settings icon
share icon
Vraag

Behoort ‘n Christen oefeninge te doen? Wat sê die Bybel oor gesondheid?

Antwoord


Soos met vele dinge in die lewe, is daar uiterstes ook op die gebied van oefeninge. Sommige mense konsentreer geheel en al op hulle geestelike lewe, tot nadeel van hulle fisiese liggame. Ander fokus weer soveel aandag op die voorkoms van hulle fisiese liggame dat hulle hul geestelike groei en volwassenheid verwaarloos. Nie een hiervan dui op ‘n Bybelse balans nie. In 1 Timotheus 4:8 lees ons, “Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomstige lewe het.” Neem kennis dat die vers nie die noodsaaklikheid van oefening ontken nie. Dit meld bloot dat oefening weinig nut het, omdat dit oefening korrek priotiseer deur te sê dat godsaligheid van groter waarde is.

Die apostel Paulus maak ook melding van liggaamlike oefening wanneer hy die geestelike waarheid in 1 Korinthiërs 9:24-27 illustreer. Hy vergelyk die Christelike lewe met ‘n resies wat ons hardloop om “die prys te ontvang.” Die prys waarvoor ons meeding is ‘n onverwelklike krans, ‘n ewige kroon. In 2 Timotheus 2:5 sê Paulus, “En verder, as iemand aan ‘n wedstryd deelneem, word hy nie bekroon as hy nie volgens die reëls gewedywer het nie.” Paulus gebruik weer ‘n atletisisme in 2 Timotheus 4:7: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.” Terwyl hierdie Skrifverwysings nie op liggaamlike oefening gerig is nie, is die feit dat Paulus atletiek terminologie gebruik om ons geestelike waarhede te leer, ‘n aanduiding dat Paulus liggaamlike oefening, en selfs wedywering, in ‘n positiewe lig gesien het. Ons is beide liggaamlike en geestelike wesens. Terwyl die geestelike aspek van ons wese, Bybels gesproke, meer belangrik is, moet ons nie een van die geestelike of liggaamlike aspekte van ons gesondheid verwaarloos nie.

Daar is dus niks mee verkeerd vir ‘n Christen om liggaamlike oefeninge te doen nie. Die Bybel is inderdaad duidelik daaroor dat ons goed na ons liggame moet omsien (1 Korinthiërs 6:19-20). Terselfdertyd waarsku die Bybel teen ydelheid (1 Samuel 16:7; Spreuke 31:30; 1 Petrus 3:3-4). Ons doel met oefening behoort nie te wees om ons liggame so te ontwikkel dat ander mense ons sal raaksien en bewonder nie. In teendeel, die doel van oefening behoort te wees om ons liggaamlike gesondheid sodanig te verbeter dat ons meer fisiese energie sal hê om dit aan geestelike doelwitte toe te wy.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Behoort ‘n Christen oefeninge te doen? Wat sê die Bybel oor gesondheid?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries