settings icon
share icon
Vraag

Wat sê die Bybel oor geduld?

Antwoord


Wanneer alles volgens plan verloop, is geduld maklik om te beoefen. Die ware toets van geloof is, wanneer ons regte aangetas word – wanneer ‘n ander voertuig ons in die verkeer te na kom; wanneer ons onregverdig behandel word; wanneer ons medewerker ons geloof opnuut bevraagteken. Sommige mense dink hulle het die reg om ontsteld te raak wanneer irritasies en probleme hul in die gesig staar. Ongeduld word beskou as heilige woede. Volgens die Bybel is geduld ‘n vrug van die Gees (Gal 5:22), wat deur alle volgelinge van Christus geproduseer moet word (1 Thes 5:14). Geduld openbaar ons geloof in God se tydsberekening, alomteenwoordigheid en liefde.

Alhoewel die meeste mense geduld as passiewe wagperiodes of rustige verdraagsaamheid sien, is die meeste Griekse vertalings in die Nuwe Testament van “geduld”, aktiewe, kragtige woorde. Kyk byvoorbeeld na Heb 12:1, “Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop.” Hardloop ‘n mens ‘n wedloop deur passief op ander stadige deelnemers te wag? Sekerlik nie! Die woord “geduld” beteken hier “uithouvermoë”. ‘n Christen hardloop die wedloop deur uit te hou wanneer dinge moeilik gaan. Volgens die Bybel is geduld die uithouvermoë om ‘n doel te bereik, swaarkry te verduur of vol afwagting te wag op ‘n belofte om vervuld te raak.

Geduld kom nie oornag nie. God se krag en barmhartigheid is uiters nodig tydens die ontwikkeling van geduld. Kol 1:11 sê dat ons deur Hom versterk word “om in alle omstandighede met geduld te volhard,” terwyl Jak 1:3-4 ons bemoedig, om te weet dat beproewing Sy manier is om ons geduld te vervolmaak. Ons geduld word verder ontwikkel en versterk deur in God se volmaakte wil te berus, asook Sy volmaakte tyd, selfs wanneer die bose ons aanval met hul listige planne (Ps 37). Ons geduld word uiteindelik beloon, “want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here” (Jak 5:8). “Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na Sy wil vra” (Klaagliedere 3:25).

Ons sien dikwels in die Bybel baie voorbeelde van mense wat met geduld saam met God gestap het. Jakobus verwys na die profete “wat in die Naam van die Here gepraat het, as voorbeelde van lyding en geduld” (Jak 5:10). Hy verwys ook na Job, wie se volharding beloon is deur “waarop die Here dit laat uitloop het” (Jak 5:11). Abraham het ook met geduld gewag en “gekry wat aan hom beloof is” (Heb 6:15). Jesus is ons rolmodel in alles en Hy het geduld en volharding geleef: “Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God” (Heb 12:2).

Hoe leef ons die geduld wat Christus gekenmerk het? Eerstens dank ons God. Die eerste vraag is gewoonlik, “Hoekom ek?” Die Bybel sê dat ons altyd in die Here bly moet wees (Fil 4:4; 1 Pet 1:6). Tweedens moet ons na Sy doelwitte soek. Soms plaas God ons in ‘n moeilike situasie, sodat ons Sy getuies kan wees. Ander kere mag Hy beproewing toelaat om ons karakter te suiwer. Onthou dat Sy doel vir ons is om te groei en Sy heerlikheid sal ons in die beproewing deurdra. Derdens moet ons Sy beloftes onthou, soos in Rom 8:28, “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens Sy besluit geroep is.” Hierdie “alles” sluit dié dinge in wat ons geduld beproef.

Die volgende keer as jy in ‘n verkeersknoop beland, deur ‘n vriend verraai is of bespot word vir jou getuienis, hoe sal jy reageer? Die natuurlike optrede is ongeduld, wat weer na spanning, woede en frustrasie lei. Prys God dat ons as Christene nie langer vasgevang is in ‘n “natuurlike reaksie” nie, omdat ons nuwe mense /skepsels in Christus is (2 Kor 5:17). In plaas daarvan het ons die sterkte van die Here in ons, om met geduld en volkome vertroue op die Vader se krag en doelwit staat te maak, “aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na wat verhewe, eervol en onsterflik is, gee Hy die ewige lewe” (Rom 2:7). English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat sê die Bybel oor geduld?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries