settings icon
share icon
Vraag

Is daar lewe na die dood?

Antwoord


Is daar lewe na die dood? Die Bybel sê: “ ’n Mens se lewe is kort en vol probleme. Jou lewe is soos ’n blom. Vir ’n kort rukkie is die blom pragtig, maar dit gaan gou dood. Dit is soos ’n wolk wat vir ’n klein rukkie ’n skaduwee gooi en dan skielik is dit weg… Wanneer ’n mens doodgaan, is dit moontlik dat hy weer sal begin leef?” (Job 14: 1-2; 14)

Net soos Job, het ons almal al met hierdie vraag te doen gekry. Wat presies gebeur met ons wanneer ons doodgaan? Hou ons op om te bestaan? Is die lewe soos ’n draaideur waardeur jy die aarde verlaat en weer terug keer om persoonlike grootheid te behaal? Gaan almal na dieselfde plek of is daar verskillende plekke? Is daar regtig ’n hemel en ’n hel of is dit net ’n geestestoestand?

Die Bybel vertel vir ons dat daar nie net lewe na die dood is nie, maar ’n ewige lewe wat só wonderlik is: “Niemand het nog ooit so iets gesien of gehoor nie. In sy wildste drome kon niemand nog ooit homself so iets voorstel nie. Ek praat van al die dinge wat God reggemaak het vir die mense wat hom liefhet.” (1 Korintiërs 2:9) Jesus Christus, God in vlees, het na die aarde gekom om vir ons hierdie geskenk van die ewige lewe te gee. “Hy is gewond as gevolg van ons opstand teen God. Hy is doodgemaak omdat ons sonde gedoen het. Hy moes die prys betaal wat ons lewe kon herstel. Hy is stukkend geslaan sodat ons weer gesond kon word.” (Jesaja 53:5)

Jesus het die straf wat elkeen van ons verdien, op Hom geneem en selfs Sy lewe daarvoor opgeoffer. Drie dae later het Hy sy oorwinning oor die dood bewys deur uit die dood op te staan, in Gees en in vlees. Hy het vir veertig dae op die aarde gebly en is deur duisende mense gesien voordat Hy na Sy ewige tuiste in die hemel gegaan het. In Romeine 4:25 staan: “Jesus is in ons plek vir al ons sondes dood, maar God het Hom weer lewendig gemaak. Daarom is ons elkeen wat in Hom glo se saak met God in orde.”

Die opstanding van Christus is ’n gebeurtenis wat goed gedokumenteer is. Die apostel Paulus het mense uitgedaag om ooggetuies uit te vra om die geldigheid daarvan te toets en niemand kon dit as onwaar bewys nie. Die opstanding is die hoeksteen van die Christelike geloof en omdat Christus uit die dood opgestaan het, kan ons glo dat ons ook uit die dood sal opstaan.

Paulus het sommige van die vroeë Christene berispe omdat hulle dit nie geglo het nie: “Daar is tog geen twyfel oor die boodskap nie: Jesus was dood en is weer lewendig gemaak. Hoe is dit dan nog moontlik dat party van julle kan twyfel en sê dat God nie mense wat dood is lewendig sal maak nie? As God nie iemand wat dood is lewendig kan maak nie, sou Hy ook mos nie vir Jesus lewendig kon maak nie.” (1 Korintiërs 15:12-13).

Christus was slegs die eerste van ’n groot oes van dié wat weer lewend gemaak sal word. Fisiese dood het deur een persoon gekom, naamlik Adam, aan wie ons almal verwant is. Maar, almal wat deur hulle geloof in Jesus Christus, in God se familie aangeneem is, sal ’n nuwe lewe gegee word (1 Korintiërs 15: 20-22). Net soos God, Jesus se opstanding moontlik gemaak het, sal ons liggame ook lewendig gemaak word wanneer Jesus terugkom (1 Korintiërs 6:14).

Alhoewel almal weer eendag lewendig sal word, sal almal nie saam Hemel toe gaan nie. Elkeen in hierdie lewe moet ’n keuse maak om te bepaal waarheen hy of sy vir ewig sal gaan. Die Bybel sê dat almal een keer móét sterf en dat die veroordeling na dit sal kom (Hebreërs 9:27). Die regverdiges sal na die ewige lewe in die hemel gaan, maar ongelowiges sal vir ewig straf verduur, of te wel, na die hel gestuur word (Matteus 25:46).

Die hel, net soos die hemel is nie net ’n geestestoestand nie, maar ’n letterlike en baie werklike plek. Dit is ’n plek waar die ongelowige die nimmereindigende toorn van God sal verduur. Hulle sal emosionele, geestelike en fisiese marteling deurmaak en bewustelik skaamte, spyt en afkeur ervaar.

Die hel word beskryf as ’n onderaardse diepte (Lukas 8:31, Openbaringe 9:1) en ’n see van vlamme en swael, waar die inwoners dag en nag gemartel sal word – vir ewig (Openbaringe 20:10). In die hel sal die mense van pyn krul en tevergeefs om hulp roep (Matteus 13:42). “In die hel gaan die wurms nooit dood nie en die vuur brand vir altyd” (Markus 9:48). God vind geen vreugde in die vernietiging van die goddelose nie – hy wil baie graag hê dat hulle Hom moet volg sodat hulle waarlik kan lewe (Esegiël 33:11). Hy sal ons egter nie dwing om gehoorsaam te wees nie, maar as ons kies om Hom te verwerp het Hy geen ander keuse as om dit wat ons verlang te gee nie, naamlik ’n lewe afgesonder van Hom.

Die lewe op aarde is ’n toets – voorbereiding vir dat wat sal kom. Vir gelowiges beteken dit ’n ewige lewe saam met God. Hoe verkry ons regverdigheid en die ewige lewe? Daar is net een manier en dit is deur geloof en vertroue in God se Seun, Jesus Christus. Jesus het gesê: “Ek is die Een wat mense laat opstaan uit die dood en aan hulle die ewige gee wat nooit ophou nie. As iemand waarlik ’n Christen is, kan hy mos nooit geestelik doodgaan nie. Al sterf sy liggaam, het hy nog die ewige lewe. Wie om My vertrou en die ewige lewe het, gaan nooit regtig dood nie” (Johannes 11:25 - 26).

Die geskenk van die ewige lewe is aan almal beskikbaar, maar dit vereis dat ons sonder sekere van die wêreldse vreugdes klaar moet kom en dat ons onsself vir God offer. “Iemand wat dus deur geloof ’n vriend van die Seun word, sal vir ewig en altyd sy vriend bly. Maar iemand wat die Seun die rug toekeer en nie na Hom wil luister nie, sal nooit so ’n vriendskap ken nie. Hy sal wel iets anders leer ken: die woede en straf van God!” (Johannes 3:36). Na ons dood sal ons nie die geleentheid kry om berou oor sondes te toon nie want as ons eers vir God van aangesig tot aangesig gesien het sal ons nie anders kan as om in Hom te glo nie. Hy wil hê ons moet nou in geloof en liefde na Hom toe kom. Wanneer ons aanvaar dat die dood van Jesus Christus betaling is vir ons sondige opstand teen God, kry ons nie net die waarborg van ’n betekenisvolle lewe op aarde nie, maar ook ’n ewige lewe saam met God.

As jy vir Jesus Christus as jou Verlosser wil aanneem, bied ons ’n eenvoudige gebed. Onthou egter dat om net hierdie gebed of enige ander gebed te bid, jou nie sal red nie. Dit is slegs geloof in Christus wat jou van sonde kan verlos. Hierdie gebed is ’n eenvoudige manier om vir God te vertel van jou geloof in Hom en om Hom te bedank vir jou verlossing.

“Here, ek weet dat ek teen U gesondig het en dat ek verdien om gestraf te word. Maar Jesus Christus het die straf wat ek verdien, op Hom geneem sodat ek, deur geloof in Hom, vergewe mag word. Ek los nou my sondige lewe en glo dat U my sal red. Dankie vir U wonderlike Genade en die beloning van die Ewige Lewe! Amen!”

Het u ‘n besluit vír Jesus Christus geneem as gevolg van wat u hier gelees het? Indien wel, druk op die “Ek het Jesus Christus vandag aanvaar” - knoppie hier onder.
English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is daar lewe na die dood?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries