settings icon
share icon
Vraag

Is groeps gebed belangrik? Is die gebed van ‘n groep beter en meer kragtig as die gebed van ‘n individu?

Antwoord


Groeps gebed is ‘n baie belangrike deel van die kerk, net so belangrik soos om God te loof en prys, soos die volg van korrekte leerstellings, die hou van nagmaal en bymekaarkoms van gelowiges. Die vroë kerk het gereeld bymekaar gekom om deur die apostels geleer te word, nagmaal te hou en om dan ook saam te bid (Handelinge 2:42). Wanneer ons saam bid met ander gelowiges kan die uitkoms baie doeltreffend wees. Groeps gebed stig en verenig ons in dieselfde geloof. Dieselfde Heilige Gees wat binne elke gelowige is veroorsaak blydskap in ons harte wanneer die Here en Verlosser geloof en geprys word en dit vorm ‘n hegte band tussen gelowiges.

Vir die mense wat alleen is en wat sukkel bied dit groot aanmoediging aan hulle om te sien hoe die ander hulle verhef tot by die troon van genade. Wanneer ons vir ander mense gebeds-voorspraak maak wakker dit by ons ‘n ware omgee vir ander en bou dit in ons ‘n liefde vir ons naaste. Groeps gebed wys ook die mees innerlike wese van die persone wat deelneem (bid). In gebed, kom ons na God in nederigheid (Jakobus 4:10), waarheid (Psalms 145:18), gehoorsaamheid (1 Johannes 3:21-22), met danksegging (Filippense 4:6) en vertroue (Hebreërs 4:16). Maar dit is jammer dat daar mense is wat somtyds groeps gebed gebruik as ‘n platvorm om hul woorde nie na God te rig nie, maar dat die geleentheid gebruik word om die mense wat aanhoor te beindruk. Jesus waarsku ons in Matteus 6:5-8 teen hierdie en sê dat ons nie lang uitgerekte gebede moet bid nie en ook nie probeer om ander te beindruk nie want dit is skynheilig.

Daar is geen vers of gedeelte in die Skrif wat vertel dat groeps gebede meer kragtig is as individuele gebede nie en daarom moet dit nie gesien word as ‘n metode om God te laat “beweeg” nie of om iets van God te “kry” nie. Te veel Christene sien gebed as om “iets van God te kry” en baie keer word groeps gebede aangewend om ‘n “lys” van versoeke aan God te rig. Die Bybel vertel ons dat gebed die behoefte is om in ‘n intieme gesprek met ons heilige, perfekte en regverdige God te wees. Dat ons God na Sy skeppings sal luister en dit sal veroorsaak dat ons Hom loof en prys in oormaat (Psalms 27:4; 63:1-8), dit lei tot innerlike berou en geloofsbelydenis (Psalms 51; Lukas 18:9-14), dit genereer die uitstorting van dankbaarheid en danksegging (Filipense 4:6; Kolossense 1:12) en veroorsaak bemiddeling vir ander (2 Tessalonisense 1:11; 2:16).

Gebed is dus om in ooreenstemming met God se plan te wees en nie om te probeer om God se wil by ons wil in te pas nie. Soos ons, ons eie begeertes laat vaar en ons onderwerp aan God se wil, wat in elk geval ons behoeftes beter ken as onsself, “want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra” (Mattheus 6:8), sal ons gebede die hoogste vlak bereik. Gebede wat geoffer word aan die onderwerping van God se wil sal altyd positief beantwoord word of dit nou een of een duisend mense is wat bid.

Die idee dat groeps gebede ‘n beter kans staan om God se hand te beweeg het hoofsaaklik ontstaan uit die verkeerdelike interpretasie van Mattheus 18:19-20, “Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle." Hierdie verse kom uit die gedeelte wat handel oor hoe die kerk dissipline moet toepas teenoor ‘n lidmaat wat sondig. Om hierdie verse te sien as ‘n belofte aan gelowiges vir ‘n ope tjek, net omdat hulle saamstem oor ‘n versoek aan God, is verkeerd en pas nie in die konteks van kerk dissipline nie. Dit ontken Skrif, asook God se soewereiniteit.

Netso, om te glo dat wanneer “twee of drie saamkom” dat daar spesiale en abnormale krag sal wees wat gebede verhoor is nie Bybels nie. Natuurlik is Jesus by wanneer twee of meer bid, maar Hy is ook daar wanneer net een persoon alleen bid. Groeps gebed is wel belangrik omrede dit eenheid veroorsaak (Johannes 17:22-23) en is ‘n belangrike aspek om gelowiges aan te moedig (1 Tessalonisense 5:11) en lei tot liefde vir mekaar asook goeie dade (Hebreërs 10:24).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is groeps gebed belangrik? Is die gebed van ‘n groep beter en meer kragtig as die gebed van ‘n individu?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries