settings icon
share icon
Vraag

Kondoneer die Bybel slawerny?

Antwoord


Daar is ‘n tendens om na slawerny te kyk as iets van die verlede. Maar daar is na raming vandag meer as 12 miljoen mense in die wêreld wat aan slawerny onderhewig is: gedwonge arbeid, sekshandel, oorerflike eiendom, ens. As mense wat vrygemaak is van die slawerny van sonde, behoort navolgers van Jesus Christus op die voorpunt te wees om menslike slawerny in die wêreld van vandag te beëindig. Die vraag is egter, waarom spreek die Bybel nie sterk teen slawerny nie? Waarom lyk dit of die Bybel oënskynlik menslike slawerny ondersteun?

Die Bybel veroordeel slawerny nie spesifiek nie. Dit skryf voor hoe slawe behandel behoort te word (Deuteronomium 15:12-15; Efesiërs 6:9; Kolossense 4:1), maar verbied nie slawerny heeltemal nie. Baie mense sien dit as dat die Bybel alle vorms van slawerny kondoneer. Wat hulle egter nie verstaan nie is dat slawerny in Bybelse tye baie verskil het van die slawerny wat die afgelope paar eeue in baie dele van die wêreld toegepas is. Die slawerny in die Bybel was nie uitsluitlik op ras gebasseer nie. Mense was nie slawe gemaak vanweë hulle nasionaliteit of velkleur nie. In Bybelse tye was slawerny meer ‘n kwessie van sosiale status. Mense het hulleself as slawe verkoop wanneer hulle nie hul skuld kon betaal of hulle families kon versorg nie. In die Nuwe Testamentiese tye was geneeshere, regsgeleerdes, en selfs politici soms slawe van iemand anders. Sommige mense het inderdaad verkies om slawe te wees aangesien al hulle behoeftes dan deur hulle meesters voorsien word.

Die slawerny van die afgelope paar eeue was dikwels uitsluitlik op velkleur gebasseer. In die Verenigde State was baie swart mense as slawe gesien vanweë hulle afkoms; baie slawe-eienaars het werklik geglo dat swart mense minderwaardige mense was. Die Bybel veroordeel beslis rasgebasseerde slawerny. Dink aan die slawerny wat die Israeliete in Egipte ervaar het. Hulle was slawe, nie uit eie keuse nie, maar omdat hulle Israeliete was (Exodus 13:14). Die plae wat God op Egipte uitgestort het bewys hoe God oor slawerny op grond van ras voel (Exodus 7-11), Exodus 11:7, “…dat julle kan weet dat die HERE ‘n onderskeid maak tussen die Egiptenaars en die Israeliete.” Dus, ja, die Bybel veroordeel wel sommige vorms van slawerny. Terselfdertyd blyk dit dat die Bybel ander vorms van slawerny toelaat. Die hoofsaak is dat die slawerny wat in die Bybel toegelaat word geensins vergelyk kan word met die rasgebonde slawerny wat ons wêreld die afgelope paar eeue geteister het nie.

Verder, beide die Ou en die Nuwe Testamente veroordeel die toepassing van “mense-roof” wat in Afrika in die 19de eeu plaasgevind het. Afrikane was bymekaar gemaak deur slawe-jagters, wat hulle aan slawe-handelaars verkoop het, wat hulle na die Nuwe Wêreld (Amerika) geneem het om op plantasies en plase te werk. Hierdie gebruik is vir God afskuwelik. Die straf vir so ‘n misdaad in die Mosaïese Wet was die dood: “En hy wat ‘n mens steel en hom verkoop—of as hy in sy besit gevind word—dié moet sekerlik gedood word” (Exodus 21:16). Ook word slawe-handelaars in die Nuwe Testament gereken by die “goddelose en sondaars” en is in dieselfde kategorie as vadermoordenaars en moerdermoordenaars, moordenaars, hoereerders en sodomiete, en leuenaars en meinediges (1 Timotheus 1:8-10).

‘n Ander belangrike punt is dat die doel van die Bybel is om die weg na saligheid aan te wys, nie om die samelewing te hervorm nie. Die Bybel nader dikwels geskilpunte van binne na buite. As ‘n persoon die liefde, seën en genade van God ervaar deur Sy verlossing te ontvang, sal God sy siel verander, ook die manier waarop hy dink en handel. Iemand wat God se gawe van verlossing en bevryding van die slawerny van sonde ervaar het, terwyl God sy siel hervorm, sal besef dat om iemand anders te verslaaf verkeerd is. Iemand wat waarlik God se genade ervaar het, sal op sy beurt weer genade aan ander bewys. Dit is die Bybel se voorskrif om slawerny te beeïndig.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Kondoneer die Bybel slawerny?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries