settings icon
share icon
Vraag

Wat sê die Bybel moet met ‘n rebelse kind gedoen word?

Antwoord


Die kind met rebelse streke doen dit as gevolg van verskeie redes. Ongenaakbare ouers met min liefde, asook kritiese ouerskap sal maklik uitloop op een of ander tipe rebellie. Selfs die mees inskiklike kind sal rebelleer – na binne of na buite – teen sulke behandeling. Natuurlik moet hierdie tipe ouerskap vermy word. Daarmee saam is ‘n sekere mate van rebelsheid teen ouers natuurlik in tieners teenwoordig. Hulle is stadigaan besig om in die proses van grootword hul eie lewens te rig, asook hul eie identiteit te probeer vind. Op hierdie manier beweeg hulle stadigaan weg van die familie.

Veronderstel dat die rebelse kind van nature ‘n sterk wil het as persoonlikheidseienskap, dan sal hy die neighing hê om grense te toets, ‘n oorheersende begeerte om in beheer te wees en ‘n wil om alle gesag te ondermyn. Met ander woorde, rebelsheid is sy middelnaam. Hierdie tipe rebelse kinders is dikwels baie intelligent en kan situasies binne oomblikke opsom, maniere uitwerk om beheer daaroor te neem, asook oor die mense rondom hulle. Hierdie kinders kan vir hul ouers ‘n uiters uitdagende en uitputtende bron wees.

Gelukkig is dit ook waar dat God kinders gemaak het in die persoon van wie hulle is en wat hulle is. Hy het hulle lief en Hy het aan ouers die hulpbronne voorsien om dit te kan hanteer. Daar is Bybelse beginsels wat hantering van hierdie rebelse kind in liefdevolle genade aanspreek. Spreuke 22:6, “Gee leiding aan ‘n jongmens oor hoe hy moet leef en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.” Alle kinders se pad moet na Jesus lei. Om kinders volgens God se Woord op te voed, is uiters belangrik vir alle kinders. Hul moet verstaan wie God is en hoe om Hom te dien. Om te verstaan wat hierdie tipe rebelse kind motiveer – die begeerte om in beheer te wees – en om hom op die regte pad te kry, sal ‘n lang tyd neem. Hy moet verstaan dat hy nie in beheer van die wêreld is nie – God is – en dat hy eenvoudig dinge volgens God se manier moet doen. Ouers sal dus ook absoluut van hierdie waarheid oortuig moet wees en daarvolgens lewe. ‘n Ouer wat in rebelsheid teenoor God lewe, sal nie in staat wees om sy kind te oortuig om onderdanig te wees nie.

Eers as die waarheid gevestig is dat God die Een is wat die reëls maak, moet ouers dit by kinders tuisbring dat hulle instrumente van God is en enigiets wat nodig is, sal doen om God se plan vir hul families tot uitvoer te bring. ‘n Rebelse kind moet geleer word dat God se plan is, dat die ouers die leiding moet gee en die kind moet volg. Daar kan geen misverstand rondom hierdie waarheid wees nie. Hierdie kinders kan besluiteloosheid myle ver aanvoel en sal alles doen om die leierskapgaping te vul en beheer oor te neem. Die beginsel om onder gesag te swig, is uiters belangrik vir hierdie kind. Indien onderdanigheid nie as kind aangeleer word nie, sal die toekoms gekenmerk word deur konflik met alle gesagstrukture, insluitende werkgewers, polisie, geregshowe en militêre leiers. Volgens Rom 13:1-5 is dit duidelik dat die owerhede oor ons deur God aangestel is en ons moet aan hulle gehoorsaam wees.

‘n Kind met so ‘n sterk wil sal homself ook net aan reëls steur, indien dit vir hom sinvol is. Gee vir hom ‘n goeie rede vir ‘n reël en lê gereeld klem daarop dat ons dinge op God se manier doen en dat dit nie onderhandelbaar is nie. Verduidelik ook dat God die verantwoordelikheid aan ouers gegee het om hul kinders lief te hê en te dissiplineer en indien dit nie gebeur nie, misluk die ouers daarin om Hom te gehoorsaam. Wanneer moontlik, gee vir die kind die geleentheid om self besluite te neem, sodat hy nie heeltemal magteloos voel nie. Kerkgang is byvoorbeeld nie onderhandelbaar nie, want God het ons opdrag gegee om met die ander gelowiges saam te vergader (Heb 10:25), maar kinders kan binne perke self besluit wat om aan te trek en waar die familie moet sit, ens. Gee ook vir hulle projekte waarin hulle ‘n bydrae kan lewer in die beplanning daarvan, byvoorbeeld ‘n vakansie.

Verder moet ouerskap gepaardgaan met geduld en konsekwentheid. Ouers moet probeer om nie op hul kinders te skree, hande in die lug te swaai of hul humeure te verloor nie. Dit sal die rebelse kind haar/sy sin gee van beheer en hulle sal gou agterkom wat om te doen wat jou frustreer en emosioneel op te tree. Fisiese dissipline faal gewoonlik, aangesien hulle dit geniet om ouers tot by die punt te dryf waar hulle voel dat ‘n bietjie pyn ‘n goeie prys is om te betaal. Sommige ouers vertel dat hierdie kinders hulle uitlag wanneer fisiese straf toegepas word, so dit is nie die beste metode om hulle te dissiplineer nie. Nêrens in die lewe is die vrug van die Gees van geduld en selfbeheersing (Gal 5:23) vir die Christen miskien meer nodig, as in die geval van die kind met ‘n sterk wil/rebelse kind nie.

Dit kan baie frustrerend vir ouers wees, maar sulke ouers kan in God se belofte vrede vind: God sal ons nie bo ons kragte toets nie (1 Kor 10:13). Ouers met sulke kinders kan seker wees dat God nie ‘n fout gemaak het nie en dat Hy die nodige leiding en bronne sal voorsien. “Bid gedurig” (1 Tess 5:17) is baie spesiaal vir hierdie ouers en hulle moet baie tyd op hul knieë spandeer en vir die Here bid vir wysheid, wat Hy sal voorsien – dis ‘n belofte (Jak 1:5). Daar is tog vrede in die wete dat indien hierdie kinders goed hanteer word, hulle as volwassenes sukses bereik. Baie rebelse kinders het verander in dapper, toegewyde Christene wat hul besondere talente gebruik om die Here te dien. Deur die ouers se pogings van geduld en vlyt het hierdie kinders mettertyd liefde en respek aangeleer.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat sê die Bybel moet met ‘n rebelse kind gedoen word?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries