settings icon
share icon
Vraag

Wat is die rol van die Heilige Gees in ons lewens vandag?

Antwoord


Van al die gawes van God aan die mensdom, is die grootste gawe die teenwoordigheid van die Heilige Gees. Die Gees het baie funksies, rolle en aktiwiteite. Eerstens werk Hy in die harte van alle mense oraloor. Jesus het vir die dissipels gesê dat Hy die Gees na die wêreld sou stuur om te “bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde en dat die reg aan My kant is en dat die oordeel al gekom het “(Joh 16:7-11). Elkeen het ‘n “bewustheid van God”, al wil sommige dit nie erken nie. Die Gees maak die menslike verstand van die waarhede van God bewus deur middel van billike en toereikende argumente, om hulle te oortuig dat hulle sondaars is. Deur hierdie oortuiging en deurdat mense daarop reageer, kom hul tot bekering.

Wanneer ons gered is en aan God behoort, maak die Gees woning in ons harte vir ewig. Dan seël Hy ons met die bevestigende, gesertifiseerde en besliste waarborg van ons ewigheidstatus as Sy kinders. Jesus het gesê dat Hy die Gees sou stuur as ons Helper, Trooster en Gids. “Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die Waarheid.” (Joh 14:16,17). Die Griekse woord hier, as dit vertaal word, beteken “een wat geroep is om langsaan te bly” en ook die een wat bemoedig en vermaan. Die Heilige Gees maak permanente woning in die harte van gelowiges (Rom 8:9, 1 Kor 6:19-20, 12:13). Jesus het die Gees as ‘n “vergoeding” vir Sy afwesigheid gegee, om sodoende die funksies wat Hy sou vervul , indien Hy persoonlik by ons sou bly, oor te neem.

Een van die funksies is om die waarheid te openbaar. Die teenwoordigheid van die Gees in ons, help ons om God se Woord te verstaan en te interpreteer. Jesus het aan Sy dissipels vertel dat “Wanneer Hy kom, die Gees van die Waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei” (Joh 16:13). Hy openbaar in ons verstande die hele raadsplan van God, rakende aanbidding, lering en die Christelike leefwyse. Hy is die primêre gids, gaan vooruit, wys die pad aan, verwyder obstruksies, ontsluit die begrip van dinge en maak alles duidelik en verstaanbaar. Hy wys ons die pad wat ons moet volg op geestelike gebied. Sonder so ‘n gids, sou ons baie foute gemaak het. ‘n Uiters belangrike deel van die waarheid wat Hy aan ons openbaar, is dat Jesus is, wie Hy sê dat Hy is (Joh 15:26, 1 Kor 12:3). Die Gees oortuig ons van Christus se goddelikheid en inkarnasie (mens geword), dat Hy die Messias was wat gely en gesterf het, Sy opstanding en hemelvaart, Sy verheerliking aan die regterhand van God, en Sy rol as die regter van almal. Hy vereer Christus in alles (Joh 16:14).

‘n Ander rol van die Heilige Gees is dié van gawes uitdeel. 1 Kor 12 beskryf die geestelike gawes wat gelowiges ontvang, sodat hulle as die liggaam van Christus op aarde kan funksioneer. Al hierdie gawes, groot en klein, word deur die Gees gegee, sodat ons Sy ambassadeurs in die wêreld kan wees om Sy genade te vertoon en Hom te eer.

Die Gees werk ook in ons lewens, sodat ons kan vrugte dra. Wanneer Hy in ons kom woon, begin Hy om Sy vrugte in ons lewens voort te bring – liefde, blydskap, vrede, geduld, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing (Gal 5:22-23). Hierdie is nie werke van ons vlees, wat onbevoeg is om sulke vrugte te produseer nie, maar hulle is produkte van die Gees se teenwoordigheid in ons lewens.

Die wete dat die Heilige Gees van God Homself in ons lewens kom vestig, dat Hy al hierdie bonatuurlike funksies vervul, dat Hy vir ewig in ons woon en dat Hy ons nooit sal verlaat of in die steek laat nie, is rede vir groot vreugde en troos. Dank God vir hierdie kosbare geskenk – die Heilige Gees en Sy werk in ons lewe.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die rol van die Heilige Gees in ons lewens vandag?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries