settings icon
share icon
Vraag

Wat is die dag van die Here?

Antwoord


Die frase “dag van die Here” word gewoonlik gebruik om gebeure te identifiseer wat in die eindtye van die geskiedenis gaan plaasvind (Jes 7:18-25) en dit word dikwels geassosieer met die frase “daardie dag.” Een manier om hierdie frases te verstaan, is om daarop te let dat hulle altyd ‘n tydsverloop identifiseer, waarin God persoonlik in die geskiedenis ingryp, direk of indirek, om ‘n spesifieke aspek in Sy plan te bereik.

Die meeste mense assosieer die dag van die Here met ‘n tydsperiode of ‘n spesifieke dag wat sal plaasvind, wanneer God se wil en doel vir Sy wêreld en vir die mensdom in vervulling gaan. Sommige glo dat die dag van die Here ‘n langer tydsduur sal wees, as ‘n enkele dag – ‘n periode wat Christus regdeur die wêreld sal regeer, voordat Hy die hemel en die aarde reinig, ter voorbereiding vir die ewigheid van alle mense. Ander glo dat daardie dag ‘n onmiddellike gebeurtenis gaan wees, wanneer Christus terugkom aarde toe om Sy getroue gelowiges te verlos en die ongelowiges na die ewige verdoemenis te stuur.

Die frase “die dag van die Here” word 19 keer in die Ou Testament gebruik (Jes 2:12; 13:6,9; Eseg 13:5, 30:3; Joël 1:15, 2:1,11,31; 3:14; Amos 5:18,20; Obadja:15; Sefanja 1:7,14; Sagaria 14:1; Mal 4:5) en vier keer in die Nuwe Testament (Hand 2:20; 2 Tess 2:2; 2 Pet 3:10). In Openbaring 6:17 en 16:14 word dit ook genoem.

Die gedeeltes in die Ou Testament wat handel oor die dag van die Here openbaar dikwels ‘n gevoel van nabyheid, dreiging en verwagting: “Huil, want die dag van die Here is naby” (Jes 13:6); “Die dag is naby, die dag van die Here is naby!” (Eseg 30:3); “Al die inwoners van die land sal bewe, want die dag van die Here kom, dit is naby” (Joël 2:1); “Wag in stilte op die Here God! Die dag van die Here is naby!” (Sefanja 1:7). Dit is omdat die Ou Testamentiese gedeeltes dikwels van beide ‘n nabye, sowel as ‘n ver-af vervulling praat, soos in baie Ou Testament profesieë gesien word. Sommige Ou Testamentiese gedeeltes wat na die dag van die Here verwys, beskryf historiese veroordelings wat reeds in ‘n sekere sin vervul is (Jes 13:6-22); Eseg 30:2-19; Joël 1:15, 3:14; Amos 5:18-20; Sefanja 1:14-18), terwyl ander na goddelike veroordeling verwys, wat teen die einde van die tyd sal plaasvind (Joël 2:30-32; Sagaria 14:1; Maleagi 4:1,5).

Die Nuwe Testament noem dit ‘n dag van wraak, beproewing en “die groot dag van God, die Almagtige”

(Open 16:14) en verwys na toekomstige vervulling, wanneer God se wraak op die ongelowige Israel uitgestort sal word (Jes 22; Jer 30:1-17; Joël 1-2; Amos 5; Sefanja 1) en op die ongelowige wêreld (Eseg 38-39; Sagaria 14). Die Skrif dui aan dat die dag van die Here gou sal kom, soos ‘n dief in die nag (Sefanja 1:14-15; 2 Tess 2:2) en daarom moet Christene waaksaam en gereed wees vir die koms van Christus, op enige oomblik.

Behalwe dat dit ‘n tyd van oordeel gaan wees, sal dit ook ‘n tyd van verlossing wees, wanneer God die oorskiet van Israel sal verlos, deur Sy belofte in vervulling te laat gaan, dat “die hele Israel gered word” (Rom 11:26) deur hul sondes te vergewe en hul as Sy uitverkore volk in die land wat Hy aan Abraham beloof het, te herstel (Jes 10:27; Jer 30:19-31, 40; Miga 4; Sagaria 13). Die finale uitkoms van die dag van die Here sal wees dat “Die hoogmoediges sal verneder word, die selfversekerdes sal tot ‘n val kom. Op dié dag sal net die Here hoog wees. Die afgode sal heeltemal verdwyn” (Jes 2:17). Die uiteindelike of finale vervulling van die profesieë, aangaande die dag van die Here, sal teen die einde van die geskiedenis kom, wanneer God met wonderbaarlike mag die bose sal straf en al Sy beloftes in vervulling sal laat gaan.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die dag van die Here?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries