settings icon
share icon
Vraag

Ek het sopas my geloof in Jesus geplaas…wat nou?

Antwoord


Ek het sopas my geloof in Jesus geplaas…wat nou?

Baie Geluk! U het ‘n keuse gemaak wat u lewe gaan verander! Miskien vra u, “Wat nou? Hoe begin ek my wandel met God?” Die volgende vyf stappe uit die Bybel sal u rigtingaanwysers wees. Indien u enige vrae gedurende hierdie wandel met God het, besoek graag https://www.gotquestions.org/Afrikaans

Klik hier om ses absoluut gratis fondamentbou-oordenkings vir nuwe Christene af te laai van ons vriende by Twenty20 Faith.

1. Maak seker dat u “Verlossing” verstaan

I Johannes 5:13 leer ons, “Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.” Dit is God se Wil dat ons “Verlossing” verstaan. Dit is Sy Wil dat ons sekerlik sal weet dat ons gered is. Kom ons kyk vlugtig na die sleutelpunte van “Verlossing”:

(a) Ons het almal gesondig. Ons het almal iets gedoen wat God nie eer nie (Romeine 3:23).

(b) As gevolg van ons sondes verdien ons om gestraf te word met die ewige verwydering vanaf God (Romeine 6:23).

(c) Jesus het ons sondeskuld op die kruishout betaal (Romeine 5:8; 2 Korinthiërs 5:21). Jesus het namens ons gesterf en ons straf op Hom geneem. Sy opstanding uit die dode is bewys dat Sy dood voldoende was om ons sondeskuld ten volle te betaal.

(d) God voorsien vergifnis en verlossing aan almal wat hul geloof in Jesus plaas en glo dat Sy kruisdood die betaling vir ons sondes was. (Johannes 3:16; Romeine 5:1; Romeine 8:1)

Dit is die boodskap van Verlossing! Indien u, u geloof in Jesus geplaas het as u Verlosser en Saligmaker, is u gered! Al u sondes is vergewe en belowe God om u nooit te versaak nie (Romeine 8:38-39; Matthëus 28:20). Onthou dat u verlossing veilig in Jesus gesetel is (Johannes 10:28-29). Indien u slegs in Jesus as u Verlosser glo, kan u verseker wees dat u die Ewigheid met God in die Hemel sal spandeer!

2. Vind ‘n goeie Kerk wat suiwer uit die Bybel leer

Moenie aan die kerk as ‘n gebou dink nie. Die “kerk” is die mense daarin. Dit is belangrik dat gelowiges in Jesus Christus dikwels bymekaar kom. Dit is een van die grondslae van die kerk. Noudat u, u geloof op Jesus Christus gevestig het, wil ons sterk aanbeveel dat u ‘n suiwer Bybelse kerk vind en met die Leraar ontmoet. Vertel hom van u nuwe geloof in Jesus Christus.

‘n Tweede doel van die kerk is om u God se Woord te leer. U kan daaruit leer hoe om God se weg vir u lewe toe te pas. Die sleutel tot ‘n suksesvolle en kragtige Christen lewe lê daarin om die Woord te verstaan. 2 Timothëus 3:16-17 leer, “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”

‘n Derde doel van die kerk is om God te loof en te prys. Ons dank God vir wat Hy vir ons gedoen het deur Hom te loof en te prys! God het ons gered. Hy het ons lief. Hy voorsien in al ons behoeftes. Hy lei ons en wys ons die weg. Hoe kan ons hom daarvoor dank? God is heilig, geregtig. liefdevol, genadig en vol barmhartigheid. Openbaring 4:11 bevestig, “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.”

3. Ruim elke dag tyd in om op God te fokus

Dit is baie belangrik om elke dag tyd in te ruim om op God te fokus. Party mense noem dit “stiltetyd”. Ander noem dit “gewyde tyd” want dit is die tyd wanneer ons onsself aan God wy. Sekeres verkies om dit soggens te doen, ander saans. Dit is nie belangrik wat u hierdie tyd noem of wanneer u dit doen nie. Wat belangrik is, is dat u gereeld tyd met God spandeer. Hoe moet ons hierdie tyd met God spandeer?

(a) Gebed. Gebed is om met God te praat. Praat met Hom oor jou bekommernisse en probleme. Vra Hom om u wysheid en leiding te gee. Vra Hom om in u behoeftes te voorsien. Vertel Hom hoe lief u vir Hom is en hoe u alles waardeer wat Hy vir u doen. Dit is waaroor gebed gaan.

(b) Lees die Bybel. Alhoewel u vanuit die Bybel in die kerk, Sondagskool en gedurende lesings geleer word, is dit nodig dat u die Bybel self lees en bestudeer. Alles wat u nodig het om ‘n suksesvolle Christelike lewe te lei, word in die Bybel vervat. Dit bevat God se leiding hoe om wyse besluite te neem, hoe om God se Wil te leer ken, hoe om ander te bedien en hoe om geestelik te groei. Die Bybel is God se Woord aan ons. Die Bybel is eintlik God se instruksies hoe ons, ons lewens moet lei, op ‘n wyse wat vir Hom aanvaarbaar en vir ons genoegsaam sal wees.

4. Ontwikkel verhoudings met mense wat u geestelik kan bystaan

1 Korinthiërs 15:33 leer ons, “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes.” Die Bybel waarsku ons teen die invloed wat “slegte” mense op ons kan hê. Deur tyd met ander, wat aan sondige aktiwiteite deelneem te spandeer, word ons aan versoekings blootgestel. Ons neem naderhand die karakters van sulke mense aan. Dit is derhalwe belangrik om in die gemeenskap van ander, wat die Here lief het en aan Hom getrou is, te verkeer.

Poog om ‘n vriend of twee te vind, miskien vanuit u kerk, wie u kan help en bystaan (Hebreërs 3:13; 10:24). Vra u vriende om u tot rekenskap te bring aangaande u stiltetyd, u aktiwiteite en u wandel met God. Vra of u dieselfde vir hulle kan doen. Dit beteken nie dat u al u vriende, wat nie die Here Jesus Christus as hul Verlosser ken nie, moet opgee nie. Wees nog steeds hul vriend en wees altyd lief vir hulle. Laat weet hulle eenvoudig dat Jesus u lewe verander het en dat u nie meer dieselfde dinge as voorheen kan doen nie. Vra God vir geleenthede om Jesus met u vriende te deel.

5. Word gedoop

Baie verstaan die Doop nie. Die word “doop” beteken onderdompeling in water. Doop is die Bybelse leerstelling om in die openbaar u nuwe geloof in Christus en u besluit om Hom te volg, te bevestig. Die aksie van onderdompeling in water is ‘n voorstelling van u begrawing met Christus. Die aksie om uit die water op te staan versinnebeeld Jesus se Opstanding. Om gedoop te word is om uself te vereenselwig met Jesus se dood, begrawing en opstanding (Romeine 6:3-4).

U word nie deur die doop gered nie. Die aksie van doop was nie u sondelas af nie. Die doop is slegs ‘n teken van gehoorsaamheid, ‘n openbare bevestiging van u geloof in Christus vir verlossing. Die doop is baie belangrik, want dit is ‘n teken van gehoorsaamheid en ‘n openbare bevestiging van u geloof in Christus en u getrouheid aan Hom. Indien u dink dat u gereed is om gedoop te word, praat gerus met u Leraar.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Ek het sopas my geloof in Jesus geplaas…wat nou?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries