settings icon
share icon
Vraag

Wat sê die Bybel omtrent hofsake / vervolging?

Antwoord


Die apostel Paulus het die Korinthiese gelowiges beveel om nie hofsake teen mekaar te maak nie (1 Korinthiërs 6:1-8). Vir Christene om mekaar nie te vergewe en hulle verskille by te lê nie, is om ‘n geestelike nederlaag te lei. Waarom sou iemand ‘n Christen wil word as Christene net soveel probleme het en net so onbevoeg is om dit op te los? Daar is egter sommige gevalle wanneer ‘n hofsaak wel die korrekte uitweg mag wees. Wanneer die Bybelse voorskrif vir versoening gevolg was (Mattheus 18:15-17) en die verkeerde party steeds nie wil toegee nie, mag ‘n hofsaak geregverdig wees. Dit moet slegs oorweeg word na vele gebede vir wysheid (Jakobus 1:5) en oorlegpleging met geestelike leiers.

Die hele konteks van 1 Korinthiërs 6:1-6 handel oor geskille in die kerk, maar Paulus vermeld die juridiese stelsel wanneer hy praat van regsprake oor dinge wat op hierdie lewe betrekking het. Paulus bedoel dat die hofstelsel daar is vir sake van hierdie lewe wat buite die kerklike val. Kerkprobleme behoort nie na die howe geneem te word nie, maar behoort binne die kerk geoordeel te word.

Handelinge hoofstukke 21-22 praat van Paulus wat gearresteer en verkeerdelik aangekla was van ‘n misdryf wat hy nie gepleeg het nie. Die Romeine het hom gearresteer en “die owerste oor duisend (het) bevel gegee dat hy (Paulus) in die kamp gebring moes word, en gesê dat hulle hom met géselslae moes ondersoek, sodat hulle kon weet om watter rede hulle (die volk) so teen hom uitroep. En onderwyl hulle hom met die rieme uitrek, sê Paulus vir die hoofman oor honderd wat daar staan: Is dit u geoorloof om ‘n Romeinse burger, en dit onveroordeeld, te gésel?” (Handelinge 22:24-25). Paulus het die Romeinse reg en sy burgerskap gebruik om homself te beskerm. Daar is niks mee verkeerd om die hofstelsel te gebruik so lank as wat dit met die regte motief en suiwer bedoelings geskied nie.

Paulus verklaar verder, “Dan is dit al werklik ‘n gebrek onder julle, dat julle regsake met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle jul nie liewer berowe nie? (1 Korinthiërs 6:7). Dit waaroor Paulus hier besorg is, is die getuienis van die gelowige. Dit sou baie beter vir ons wees as ander uit ons voordeel trek, of selfs misbruik, as wat dit vir ons sal wees om ‘n ander selfs verder van Christus te vervreem deur hom/haar hof toe te neem. Wat is meer belangrik – ‘n regstryd of die stryd om ‘n mens se ewige lewe?

Ter opsomming, behoort Christene mekaar hof toe te neem oor kerklike aangeleenthede? Beslis nie! Behoort Christene mekaar hof toe te neem oor privaat aangeleenthede? Indien dit op enige manier vermy kan word, nee. Behoort Christene ongelowiges hof toe te neem oor privaataangeleenthede? Weereens, as dit vermy kan word, nee. In sommige gevalle egter, soos die beskerming van ons eie regte (soos in die voorbeeld van Paulus beskryf), mag dit aangewese wees om ‘n regsoplossing te vind.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat sê die Bybel omtrent hofsake / vervolging?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries