Wat sê die Bybel omtrent egskeiding en hertrouery?




Vraag: "Wat sê die Bybel omtrent egskeiding en hertrouery?"

Antwoord:
Heel eerstens is dit belangrik om die Bybelse woorde in Maleági 2:16a in gedagte te hou, ongeag watter standpunt ‘n mens inneem omtrent die hele egskeidingsaangeleentheid,: “Want ek haat egskeiding, sê die Here, die God van Israel.” Volgens die Bybel het God dit so beplan dat die huwelik ‘n lewenslange verbintenis sal wees. “Sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees. Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.” (Mattheüs 19:6). God besef nietemin, dat aangesien ‘n huwelik twee sondige wesens insluit, egskeiding wel mag voorkom. In die Ou Testament het Hy sekere wette neergelê ten einde die regte van geskeides en in die besonder die vrou te beskerm (Deuteronómium 24:1-4). Jesus wys daarop dat hierdie wette uitgegee is vanweë die hardheid van mense se harte, nie vanweë God se begeerte nie (Mattheüs 19:8).

Die groot twispunt aangaande die feit of die Bybel egskeiding en hertrou goedkeur of nie, hang primêr af van Jesus se woorde in Mattheüs 5:32 asook in Mattheüs 19:9. Die frase “behalwe vir huweliksontrou” is die enigste voorwaarde in die Skrif wat moontlik God se toestemming vir egskeiding en hertrou kan gee. Baie interpreteerders verstaan hierdie “uitsonderingsklousule” as verwysende na huweliksontrou gedurende die “verlowingsperiode”. Volgens Joodse gebruik, is man en vrou as getroud beskou, selfs al was hulle bloot nog net verloof aan mekaar d.w.s. “het hulle bloot nog net trou aan mekaar belowe.” Onsedelikheid gedurende die “verlowingsperiode” was as die enigste geldelike rede vir ‘n egskeiding beskou.

Desnieteenstaande is die Griekse woord wat as “huweliksontrou” vertaal kan word, ‘n woord wat op enige vorm van seksuele immoraliteit kan dui. Dit kan dui op ontug, prostitusie, owerspel, ens. Wat Jesus heel waarskynlik aan ons probeer oordra is dat egskeiding toelaatbaar is, indien seksuele onsedelikheid plaasgevind het. Seksuele verhoudings is só ‘n integrale deel van die huweliksband dat “die twee een vlees sal wees” (Genesis 2:24; Mattheüs 19:5; Efesiërs 5:31). ‘n Verbreking van daardie band deur enige seksuele verhoudings buite die huwelik mag dalk ‘n toelaatbare rede vir egskeiding wees. Indien dit wel die geval is, spreek Jesus ook die kwessie van hertrou in hierdie gedeelte aan. Die frase “en met ‘n ander een trou” (Mattheüs 19:9) dui aan dat egskeiding en hertrou, wel toelaatbaar is binne die uitsonderingsklousule, op watter wyse hierdie “uitsondering” dan ook al geïnterpreteer mag word. Dit is belangrik om op te let dat slegs die onskuldige party toegelaat word om te hertrou. Alhoewel dit nie in die teks weergegee word nie, blyk dit dat die vergunning vir hertrou na ‘n egskeiding dui op God se genade ten opsigte van die een teenoor wie gesondig is en nie teenoor die een wat die daad van seksuele onsedelikheid gepleeg het nie. Daar mag wel gevalle wees waar die “skuldige party” weer toegelaat word om te hertrou – maar geen sodanige konsep word in die teks aangetref nie.

Sommige mense interpreteer 1 Korinthiërs 7:15 as ‘n volgende “uitsondering” waarvolgens hertrou wel toegelaat word indien die ongelowige huweliksmaat van ‘n gelowige skei. Hierdie konteks maak egter geensins sprake van hertrou nie, maar sê slegs dat ‘n gelowige nie verplig is om met die huwelik aan te gaan indien die ongelowige huweliksmaat wil skei nie. Dan is daar ook diegene wat daarop aanspraak maak dat misbruik (hetsy teenoor ‘n lewensmaat of ‘n kind) wel geldige redes vir ‘n egskeiding is, al word laasgenoemde nie as sodanig in die Bybel gelys nie. Terwyl dit dalk wel die geval mag wees, is dit egter nooit wys om sommer meer net aan te neem dat dit in die Woord van God staan nie.

Wanneer ons somtyds oor die uitsonderingsklousule debatteer, verloor ons totaal uit die oog dat wat ook al “huweliksontrou” beteken, dit steeds bloot net ‘n vergunning vir egskeiding is, nie ‘n vereiste vir egskeiding nie. Selfs wanneer owerspel gepleeg is, kan ‘n paartjie deur God se genade leer om te vergewe en weer begin om aan hulle huwelik te herbou. God het ons tog soveel meer dinge vergewe. Daarom moet ons des te meer Sy voorbeeld volg en selfs die sonde van owerspel vergewe (Efesiërs 4:32). Nietemin is ‘n huweliksmaat in soveel gevalle onboetvaardig en doen nie afstand van seksuele onsedelikheid nie. In sulke gevalle kan Mattheüs 19:9 toegepas word. Baie van ons neig ook om te gou weer te hertrou na ‘n egskeiding, waar God ons eerder aanmoedig om enkel te bly. Somtyds roep God ‘n persoon om enkel te bly sodat hulle aandag nie verdeeld mag wees nie (1 Korinthiërs 7:32-35). Hertrou na ‘n huwelik mag wel ‘n opsie wees in sommige gevalle, maar dit beteken egter nie dat dit die enigste opsie is nie.

Dit is onrusbarend om te verneem dat die egskeidingstempo onder belydende Christene omtrent net so hoog is as onder diegene in die ongelowige wêreld. Die Bybel maak dit baie duidelik dat God egskeiding haat (Maleági 2:16) en dat versoening en vergifnis die tekens van ‘n gelowige se lewe moet wees (Lukas 11:4; Efesiërs 4:32). Nogtans erken God egter dat egskeidings wel sal plaasvind, selfs onder Sy kinders. Gelowiges wat hetsy geskei is of hertrou het, moet egter nooit voel dat hulle enigsins minder geliefd by God is nie, selfs al is hulle nie gedek onder die moontlike uitsonderingsklousule van Mattheüs 19:9 nie. God gebruik dikwels die sondige ongehoorsaamheid van Christene om dinge binne Sy groter plan te vermag.


Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat sê die Bybel omtrent egskeiding en hertrouery?