settings icon
share icon
Vraag

Wat is vryspraak?

Antwoord


Eenvoudig gestel , beteken vryspraak om regverdig te verklaar, om met God reg te maak. Vryspraak is God se verklaring aan hulle wat Christus aangeneem het, om hul regverdig te verklaar en dit is gebaseer op die regverdigheid van Christus, wat oorgedra is op die rekeninge van hulle wat Christus aangeneem het (2 Kor 5:21). Alhoewel vryspraak as beginsel regdeur die Skrif gevind word, word die belangrike teksgedeelte wat vryspraak beskrywe ten opsigte van gelowiges in Rom 3:21-26 gekry; “Maar nou het die vryspraak deur God, waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. Almal het gesondig en is ver van God af, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenwoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.”

Ons is vrygespreek, geregverdig, die oomblik toe ons gered is. Vryspraak maak ons nie regverdig nie, maar verklaar ons eerder regverdig. Ons regverdigheid het sy oorsprong , deurdat ons glo in die voltooide werk van Jesus Christus. Sy offerande bedek ons sonde, sodat God ons onbevlek en volmaak sien. Omdat ons glo, is ons in Christus en daarom sien God Christus se eie regverdigheid wanneer Hy na ons kyk. Dit voldoen aan God se vereistes vir volmaaktheid. Dus verklaar Hy ons regverdig – Hy spreek ons vry.

Rom 5:18-19 som dit goed op:” Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal. Soos baie deur die gehoorsaamheid van een mens sondaars geword het, so ook sal baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens vrygespreek word. “ Dit is as gevolg van die vryspraak dat die vrede van God in ons lewens kan heers. Dit is as gevolg van die vryspraak dat gelowiges die waarborg van redding kan hê. As gevolg van die feit van die vryspraak maak dit vir God moontlik om die proses van heiliging te begin – die proses waardeur God ons werklik maak, wat ons reeds posisioneel voor God is. “God het ons dan nou vrygespreek omdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus” (Rom 5:1).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is vryspraak?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries