settings icon
share icon
Vraag

Hoekom is daar so baie verskillende Christelike interpretasies?

Antwoord


Die Skrif sê dat “Daar is net één Here, één geloof, één doop” (Ef 4:5). Hierdie gedeelte beklemtoon die eenheid wat in die liggaam van Christus behoort te bestaan, want daar is net “één Gees” wat in ons woon (vers 4). In vers 3 vra Paulus vir beskeidenheid, vriendelikheid, geduldigheid, verdraagsaamheid en liefde – dit is alles nodig om eenheid te bewaar. Na aanleiding van 1 Kor 2:10-13 ken die Heilige Gees “die verborge dinge van God” (vers 11), wat Hy deur die Gees bekend gemaak het (vers 10) en leer dit (vers 13) aan hulle in wie Hy woon. Hierdie werking van die Heilige Gees word invulling/ontvanklikheid genoem.

In ‘n perfekte wêreld sou elke gelowige die Bybel pligsgetrou (2 Tim 2:15) , biddend en in afhanklikheid, deur die aanraking van die Heilige Gees bestudeer. Soos duidelik gesien word, is dit nie ‘n perfekte wêreld nie. Nie almal wat die Heilige Gees besit, luister na Hom nie. Daar is Christene wat die Heilige Gees bedroef (Ef 4:30). Vra enige opvoeder – selfs die beste klas-onderwyser het sy deel van eiewyse studente, wat weier om te leer, ongeag wat die onderwyser ookal probeer. Dus, een rede waarom verskillende mense verskillende interpretasies van die Bybel het, is gewoonweg dat sommige nie na die Onderwyser – die Heilige Gees - luister nie. Vervolgens is daar nog ‘n paar ander redes vir die wyd uiteenlopende geloofsverskille tussen diegene wat die Bybel bestudeer:

Ongeloof: Dit is ‘n feit dat baie wat beweer dat hul Christene is, nooit wedergebore is nie. Hulle dra die naam van “Christen”, maar daar was nooit ware hartsverandering nie. Baie glo nie eers dat die Bybel waar is nie, maar gee so voor en verkondig dit. Hulle maak asof hulle God verkondig, maar lewe in ongeloof. Die meeste valse interpretasies van die Skrif kom van hierdie oorsprong.

Dit is onmoontlik vir ‘n ongelowige om die Skrif korrek te interpreteer. “Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word” (1 Kor 2:14). ‘n Ongeredde mens kan die Bybelse waarhede nie verstaan nie. Hy het geen ontvanklikheid nie. Verderaan, selfs nie ‘n pastor of teoloog waarborg iemand se redding nie.

‘n Voorbeeld van die chaos wat deur ongeloof ontstaan, word in Joh12:28-29 gevind. Jesus bid tot die Vader, “Vader, verheerlik U Naam!” Die Vader antwoord met ‘n hoorbare stem vanuit die hemel, wat almal in die nabyheid kan hoor. Let op die verskil in interpretasie: “Die mense wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ‘n donderslag was. Ander het gesê; “’n Engel het met Hom gepraat.” Almal het dieselfde ding gehoor – ‘n verstaanbare berig uit die hemel – tog het elkeen gehoor wat hy wou.

Tekort aan opleiding:
Die apostel Paulus waarsku teen diegene wat die Skrif verkeerd interpreteer. Hy skryf hul valse lerings deels toe aan die feit dat hulle “oningeligte en onstandvastige” mense is (2 Pet 3:16). Aan Timoteus is gesê: “Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ‘n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, ‘n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig” (2 Tim 2:15). Daar is geen kortpad om die Bybel suiwer te interpreteer nie; ons is genoodsaak om dit te bestudeer.

Karige skrifverklaring:
Baie foute is gemaak, as gevolg van ‘n alledaagse misstap deur nie goeie skrifverklaring (die wetenskap om Skrif uit te lê) te gebruik nie. Deur ‘n vers uit sy onmiddellike konteks te neem, kan groot skade aan die betekenis van die vers berokken. Deur die wyer konteks van die hoofstuk of boek te ignoreer of deur nie die historiese/kulturele agtergrond te gebruik nie, kan ook tot probleme lei.

Onkunde oor die Woord van God as geheel:
Apollos was ‘n kragtige en welsprekende prediker, maar hy het net Johannes se doop geken. Hy was onkundig oor Jesus en Sy voorsiening van verlossing en dus was sy boodskap onvoldoende. Akwila en Priscilla het “hom huis toe geneem en vir hom die leer van God nog duideliker gemaak” (Hand 18:24-28). Daarna het Apollos Jesus Christus verkondig. Sommige groepe en individue van vandag verkondig die boodskap onvoldoende, omdat hulle net op sekere gedeeltes konsentreer en ander uitsluit. Hulle slaag nie daarin om Skrif met Skrif te vergelyk nie.

Selfsugtigheid en trots:
Jammerlik om te sê dat baie Bybelse interpretasies op ‘n individu se eie persoonlike vooroordele en geliefde leerstellings gebaseer is. Sommige mense sien ‘n geleentheid vir persoonlike bevordering deur ‘n “nuwe perspektief” van die Skrif te verkondig. (Sien die beskrywing van valse leraars in die brief van Judas.)

Mislukte groei:
Wanneer Christene nie groei soos hulle veronderstel is nie, benadeel dit die hantering van die Woord van God. “Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste kos nie, want julle kon dit nog nie verteer nie. En julle kan dit ook nou nie verteer nie, want julle is nog wêreldse mense (1 Kor 3:2-3). ‘n Christen wat nog nie tot volwasse groei gekom het nie, is nog nie vir die “vleis” van die Woord van God opgewasse nie. Let daarop dat die toets van die Korintiërs se vleeslikheid ‘n skeiding in hulle kerk is (vers 4).

Onnodige klemplasing op tradisie:
Sommige kerke beweer dat hulle die Bybel glo, maar hulle interpretasies word altyd gesien in die lig van bestaande tradisies van hulle kerk. Waar tradisie en die lering van die Bybel in konflik kom, kry tradisie voorrang. Dit ontken effektiewelik die outoriteit van die Woord en gee oppergesag aan die kerkleierskap.

Aangaande die wesenlike, is die Bybel uiters duidelik. Daar is niks twyfelagtigs oor die godheid van Christus, die werklikheid van hemel en hel en redding uit genade deur geloof nie. Daar is egter minder belangrike onderwerpe waaroor die Skrif nie so duidelik is nie en dit lei dan ook tot verskillende interpretasies. Daar is byvoorbeeld geen spesifieke Bybelse opdrag oor die herhaling van die Nagmaal of die tipe musiek wat gebruik moet word nie. Om die waarheid te sê, is daar ernstige Christene wat verskillende interpretasies oor gedeeltes, in verband met hierdie omstrede onderwerpe het.

Die belangrike ding is om dogmaties op te tree waar die Skrif betrokke is en om dogmatiek te vermy, waar die Skrif nie geraak word nie. Kerke behoort die model van die vroeë kerk in Jerusalem te volg: “Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede” (Hand 2:42). Daar was eenheid in die vroeë kerk, omdat hulle standvastig was volgens die apostels se lering. Daar sal weer eenheid in die kerk wees, as ons terugkeer na hierdie lering en die ander doktrines, giere en foefies wat in die kerk ingekruip het, prysgee.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoekom is daar so baie verskillende Christelike interpretasies?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries