus gesê het en wie Jesus was. In Johannes is sommige van die maklikste en duidelikste gedeeltes, maar ook soms die diepste en veelseggendste dele. Deur die 4 Evangelies, Matteus, Markus, Lukas en Johannes te lees, sal jy aan Christus se lewe en bediening bekendgestel word.

Daarna kan jy van die Sendbriewe (Romeine, Efesiërs, Filippense) lees. Hulle leer ons hoe om ons lewens so te leef dat ons God daardeur eer. Wanneer jy die Ou Testament begin lees, begin by Genesis. Dit vertel hoe God die wêreld geskep en hoe die mensekind in sonde verval het, asook die impak wat die sondeval op die wêreld gehad het. Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium is moeilik om te lees, omdat hulle stilstaan by al die wette van God, waarby die Jode moes hou. Nogtans moet jy nie hierdie boeke vermy nie, maar dit is dalk beter om hul eers later te bestudeer. In elk geval, prober om nie in hulle vasgeval te raak nie. Lees Josua en Kronieke om ‘n goeie geskiedenisbeeld van Israel te kry. Psalms en Hooglied van Salomo gee ‘n goeie gevoel van Hebreeuse poësie en wysheid. Die profetiese boeke van Jesaja tot by Maleagi is ook moeilik om te verstaan. Onthou die sleutel tot die verstaan van die Bybel is om vir God vir wysheid te vra (Jak 1:5). God is die outeur van die Bybel en Hy wil hê dat jy Sy Woord moet verstaan.

Dit is belangrik om te weet dat nie almal ‘n suksesvolle Bybelstudent kan wees nie. Net hulle met die nodige “kwalifikasies” om die Woord te bestudeer, kan dit met God se seën doen:

Is jy gered deur geloof in Jesus Christus (1 Kor 2:14-16)?

Is jy honger vir God se Woord (1 Petrus 2:2)?

Soek jy naarstiglik na God se Woord (Hand 17:11)?

As jy op hierdie drie vrae “ja” kan antwoord, kan jy seker wees dat God jou pogings om Hom en Sy Woord te leer ken, sal seën, ongeag waar jy begin het of wat jou studiemetode is. As jy nie seker is dat jy ‘n Christen is nie – dat jy deur geloof in Christus gered is en die Heilige Gees in jou het nie, sal jy vind dat dit onmoontlik is om die betekenis van die woorde van die Skrif te verstaan. Die waarhede van die Bybel is verberg vir diegene wat nie tot geloof in Christus gekom het nie, maar vir diegene wat glo, is hul die lewe self (1 Kor 2:13-14, Joh 6:63).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Waar is ‘n goeie plek om die Bybel te begin lees?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries