settings icon
share icon
Vraag

Is daar werklik ‘n Hemel?

Antwoord


Die Hemel is inderdaad ‘n werklikheid. Die Bybel sê dat die Hemel God se troon is (Jes 66:1; Hand 7:48-49; Matt 5:34-35). Na Jesus se opstanding en verskyning op die aarde aan Sy dissipels, “is Hy in die Hemel opgeneem en het Hy aan die regterhand van God gaan sit” (Mark 16:19; Hand 7:55-56). “Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom wat deur mense gemaak is en net ‘n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die Hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn” (Heb 9:24). Jesus het nie net voor ons uitgegaan en ter wille van ons ingegaan nie, maar Hy lewe en het ‘n tydelike bediening in die Hemel as ons Hoëpriester in die ware tempel, wat deur God self gemaak is (Heb 6:19-20; 8:1-2).

Jesus self het vir ons vertel dat daar baie woonplek in God se huis is en dat Hy vooruit gaan om vir ons plek te gaan berei. Ons het die versekering van Sy Woord dat Hy eendag weer sal terugkom aarde toe en ons Hemel toe neem, waar Hy is (Joh 14:1-4). Ons geloof in ‘n ewige woning in die Hemel is gebaseer op ‘n eksplisiete belofte van Jesus. Die Hemel is sonder twyfel ‘n werklike plek. Die Hemel bestaan werklik.

As mense die bestaan van die Hemel ontken, ontken hulle nie net die geskrewe Woord van God nie, maar hulle ontken ook die innigste verlange van hul eie harte. Paulus praat hieroor in sy brief aan die Korintiërs, waar hy hulle bemoedig om aan die hemelse hoop vas te klou, sodat hulle nie moedeloos moet word nie. Al “sug” en “verlang” ons hier op aarde, het ons die hemelse hoop altyd in die vooruitsig en is ons gretig om daar te kom (2 Kor 5:1-4). Paulus moedig hulle aan om te strewe na hul ewige tuiste in die Hemel, ‘n perspektief wat hulle in staat sou stel om swaarkry en teleurstellings in hierdie lewe te kan verduur. “Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly” (2 Kor 4:17-18).

Netsoos God die kennis dat Hy bestaan in mense se harte geplaas het (Rom 1:19-20), so is ons “geprogrammeerd” om ‘n begeerte vir die Hemel te hê. Dit is die tema van ontelbare boeke, liedere en kunswerke. Ongelukkig het ons sonde die pad Hemel toe versper. Sedert die Hemel die woonplek van ‘n heilige en volmaakte God is, is daar geen plek vir sonde nie en kan dit ook nie daar geduld word nie. Gelukkig het God vir ons die sleutel voorsien om die deure van die Hemel oop te kry – Jesus Christus (Joh 14:6). Almal wat in Hom glo en vergifnis vir sonde soek, sal vind dat die hemelse deure wyd oopswaai vir hulle. Mag die toekomstige heerlikheid van ons ewige tuiste ons almal motiveer om God getrou te dien en met ons hele hart. “Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom en dit op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur Sy liggaam. En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, laat ons tot God nader met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ‘n skuldige gewete en ons liggame is gewas met skoon water” (Heb 10:19-22).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is daar werklik ‘n Hemel?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries