settings icon
share icon
Vraag

Wat is die verskil tussen religie en spiritualiteit?

Antwoord


Voordat ons die verskil tussen religie en spiritualiteit bespreek, moet ons die twee terme definieer. Religie kan gedefinieer word as “geloof in God of gode wat aanbid word, gewoonlik kom dit tot uiting in gedrag en ritueel” of “enige spesifieke geloofsisteem, aanbidding, ens., dikwels is daar ‘n kode van etiek ingesluit.” Spiritualiteit kan gedefinieer word as “ die bepaling of die feit om spiritueel, nie-fisies” te wees of “oorheersend geestelike karakter soos in denke, lewe, ens.; spirituele tendens of toon.” Om dit kortliks te stel, is religie ‘n stel oortuigings en rituele wat daarop ingestel is om ‘n persoon in die regte verhouding met God te kry en spiritualiteit is ‘n fokus rondom spirituele dinge en die spirituele wêreld, in plaas van fisiese/aardse dinge.

Die mees algemene misverstand rakende religie, is dat die Christendom net ‘n ander godsdiens soos Islam, Judaïsme, Hindoeïsme, ensovoorts, is. Ongelukkig is daar baie wat beweer dat hulle aanhangers van die Christelike geloof is, maar in die praktyk leef asof dit ‘n religie is. Vir baie is die Christendom niks meer as ‘n stel reëls en rituele wat ‘n persoon moet in ag neem, om hemel toe te gaan na die dood nie. Dit is nie ware Christenskap nie. Ware Christenskap is nie ‘n godsdiens nie; dit is eerder om die regte verhouding met God te hê en deur Jesus Christus as die Verlosser-Messias, uit genade deur geloof aan te neem. Ja, die Christelike geloof het “rituele” om na te kom (bv. Doop en Nagmaal). Ja, hulle het “reëls” om te volg, (bv. nie moordpleeg nie, mekaar liefhê, ens.) Hierdie rituele en reëls is nie die essensie van die Christendom nie, maar die uitvloeisel van verlossing. Wanneer ons verlossing deur Jesus Christus ontvang, is ons gedoop as ‘n verklaring van daardie geloof. Ons vier Nagmaal as herinnering aan God se offerande. Ons volg ‘n lys van doen en nie-doen dinge uit liefde vir God en uit dankbaarheid vir wat Hy gedoen het.

Die mees algemene misverstand oor spiritualiteit is dat daar baie vorms daarvan bestaan en almal is ewe geldig. Om in ongewone fisiese posisies te mediteer, met die natuur te kommunikeer, om met die geesteswêreld te gesels, ens., mag “spiritueel” voorkom, maar dit is in werklikheid valse spiritualiteit. Ware spiritualiteit is om die Heilige Gees van God te besit, as gevolg van die verlossing wat ontvang is deur Jesus Christus. Ware spiritualiteit is die vrug wat die Heilige Gees in ‘n persoon se lewe produseer: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal 5:22-23). Spiritualiteit is alles om meer soos God te word, want Hy is Gees (Joh 4:24) en het ons karakter na Sy beeld geskep (Rom 12:1-2).

Wat religie en spiritualiteit in gemeen het, is dat beide valse metodes kan wees van hoe om ‘n verhouding met God te hê. Godsdiens neig daartoe om die hartelose waarneming van rituele as plaasvervanger te gebruik vir ‘n ware verhouding met God. Spiritualiteit is geneig om verbinding met die geesteswêreld as plaasvervanger vir ‘n ware verhouding met God te gebruik. Beide kan wees en is dikwels valse paaie na God toe. Terselfdertyd kan godsdiens waardevol wees, aangesien dit uitwys dat daar ‘n God is en dat ons op ‘n manier verantwoordbaar teenoor Hom is. Die enigste ware geldigheid van religie is die vermoë om uit te wys dat ons ‘n Verlosser nodig het en kortkom. Spiritualiteit kan waardevol wees, deurdat dit uitwys dat die fisiese wêreld nie al is wat daar bestaan nie. Die menslike wese is nie net stof nie, maar besit ook ‘n siel-gees. Daar is ‘n spirituele wêreld rondom ons, waarvan ons bewus moet wees. Die ware geldigheid van spiritualiteit is dat dit ook wys na die feit dat daar iets en iemand buiten hierdie fisiese wêreld is, met wie ons kontak moet maak.

Jesus Christus is die vervulling van beide religie en spiritualiteit. Jesus is die Een teenoor wie ons verantwoordelikheid moet openbaar en ware godsdiens wys na Hom. Jesus is die Een met wie ons ‘n verhouding moet hê en die Een na wie ware spiritualiteit wys.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die verskil tussen religie en spiritualiteit?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries