settings icon
share icon
Vraag

Wat is berou en is dit nodig vir verlossing? Moet ek berou oor my sonde hê om gered te word?

Antwoord


Baie mense verstssn berou as “wegdraai van sonde”, maar dit is nie die Bybelse definisie daarvan nie. Volgens die Bybel meen berou “om van denke te verander”. Die Bybel sê ook dat ware berou ‘n verandering in dade tot gevolg sal hê (Luk 3:8-14, Hand 3:19). In Hand 26:20 lees ons, “dat hulle tot inkeer moet kom en hulle tot God moet bekeer; en dit moet hulle bewys met dade wat by die bekering pas.” Die volledige Bybelse definisie van berou is ‘n verandering van denke, wat lei tot ‘n verandering van optrede.

Wat is dan die raakpunt tussen berou en redding? Handelinge fokus spesifiek op berou ten opsigte van verlossing (Hand 2:38, 3:19, 11:18, 17:30, 20:21, 26:20). Om berou te hê, rakende redding, is om jou denke aangaande Jesus Christus te verander. Toe Petrus op Pinksterdag gepreek het (Hand 2), het hy afgesluit met ‘n oproep aan die mense om berou te hê (Hand 2:38). Waaroor moes hulle berou toon? Petrus het die mense wat vir Jesus verstoot het (Hand 2:36) gevra om hul denke oor Hom te verander en te erken dat Hy inderdaad “Here en Christus” is (Hand 2:36). Petrus vra dat die mense hul denke moet verander, deur nie vir Christus as die Messias te verwerp nie, maar om in Hom te glo as Messias en Verlosser.

Berou en geloof kan verstaan word as “twee kante van dieselfde muntstuk.” Dit is onmoontlik om in Jesus Christus as Verlosser te glo, sonder om eers jou denke oor wie Hy is en wat Hy gedoen het, te verander. Dit maak nie saak of dit berou oor moedswillige verwerping of berou oor onkunde of ‘n gebrek aan belangstelling is nie – dit bly ‘n verandering in denke. Bybelse berou, ten opsigte van redding, is om jou denke te verander van verwerping van Christus tot geloof in Christus.

Dit is uiters belangrik dat ons verstaan dat berou nie ‘n werk is wat ons doen om redding te verdien nie. Niemand kan berou toon, as God nie daardie persoon na Hom getrek het nie (Joh 6:44). Hand 5:31 en 11:18 dui aan dat berou iets is wat God gee – dit is slegs as gevolg van Sy genade moontlik. Niemand kan berou toon as God dit nie bewerk nie. Alle verlossing, insluitende berou en geloof, is ‘n gevolg van God wat ons nader trek, ons oë opmaak en ons harte verander. God se lankmoedigheid en geduld lei ons tot berou (2 Pet 3:9) soos ook Sy goedheid (Rom 2:4).

Aangesien berou nie ‘n werk is wat redding verdien nie, lei dit tog tot werke. Dit is onmoontlik om waarlik en volledig jou denke te verander, sonder dat dit nie ook verandering in jou optrede en dade bring nie. Volgens die Bybel is die gevolg van berou ‘n verandering in gedrag. Dit is om diesefde rede waarom Johannes die Doper mense geroep het: “Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is” (Matt 3:8). ‘n Persoon wat waarlik berou toon oor verwerping van Christus en tot geloof in Christus kom, sal bewys lewer van ‘n veranderde lewe (2 Kor 5:17, Gal 5:19-23, Jakobus 2:14-26). Berou, behoorlik omskryf, is nodig vir redding. Bybelse berou is om jou denke oor Jesus Christus te verander en na God in geloof te keer vir verlossing (Hand 3:19). Om van sonde weg te draai tot die Here Jesus Christus, is nie die definisie van berou nie, maar dit is een van die gevolge van opregte, geloofsgebaseerde berou.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is berou en is dit nodig vir verlossing? Moet ek berou oor my sonde hê om gered te word?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries