Vraag
Hoe en wanneer is die Bybel gekanoniseer (voltooi)?
Antwoord
Die term “kanoniseer” word gebruik as ‘n beskrywing dat die boeke van die Bybel geestelik geïnspireer is. Die probleem is dat die Bybel-self nie vir ons ‘n lys gee wat sê watter boeke in die Bybel ingesluit moet word nie. Die kanonisering van die Bybel was ‘n proses wat deur die Joodse priesters en skrifgeleerdes begin en toe later deur die vroë Christene voortgesit is, maar uiteindelik was dit net God wat besluit het watter boeke in die Bybel toegelaat sou word. ‘n Boek van Heilige Skrif word gekanoniseer die oomblik wanneer God die skrywer daarvan inspireer. Dit was eenvoudig net God se krag wat mense kon oorreed watter boeke wel in die Bybel ingesluit moes word.
Met die Ou Testament se kanoniseering was daar baie minder polemiek (stryd) as met die Nuwe Testament. Hebreeuse gelowiges het God se boodskappers herken en hulle skrywes as deur God geïnspireerd aanvaar. Hoewel daar beslis debat gevoer is oor die kanoniseering van die Ou Testament, was daar teen A.D. 250 byna universele konsensus oor die boeke van die Hebreeuse Heilige Skrif, of dan liewers die Ou Testament. Waaroor daar nie eenstemmigheid was nie is die Apokriewe boeke, hierdie debat duur egter vandag steeds voort. Die oorgrote meerderheid van Hebreeuse geleerdes beskou die Apokriewiese boeke as goeie geskiedkundige en godsdienstige geskrifte, maar nie op die selfde vlak as die Hebreeuse Heilige Skrif nie.
Die Nuwe Testament se proses van aanvaarding en erkenning het begin tydens die eerste eeu van die Christelike kerk. Daar was sommer vroeg al ooreengekom dat sekere van die boeke ingesluit moes word. Paulus het Lukas se skrywe net so gesaghebbend as die Ou Testamentiese geskrifte erken(1 Timoteus 5:18; sien ook Deuteronomium 25:4 en Lukas 10:7). Petrus erken Paulus se briewe as Heilige Skrif (2 Petrus 3:15-16). Sommige van van die Nuwe Testament se boeke is vroeg al tussen die gemeentes versprei (Kolossense 4:16; 1 Tessalonisense 5:27). Klemens van Rome vermeld ten minste agt van die Nuwe Testament se boeke (A.D. 95). Ignatius van Antiochië erken ongeveer sewe boeke (A.D. 115).
Polukarpus, ‘n dissipel van die apostel Johannes, erken 15 boeke (A.D. 108). Later noem Irenaeus 21 boeke (A.D. 185) Hippolitus erken 22 boeke (A.D. 170 – 235). Die Nuwe Testamentiese boeke wat kritiek ontvang het was Hebreërs, Jakobus, 2 Petrus, asook 2 en 3 Johannes.
Die eerste kanon was die Muratoriese Kanon, wat in A.D. 170 saamgestel is. Hierdie Muratoriese Kanon het al die Nuwe Testamentiese boeke ,behalwe Hebreërs, Jakobus en 3 Johannes, ingesluit. In A.D. 363 het die Konsilie van Laodicea aangekondig dat net die Ou Testament (met die Apokriewe) en die 27 boeke van die Nuwe Testament in die kerk gelees mag word. Die Konsilie van Hippo (A.D. 393) en die Konsilie van Kartago (A.D. 397) het al 27 die boeke van die Nuwe Testament aanvaar en as gesaghebbend erken.
Hierdie konsilies het die volgende beginsels toegepas om sodoende te bepaal watter Nuwe Testamentiese boeke wel deur God geïnspireerd was: 1) Was die skrywer ‘n apostel of het die skrywer nou met ‘n apostel saamgewerk? 2) Was die boek deur die oorgrote meerderheid van Christus se liggaam (kerk) aanvaar? 3) Het die leer van die boek met die ortodokse dogma ooreengekom? 4) Het die boek aan hoë morele standaarde voldoen en het die geestelike waardes die werking van die Heilige Gees weerspieël?
Weereens is dit van uiterste belang dat daar in gedagte gehou moet word dat die kerk nie besluit het watter boeke by die kanon ingesluit moes word en watter nie. Geen vroeë konsilie het die kanon vasgestel nie. Dit was God en God alleen wat besluit het watter boeke in die Bybel moes wees. God het bloot sy besluit aan sy kerk bekend gemaak. Die menslike proses om die boeke van die Bybel te versamel was altyd gebrekkig, maar ten spyte van ons onkunde en hardkoppigheid, het God in sy soewereiniteit die vroeë kerk gelei om die boeke wat Hy geïnspireer het, te erken.
English
Hoe en wanneer is die Bybel gekanoniseer (voltooi)?