settings icon
share icon
Vraag

Hoe ontvang ek God se vergifnis?

Antwoord


Handelinge 13:38 bevestig, “Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word.”

Wat is vergifnis en hoekom het ek dit nodig?

Die woord “vergewe” beteken om die rekord skoon te vee, om vry te stel, om skuld af te los. Wanneer ons iemand te na kom, soek ons hulle vergifnis sodat die verhouding herstel kan word. Niemand word vergewe omdat hy of sy dit verdien nie. Niemand verdien om vergewe te word nie. Vergifnis is ‘n daad van liefde en genade. Vergifnis is ‘n besluit om iemand nie verantwoordelik te hou vir ‘n daad nie, ongeag wat daardie persoon aan jou gedoen het.

Die Bybel leer ons dat ons almal God se vergifnis nodig het. Ons het almal gesondig. Prediker 7:20 sê, “want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie.” 1 Johannes 1:8 sê, “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.” Alle sonde is eintlik rebellie teen God (Psalm 51:4). Daarom het ons God se vergifnis nodig. As ons sondes nie vergewe word nie, sal ons vir ewig die gevolge dra (Matthëus 25:46; Johannes 3:36).

Hoe kan ek vergewe word?

Gelukkig is God liefdevol en genadig – gretig om ons sondes te vergewe! 2 Petrus 3:9 leer ons, “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom”. Dit is God se begeerte om ons te vergewe en Hy het daarvoor voorsiening gemaak.

Die enigste regverdige straf vir ons sondes is die dood. Die eerste gedeelte van Romeine 6:23 verklaar: “Want die loon van die sonde is die dood…” Die ewige dood is die nagevolg van ons sonde. God het, in Sy perfekte plan, vlees geword – Jesus Christus (Johannes 1:1,14). Jesus het aan die kruis gesterf en daardeur ons oordeel, die dood, op Hom geneem. 2 Korinthiërs 5:21 leer ons, “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” Jesus het ons straf, deur middel van die kruisdood, op Hom geneem! As God, het Jesus se dood vergifnis vir die ganse wêreld verseker. 1 Johannes 2:2 bevestig, “En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.” Jesus het uit die dood opgestaan en daardeur Sy oorwinning oor die dood en sonde bevestig. (1 Korinthiërs 15:1-28). Prys die Here! Deur die kruisdood en opstanding van Jesus Christus word die tweede helfte van Romeine 6:23 waar, “…maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.”

Soek jy na vergifnis van jou sondes? Voel jy 'n knaende skuldgevoel wat jy nie kan afskud nie? Vergifnis van sonde is beskikbaar indien jy in Jesus Christus as jou Verlosser glo. Efesiërs 1:7 sê, “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade”. Jesus het ons skuld namens ons betaal, sodat ons vergewe kan word. Al wat jy hoef te doen is om vir God te vra om jou te vergewe, deur Jesus, en glo dat Jesus deur sy dood vir jou vergifnis betaal het – en God sal jou vergewe! Johannes 3:16-17 bevat die wonderlike boodskap, “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.”

Vergifnis – is dit rêrig so maklik?

Ja, dis so maklik! Jy kan nie God se vergifnis verdien nie. Jy kan nie daarvoor betaal nie. Jy kan dit slegs deur geloof en deur Sy genade ontvang. As jy Jesus Christus as jou Verlosser wil aanneem, bied ons jou 'n voorbeeld van 'n gebed hieronder. Onthou, om hierdie gebed of enige ander gebed te bid kan jou nie red nie. Slegs vertroue op Jesus Christus kan jou red van sonde. Hierdie gebed is slegs 'n manier om vir God te sê dat jy in Hom glo en om vir Hom dankie te sê dat Hy voorsiening gemaak het vir jou vergifnis. “Here, ek weet ek het teen U gesondig en dat ek U straf daarvoor verdien. Maar U Seun, Jesus Christus, het hierdie straf, wat ek verdien, op Hom geneem sodat ek, deur in Hom te glo, vergewe mag word. Dankie vir U wonderlike genade en vergifnis! Amen!”

Het jy ‘n besluit vír Jesus Christus geneem as gevolg van wat jy hier gelees het? Indien wel, druk die “Ek het Jesus Christus vandag aanvaar” - knoppie hieronder.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe ontvang ek God se vergifnis?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries