settings icon
share icon
Vraag

Wat is die reddingsplan?

Antwoord


Is jy honger? Nie ’n fisiese honger nie, maar ’n honger vir iets meer in jou lewe? Voel dit of daar iets diep binne-in jou is wat nooit bevredig word nie? Indien wel, Jesus is die weg! Jesus het gesê: “Ek is die brood van die lewe; Ek gee die ewige lewe vir mense. As iemand na my toe kom en vat wat ek vir hom gee, sal hy geestelik heeltemal versadig word. As hy My vertrou, sal hy nooit weer geestelik dors kry nie” (Johannes 6:35).

Is jy verward? Soek jy gedurig na ’n pad of sin in die lewe? Voel dit asof iemand die ligte afgesit het en jy kan nie die skakelaar kry nie? Dan is Jesus die weg! Jesus het verkondig: “Wat lig beteken vir iemand wat in die pikdonker sit, beteken ek vir mense op geestelike gebied. Daarom sal iemand wat My volg se lewe nie sinloos wees soos dié van iemand wat in die pikdonker rondstrompel nie. Hy sal sy lewe sinvol kan leef omdat hy sal kan sien wat om te doen om God tevrede te stel” (Johannes 8:12).

Voel dit ooit asof die lewe jou uitgesluit het? Het jy al verskeie deure oopgemaak net om leegheid en betekenisloosheid daar agter te kry? Is jy op soek na die ingang tot ’n vervulde lewe? Indien wel, Jesus is die weg! Jesus het gesê: “Ek is vir julle soos ’n hek vir die skape. Ek is die hek deur wie julle na die weivelde van vrede en vriendskap met God kan stap. Deur My kry julle alles wat julle geestelik nodig het. Enigiemand wat sê dat julle op ’n ander manier by God kan uitkom, gaan julle net op ’n pynlike pad sit; die pad hel toe!” (Johannes 10:9).

Laat ander mense jou gedurig in die steek? Is jou verhoudings oppervlakkig en leeg? Voel dit asof almal jou uitbuit? Indien wel, Jesus is die weg! Jesus het gesê: “Ek is vir Christene wat ’n herder vir sy skape is. Wat ek bedoel, is dit: die herder is bereid om alles te gee ter wille van sy skape, ook sy lewe. Hy sal liewers self doodgaan as dat hy sal toelaat dat sy skape iets oorkom… Ek is vir almal wat My volg soos die beste herder van wie hulle kan droom. Daar is ’n sterk verhouding tussen My en elke gelowige. Ons ken mekaar” (Johannes 10:11, 14).

Wonder jy wat gebeur as hierdie lewe verby is? Is jy moeg daarvoor om ’n lewe te leef vir goed wat verrot of roes? Twyfel jy soms of die lewe enigsins betekenis het? Wil jy graag lewe na jou dood? Indien wel, Jesus is die weg! Jesus het verklaar: “Ek is die Een wat mense laat opstaan uit die dood en aan hulle die lewe gee wat nooit ophou nie. As iemand waarlik ’n Christen is, kan hy mos nooit geestelik doodgaan nie. Al sterf sy liggaam, het hy nog die ewige lewe. Wie op My vertrou en die ewige lewe het, gaan nooit regtig dood nie” (Johannes 11:25-26).

Wat is die weg? Wat is die waarheid? Wat is die lewe? Jesus het geantwoord: “Ek is die ‘pad’ en my Vader die ‘adres’. Wie hierdie pad loop, kom by die ware lewe uit. As iemand ’n ander pad loop, sal hy nooit by my Vader uitkom nie” (Johannes 14:6).

Die honger wat jy voel is ’n geestelike honger wat slegs deur Jesus bevredig kan word. Jesus is die enigste een wat die donkerte kan laat verdwyn. Jesus is die hek na ’n bevredigende lewe. Jesus is die vriend en herder na wie jy gesoek het. Jesus is die lewe – in hierdie wêreld en die een hierna. Jesus is die weg vir redding!

Die rede hoekom jy honger voel, hoekom jy verlore voel in die duisternis, hoekom jou lewe betekenisloos is, is omdat jy afgesonderd is van God. Die Bybel sê dat almal gesondig het en daarom nie lewe tot Sy eer nie. (Prediker 7:20; Romeine 3:23). Die leegheid wat jy in jou hart voel word veroorsaak deur die afwesigheid van God in jou lewe. Ons is geskape om ’n verhouding met God te hê, maar omdat ons gesondig het, is daardie verhouding verbreek. Om dit nog erger te maak, ons sonde veroorsaak dat ons vir ewig van God afgesonder sal wees – hierdie lewe, sowel as die volgende een (Romeine 6:23; Johannes 3:36).

Hoe kan hierdie probleem opgelos word? Jesus is die weg! Jesus het ons sondes op Hom geneem (2 Korintiërs 5:21). Jesus het in ons plek gesterf (Romeine 5:8) en daarmee die straf wat ons verdien, op Hom geneem. Jesus het drie dae later uit die dood opgestaan en sodoende Sy oorwinning oor sonde en die dood bewys (Romeine 6:4-5). Hoekom het Hy dit gedoen? Jesus het hierdie vraag self beantwoord: “As jy regtig jou liefde wil ‘toets’, toets dit hieraan: liefde beteken om bereid te wees om doodgemaak te word ter wille van jou vriende, net omdat hulle jou vriende is” (Johannes 15:13).

Jesus het gesterf sodat ons kan lewe. Wanneer ons, ons geloof in Jesus plaas deur te glo dat sy dood vir ons sondeskuld betaal het, word al ons sondes vergewe en skoon gewas. Dan word ons geestelike honger bevredig. Die ligte gaan aan. Ons het toegang tot ’n geestelik vervulde lewe. Ons sal ons beste vriend en goeie herder ken. Ons sal ook weet dat ons ’n lewe na die dood sal hê – ’n opgestane lewe tot in ewigheid saam met Jesus in die hemel!

“God het bewys hoe lief Hy die wêreld het. Hy het sy unieke Seun na die wêreld toe gestuur sodat elkeen wat in hierdie Seun glo, nie verlore sal gaan nie, maar vir altyd saam met God kan leef” (Johannes 3:16).

Het u ‘n besluit vír Jesus Christus geneem as gevolg van wat u hier gelees het? Indien wel, druk op die “Ek het Jesus Christus vandag aanvaar” - knoppie hier onder.
English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die reddingsplan?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries