settings icon
share icon
Vraag

Wat sê die Bybel omtrent oorlog?

Antwoord


Die Bybel sê in Exodus 20:13, “Jy mag nie doodslaan nie”, en dan maak baie mense die fout om hierdie gebod op oorlog te probeer toepas. In Hebreeus egter, beteken die woord letterlik “die opsetlike, voorbedagte, en kwaadwillige doodmaak van ‘n ander persoon; moord.” God het dikwels die Israeliete beveel om oorlog te voer teenoor ander nasies (1 Samuel 15:3; Joshua 4:13). God het die doodstraf beveel vir ‘n verskeidenheid van misdade (Exodus 21:12, 15; 22:19; Levitikus 20:11). God is dus nie gekant teen doodmaak onder alle omstandighede nie, maar wel teenoor moord. Oorlog is nooit ‘n goeie ding nie, maar dit is soms noodsaaklik. In ‘n wêreld vol sondaars (Romeine 3:10-18), is oorlog onvermydelik. Soms is dit die enigste manier om sondaars te verhoed om onskuldiges groot kwaad aan te doen.

In die Ou Testament het God die Israeliete beveel, “Neem wraak vir die kinders van Israel op die Midianiete” (Numeri 31:2). Deuteronomium 20:16-17 sê, “Maar van die stede van hierdie volke wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee, moet jy niks wat asem het, laat lewe nie. Maar jy moet hulle heeltemal met die banvloek tref…soos die HERE jou God jou beveel het.” Ook sê 1 Samuel 15:18, “Gaan heen en tref die sondaars, die Amalekiete, met die banvloek en veg teen hulle totdat hulle vernietig is.” God is duidelik nie gekant teen alle oorloë nie. Jesus is altyd in perfekte harmonie met die Vader (Johannes 10:30), dus kan ons nie argumenteer dat oorlog slegs God se wil in die Ou Testament was nie. God verander nie (Maleagi 3:6; Jakobus 1:17).

Jesus se wederkoms sal buitengewoon geweldadig wees. Openbaring 19:11-21 beskryf die beslissende oorlog met Christus, die Oorwinnaar, wat oordeel en oorlog voer “in geregtigheid” (v 11). Dit gaan bloedig (v 13) wees. Die voëls sal die vlees eet van Sy teenstanders (v 17-18). Hy het geen medelye met Sy vyande nie, wat Hy heeltemal sal oorwin en sal werp in die “vuurpoel wat met swawel brand (v 20).

Dit is verkeerd om te sê dat God nooit ‘n oorlog ondersteun nie. Jesus is nie ‘n pasifis nie. In ‘n wêreld vol bose mense is oorlog soms nodig om groter boosheid te voorkom. As Hitler nie die Tweede Wêreldoorlog verloor het nie, hoeveel miljoene meer sou gesterf het? As die Amerikaanse Burgeroorlog nie plaasgevind het nie, hoeveel langer sou die Afrikaan-Amerikaners nog as slawe moes ly?

Oorlog is iets verskrikliks. Sommige oorloë is meer “geregverdig” as ander, maar oorloë is altyd die resultaat van sonde (Romeine 3:10-18). Terselfdertyd sê Prediker 3:8 daar is, “’n tyd om lief te hê en ‘n tyd om te haat, ‘n tyd vir oorlog en ‘n tyd vir vrede.” In ‘n wêreld vol sonde, haat, en boosheid (Romeine 3:10-18), is oorlog onvermydelik. Christene behoort nie oorlog te begeer nie, maar ook mag Christene hulle nie verset teenoor die owerhede wat God oor hulle aangestel het nie (Romeine 13:1-4; 1 Petrus 2:17). Die mees belangrike ding wat ons in ‘n tyd van oorlog kan doen is om te bid vir goddelike wysheid vir ons leiers, te bid vir die veiligheid van ons militêre, te bid vir ‘n spoedige oplossing vir die konflik, en te bid vir ‘n minimum ongevalle onder die burgerlikes aan beide kante (Filippense 4:6-7).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat sê die Bybel omtrent oorlog?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries