settings icon
share icon
Vraag

Waarom het God ons geskep?

Antwoord


Die kort antwoord op hierdie vraag, is dat God ons vir Sy plesier geskep het. Openbaring 4:11 sê, “Here, ons God U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur U wil het alles ontstaan en is dit geskep.” Kol 1:16 bevestig dit, “God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is. Alles is deur Hom en vir Hom geskep.” Deur vir God se plesier geskape te wees, beteken nie dat die mens vir God moet vermaak nie. God is ‘n kreatiewe wese en dit verskaf aan Hom plesier om te skep. God is ‘n persoonlike wese en dit verskaf Hom plesier om ander wesens te skep, met wie Hy ‘n ware en opregte verhouding kan hê.

Om na die beeld en gelykenis van God gemaak te wees (Gen 1:27), het die mense die vermoë om God te ken en hom lief te hê, Hom te dien, Hom te aanbid en gemeenskap met Hom te hê. God het nie mense geskep omdat Hy hulle nodig gehad het nie, want omdat Hy God is, het Hy niks nodig nie. Van ewigheid af het Hy nog nooit eensaam gevoel nie en dus het Hy nie ‘n “vriend” gesoek nie. Hy is lief vir ons, maar dit is nie dieselfde as wat Hy ons sou nodig hê nie. Sou ons nooit bestaan nie, sou God nog steeds God wees – die Onveranderlike Een (Mal 3:6). Die EK IS (Eks 3:14) was nooit ontevrede met Sy eie ewige bestaan nie. Toe Hy die heelal gemaak het, het Hy gedoen waarvan Hy gehou het en aangesien God volmaak is, was sy handeling volmaak. “Dit was baie goed” (Gen 1:31).

God het ook nie “gelyke” of wesens, gelyk aan Homself geskep nie. Logies genoeg, kon Hy dit nie so doen nie. Indien God ‘n ander wese met dieselfde mag, intelligensie en volmaaktheid sou skep, dan sou Hy ophou bestaan as die enigste ware God. Daar sou dan twee gode wees en dit sou onmoontlik wees – “die Here is God en dat daar naas Hom nie ‘n ander is nie” (Deut 4:35). Enigiets wat God skep, moet noodsaaklikerwys minder as Hy wees. Die ding wat gemaak word, kan nooit groter of so groot soos die Een wat dit gemaak het, wees nie.

As ons die totale soewereiniteit en heiligheid van God in aanmerking neem, staan ons verwonderd dat Hy die mens “met aansien en eer” gekroon het (Ps 8:5) en dat Hy na ons neergebuig het en ons “vriende” genoem het (Joh 15:14-15). Waarom het God ons geskep? God het ons vir Sy plesier geskep, sodat ons as Sy skepping, die plesier kan hê om Hom te ken.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Waarom het God ons geskep?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries