settings icon
share icon
Vraag

Watter stappe lei na verlossing?

Antwoord


Baie mense is opsoek na die “stappe na verlossing.” Mense hou van die gedagte van ‘n handleiding met vyf stappe, wat as jy dit volg tot jou verlossing sal lei. ‘n Voorbeeld hiervan is Islam met sy Vyf Pilare. Volgens Islam, as die Vyf Pilare nagevolg word, word verlossing toegestaan. Omdat die gedagte van ‘n stap-vir-stap proses aanloklik is, maak baie in die Christen gemeenskap die fout om verlossing voor te hou as ‘n stap-vir-stap proses. Die Rooms-Katolieke het sewe sakramente. Verskeie Christen denominasies voeg doop, openbare belydenis, wegdraai van sonde, praat in tale, ensovoorts, by die stappe na verlossing. Maar die Bybel skryf slegs een stap voor vir verlossing. Toe die tronkbewaarder van Filippi vir Paulus vra, “wat moet ek doen om gered te word?” het Paulus geantwoord, “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word” (Handelinge 16:30-31).

Geloof in Jesus Christus as die Verlosser is die enigste “stap” na verlossing. Die boodskap van die Bybel is baie duidelik. Ons het almal teen God gesondig (Romeine 3:23). Omdat ons gesondig het, verdien ons om vir ewig van God verwyderd te wees (Romeine 6:23). Maar weens Sy liefde vir ons (Johannes 3:16), het God ‘n menslike gedaante aangeneem en in ons plek gesterf, en het Hy die straf wat ons verdien op Hom geneem (Romeine 5:8; 2 Korinthiërs 5:21). God belowe vergifnis van sonde en ewige lewe in die hemel aan almal, wat deur genade in die geloof, vir Jesus Christus as Verlosser aanneem (Johannes 1:12; 3:16; 5:24; Handelinge 16:31).

Verlossing is nie omtrent sekere stappe wat ons moet volg om verlossing te verdien nie. Ja, Christene behoort gedoop word. Ja, Christene behoort openlik te bely dat Christus die Verlosser is. Ja, Christene behoort weg te draai van sonde. Ja, Christene behoort hulle lewens te wy aan gehoorsaamheid tot God. Maar, dit is nie die stappe tot verlossing nie. Dit is die gevolge van verlossing. Vanweë ons sonde, kan ons nie met enige redelikheid verwag om verlossing te verdien nie. Ons kan 1000 stappe volg, en dit sal nie genoeg wees nie. Dit is waarom Jesus in ons plek moes sterf. Ons is totaal onbevoeg om ons sondeskuld aan God te betaal of om onsself van sonde te reinig. Net God kon ons verlossing volbring, en dit het Hy gedoen. God Self het die “stappe” voltooi en daardeur bied Hy verlossing aan almal wat dit van Hom sal aanneem.

Verlossing en vergifnis van sonde gaan nie oor stappe wat gevolg moet word nie. Dit gaan oor die aanneming van Christus as Verlosser en die erkenning dat Hy al die werk vir ons gedoen het. God vereis een stap van ons—neem Christus as Verlosser aan en vertrou ten volle op Hom alleen as die weg tot verlossing. Dit is wat die Christengeloof onderskei van ander wêreldgodsdienste, waarvan elkeen ‘n lys van stappe het wat gevolg moet word om verlossing te ontvang. Die Christengeloof bely dat God reeds al die stappe voltooi het, en ons eenvoudig uitnooi om Hom in die geloof aan te neem.

Het jy ‘n besluit vír Jesus Christus geneem as gevolg van wat jy hier gelees het? Indien wel, druk die “Ek het Jesus Christus vandag aanvaar” - knoppie hieronder.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Watter stappe lei na verlossing?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries