settings icon
share icon
Vraag

Wat beteken dit dat ons op ‘wonderbaarlike wyse geskep’ is (Ps 139:14)?

Antwoord


Ps 139:14 verklaar, “Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker.” Die inhoud van hierdie teksvers gaan oor die ongelooflike aard van ons fisiese liggame. Die menslike liggaam is die mees komplekse en unieke organisme in die wêreld en dit spreek boekdele oor die verstand van ons Skepper. Elke aspek van die liggaam, tot die kleinste mikroskopiese sel, spreek daarvan dat dit op wonderbaarlike wyse geskep is.

Ingenieurs verstaan hoe om sterk, dog liggewig balke te ontwerp, deur die sterker materiaal aan die buitekant te plaas en die binnekant met ligte, swakker materiaal te vul. Dit word so gedoen, aangesien die grootste hoeveelheid spanning aan die oppervlakte van ‘n struktuur voorkom, wanneer normale buiging of spanning tydens hantering, plaasvind. ‘n Deursnit van die menslike gebeente wys dat die sterk materiaal aan die buitekant is en die binnekant word gebruik as ‘n fabriek vir verskillende bloedselle. As jy ‘n gesofistikeerde kamera ondersoek en let op die moontlikheid om meer of minder lig deur te laat en om outomaties te fokus oor langer en korter afstande, dan vind jy herhaaldelik namaaksels van die werkingvan die menslike oog. Ons het ook twee oogballe waarmee ons diepte persepsie kan peil en sodoende kan bepaal hoe ver ‘n voorwerp van ons af weg is.

Die menslike brein is ook ‘n ongelooflike orgaan, wonderbaarlik geskep. Dit het die moontlikheid om te leer, te redeneer en om so baie funksies van die liggaam soos hartklop, bloeddruk en asemhaling te beheer. Dit beheer ook balans om te stap, hardloop, staan en sit, dit alles terwyl dit op iets anders konsentreer. Rekenaars kan die menslike brein in berekeningskrag oortref, maar is primitief as dit by redeneringstake kom. Die brein het ook ‘n ongelooflike vaardigheid om aan te pas. In ‘n eksperiment waar mense brille opsit, wat die wêreld onderstebo laat lyk, kan hul breine vinnig die inligting weer interpreteer om te aanvaar dat die wêreld tog “regop” is. As ander weer geblinddoek word vir lang tye, word die “visiesentrum” van die brein gou vir ander funksies gebruik. Wanneer mense na ‘n huis naby die spoorlyn verhuis, word die geluid van die treine vinnig deur hul breine uitgesorteer en hulle raak spoedig aan die geraas gewoond.

Wanneer dit by minimalisme kom, is die menslike liggaam weereens wonderbaarlik geskep. Wanneer ‘n replika van die liggaam gemaak moet word en elke detail benodig word, is daardie inligting in die dubbel-heliks DNS string in die nukleus van elk van die biljoene selle in die liggaam. Ook die sisteem van inligting en beheer van die senustelsel is wonderbaarlik kompak in vergelyking met die mens se lompe ontdekking van drade en optiese kabels. Elke sel is ‘n klein fabriekie en die mens kon dit nog nie volledig begryp nie. Soos mikroskope al meer en meer kragtiger geword het, het die ongelooflike vergesig van die menslike sel in fokus begin kom.

Neem byvoorbeeld die enkele bevrugte sel van die nuwe menslike lewe in ag. Vanuit hierdie een sel in die baarmoeder ontwikkel al die verskillende soorte weefsels, organe en sisteme en almal werk op presies die regte tyd saam in ‘n ongelooflike gekoördineerde proses. ‘n Voorbeeld is die opening in die septum, tussen die twee ventrikels in die hart van ‘n pasgebore baba. Hierdie opening gaan op presies die regte tyd gedurende die geboorteproses toe, om suurstof te voorsien deur die bloed vir die longe. Dit gebeur nie terwyl die baba in die baarmoeder is nie, aangesien dit suurstof deur die naelstring ontvang.

Verder is die liggaam se imuunstelsel by magte om so baie vyande te beveg en herstel weer self, selfs van die kleinste DNS deeltjies tot die grootste breuke van bene. Ja, daar is siektes wat die liggaam oorkom soos ons ouer word en ons het geen idee hoe baie kere in ons lewens ons immuunsisteme ons van die dood red nie.

Die funksies van die menslike liggaam is ook ongelooflik. Die vaardigheid om groot, swaar voorwerpe te hanteer en ook om ‘n delikate voorwerp so versigtig te hanteer dat dit nie breek nie, is ook wonderlik. Ons kan herhaaldelik met pyl en boog ‘n veraf teiken tref, ‘n rekenaarsleutelbord gebruik, sonder om aan die sleutels te dink, kruip, loop, hardloop, omdraai, klim, swem, bolmakiesie slaan en eenvoudige take doen, soos om ‘n gloeilamp uit te skroef, tande te borsel en skoenveters te knoop – sonder om te dink. Hierdie is werklik eenvoudige dinge, maar die mens moet steeds ‘n robot ontwerp en programmeer, wat in staat is om so ‘n wye reeks van take en bewegings uit te voer.

Die funksie van die verteringstelsel en soortgelyke organe, die klop van die hart, die vorming en funksies van senuwees en bloedvate, die suiwering van die bloed deur die niere, die kompleksiteit van die binne- en middeloor, die smaak- en proe-organe en so baie ander dinge wat ons min van verstaan – elkeen is ‘n wonder en bokant die mens se vermoë om te dupliseer. Werklikwaar, ons is wonderbaarlik geskape. Hoe wonderlik is dit om die Skepper te ken – deur Sy Seun, Jesus Christus – en om nie net Sy kennis nie, maar ook Sy liefde te kan beleef en te bewonder (Ps 139:17-24).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat beteken dit dat ons op ‘wonderbaarlike wyse geskep’ is (Ps 139:14)?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries