settings icon
share icon
Vraag

Hoe kan ek ‘n Christen word?

Antwoord


Die eerste stap om ‘n Christen te word is om te verstaan wat die term “Christen” beteken. Die oorsprong van die term “Christen” kom uit die stad Antiochië in die eerste eeu nC (sien Handelinge 11:26). Dit is moontlik dat die term “Christen” aanvanklik as ‘n belediging bedoel was. Die woord beteken eintlik “klein Christus”. Deur die eeue egter, het gelowiges in Christus die term “Christen” aangeneem en dit gebruik om hulleself as navolgers van Jesus Christus te identifiseer. ‘n Eenvoudige definisie van ‘n Christen is ‘n persoon wat ‘n volgeling van Jesus Christus is.

Waarom behoort ek ‘n Christen te word?
Jesus Christus het verklaar dat Hy “nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee as losprys vir baie” (Markus 10:45). Dan onstaan die vraag – waarom is dit nodig om ons los te koop? Die gedagte van ‘n losprys is ‘n betaling wat gemaak moet word vir die vrylating van ‘n persoon. ‘n Losprys word gewoonlik vereis in omstandighede van menseroof, wanneer iemand ontvoer en aangehou word totdat ‘n losprys vir die persoon se vrylating betaal is.

Jesus het ons losprys betaal om ons te bevry van slawerny! Slawerny van wat? Slawerny van sonde en die gevolge daarvan, fisiese dood gevolg deur ewige skeiding van God. Waarom was dit vir Jesus nodig om hierdie losprys te betaal? Omdat ons almal gesondig het (Romeine 3:23), en dus verdien om deur God geoordeel te word (Romeine 6:23). Hoe het Jesus ons losprys betaal? Deur met Sy dood aan die kruis die straf vir ons sonde op Hom te neem (1 Korinthiërs 15:3; 2 Korinthiërs 5:21). Hoe kon Jesus se dood genoegsame betaling vir al ons sonde wees? Jesus was God in ‘n menslike liggaam, God het na die aarde gekom om een van ons te word sodat Hy met ons kon identifiseer en vir ons sonde kon sterf (Johannes 1:1,14). As God, was Jesus se dood van oneindige waarde, genoeg om vir die sonde van die hele wêreld te betaal (1 Johannes 2:2). Jesus se opstanding na Sy dood het bewys dat Sy dood volkome betaling was, dat Hy werklik sonde en dood oorwin het.

Hoe kan ek ‘n Christen word?
Dit is die maklikste deel. Vanweë Sy liefde vir ons, het God dit buitengewoon eenvoudig gemaak om ‘n Christen te word. Al wat jy hoef te doen is om Jesus as jou Verlosser aan te neem, om Sy dood aan die kruis as volkome betaling vir jou sonde te aanvaar (Johannes 3:16), om Hom alleen as jou Verlosser te vertrou (Johannes 14:6; Handelinge 4:12). Om ‘n Christen te word gaan nie net oor rituele, kerktoe gaan, of om sekere dinge te doen en ander dinge uit te los nie. Om ‘n Christen te word gaan alles daaroor om ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus te hê. ‘n Persoonlike verhouding met Jesus Christus, deur geloof, is wat van ‘n mens ‘n Christen maak.

Is jy gereed om ‘n Christen te word?
Wanneer jy gereed is om ‘n Christen te word deur Jesus Christus as jou Verlosser aan te neem, hoef jy net te glo. Begryp jy en glo jy dat jy gesondig het en God se oordeel verdien? Begryp jy en glo jy dat Jesus jou straf op Homself geneem het, in jou plek gesterf het? Begryp jy en glo jy dat Sy dood volkome opoffering was om vir jou sonde te betaal? Indien jou antwoorde op hierdie drie vrae “ja” is, plaas dan eenvoudig jou vertroue in Jesus as jou Verlosser. Ontvang Hom, in die geloof, vertrou ten volle op Hom alleen. Dit is al wat nodig is om ‘n Christen te word!

Het jy ‘n besluit vír Jesus Christus geneem as gevolg van wat jy hier gelees het? Indien wel, druk die “Ek het Jesus Christus vandag aanvaar” - knoppie hieronder.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe kan ek ‘n Christen word?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries