Is daar iets soos absolute waarheid / universele waarheid?




Vraag: "Is daar iets soos absolute waarheid / universele waarheid?"

Antwoord:
Ten einde absolute of universele (algemene) waarheid te verstaan, moet ons by die definisie van waarheid begin. Waarheid, volgens die woordeboek, is “gelykvormigheid aan feit of werklikheid; ‘n stelling wat bewys is of as die waarheid aanvaar word.” Sommige mense sal beweer dat daar geen ware werklikheid is nie, slegs persepsies en menings. Ander sal argumenteer dat daar ‘n bietjie werklikheid of waarheid moet wees.

Een siening is dat daar geen konstante is wat werklikheid definieer nie. Diegene wat hierdie siening aanhang glo dat alles relatief is tot iets anders, en daarom kan daar geen werklike realiteit wees nie. Dit bring mee dat daar uiteindelik geen morele konstante is nie, geen mandaat is waaraan gemeet kan word of ‘n daad positief of negatief, reg of verkeerd is nie. Hierdie siening lei na “situasie etiek,” die mening dat wat reg of verkeerd is, relatief is tot die omstandighede. Daar is geen reg of verkeerd nie; dus, wat ook al op daardie oomblik en in daardie omstandighede reg voel, is reg. Natuurlik lei “situasie etiek” na ‘n subjektiewe “wat ook al goed voel” mentaliteit en lewenswyse, wat ‘n vernietigende effek het op die gemeenskap en individue. Dit is post-modernisme, wat ‘n samelewing vestig wat alle waardes, oortuigings, lewenswyses, en aansprake op die waarheid, gelyk ag.

Die ander siening is dat daar inderdaad konstante werklikhede en standaarde is wat definieer wat waar is en wat nie. Dus kan dade reg of verkeerd bepaal word deur dit met hierdie konstante standaarde te vergelyk. As daar geen konstante is nie, geen werklikheid nie, dan volg chaos. Neem byvoorbeeld die wet van swaartekrag. As dit nie ‘n konstante was nie, sou ons nie seker wees dat ons op een plek kan staan of sit nie totdat ons besluit het om te beweeg. Of as twee plus twee nie altyd gelyk aan vier was nie, sou die gevolge op die beskawing rampspoedig wees. Wetenskap en fisika sou nie meer ter sake wees nie, en handel sou onmoontlik wees. Wat ‘n gemors sou dit nie afgee nie! Dankie tog, twee plus twee is wel gelyk aan vier. Daar is absolute waarheid, en dit kan gevind en verstaan word.

Om die stelling te maak dat daar geen absolute waarheid is nie, is onlogies. Tog is daar vandag baie mense wat ‘n kulturele relativisme aanhang wat enige tipe absolute waarheid verwerp. ‘n Goeie vraag om aan mense te vra wat sê, “Daar is geen absolute waarheid nie” is dit: “Is jy absoluut seker daarvan?” As hulle “ja” sê, het hulle ‘n absolute stelling gemaak—wat die bestaan van konstante impliseer. Hulle sê dan die blote feit dat daar geen absolute waarheid is nie, is die een en enigste absolute waarheid.

Behalwe vir die probleem van self-weerspreking, is daar verskeie ander logiese probleme waar mens verby moet kom voordat jy kan glo dat daar geen absolute of universele waarhede is nie. Een is dat alle mense beperkte kennis en verstand het, en daarom nie absolute negatiewe stellings op ‘n logiese wyse kan maak nie. ‘n Persoon kan logies nie sê, “Daar is geen God nie” (alhoewel baie dit wel doen), omdat, ten einde so ‘n stelling te maak, moet hy oor absolute kennis van die ganse heelal beskik, van begin tot einde. Aangesien dit onmoontlik is, is dit die beste wat iemand logies kan sê, “Met die beperkte kennis waaroor ek beskik, glo ek nie daar is ‘n God nie.”

‘n Ander probleem met die ontkenning van absolute waarheid/universele waarheid is dat dit faal om te bewys wat ons binne onsself weet waar is, wat onsself ervaar het, en wat ons in hierdie wêreld sien. As daar nie iets is soos absolute waarheid nie, dan is daar uiteindelik geen reg of verkeerd omtrent enigiets nie. Wat “reg” mag wees vir jou, is nie noodwendig “reg” vir my nie. Terwyl hierdie tipe relativisme oppervlakkig beskou aantreklik mag lyk, beteken dit dat elkeen sy eie reëls maak en doen wat hy dink is reg. Dan is dit onvermydelik dat een persoon se siening van wat reg is, spoedig met ‘n ander persoon s’n sal bots. Wat gebeur as dit vir my “reg” is om verkeersligte te ignoreer, selfs al is dit rooi? Ek plaas baie lewens in gevaar. Of ek mag dink dit is reg om van jou te steel, terwyl jy nie so dink nie. Dit is dan duidelik dat ons standaarde van wat reg en verkeerd is in konflik met mekaar verkeer. As daar geen absolute waarheid is nie, geen standaarde van wat reg en verkeerd is waaraan ons almal moet voldoen nie, dan kan ons nooit seker wees van enigiets nie. Mense sal vry wees om te doen net wat hulle wil—vermoor, verkrag, steel, lieg, verkul, ens., en niemand sal mag sê dat dit verkeerd is nie. Daar sal geen regering wees nie, geen wette nie, geen geregtigheid nie, want niemand sal kan sê dat die meerderheid die reg het om standaarde daar te stel en op die minderheid af te dwing nie. ‘n Wêreld sonder konstante sal die mees afgryslikste wêreld denkbaar wees.

Vanuit ‘n geestelike oogpunt, veroorsaak hierdie tipe relativisme godsdienstige verwarring, met nie een ware geloof nie en geen manier om ‘n regte verhouding met God te handhaaf nie. Alle gelowe onder hierdie relativisme sal dus vals wees, want almal sal absolute aanspraak maak op die hiernamaals. Dit is vandag nie meer ongewoon vir mense om te glo dat twee teenoorgestelde gelowe beide ewe “waar” kan wees nie, al maak beide gelowe daarop aanspraak om die enigste weg na die hemel te wees, of al leer hulle twee totaal verskillende “waarhede.” Mense wat nie in die absolute waarheid glo nie ignoreer hierdie aansprake, en gryp ‘n meer verdraagsame universelisme aan wat leer dat alle gelowe gelyk aan mekaar is en dat alle paaie na die hemel lei. Mense wat hierdie wêreldsiening aangryp, opponeer evangeliese Christene hewig wat die Bybel glo waar Jesus sê dat Hy “die weg en die waarheid en die lewe” is, en dat niemand na die Vader kan kom behalwe deur Hom nie (Johannes 14:6).

Verdraagsaamheid het die vernaamste deug van die post-moderne samelewing geword, die een konstante, en dus is onverdraagsaamheid die enigste euwel in hierdie samelewing. Enige leerstelling—veral ‘n geloof in absolute waarheid—word gesien as onverdraagsaamheid, die uiterste sonde. Diegene wat die absolute waarheid ontken sal dikwels sê dat dit reg is om te glo wat jy wil, solank jy net nie probeer om jou geloof aan ander op te dring nie. Maar hierdie siening is op sigself ‘n geloof omtrent wat reg en verkeerd is, en diegene met hierdie siening probeer definitief om dit aan ander op te dring. Hulle het ‘n gedragsnorm daar gestel wat hulle aandring ander moet volg, en daardeur skend hulle presies dit waarop hulle aanspraak maak—nog ‘n self-weerspreking. Die wat so ‘n geloof aanhang wil eenvoudig nie verantwoordelikheid vir hul dade aanvaar nie. As daar absolute waarheid is, dan is daar absolute standaarde van reg en verkeerd, en is ons aanspreeklik daarvoor. Hierdie aanspreeklikheid is eintlik wat mense verwerp wanneer hulle absolute waarheid verwerp.

Die ontkenning van absolute waarheid/universele waarheid en die kulturele relativisme wat daarmee saamgaan is die logiese uitvloeisel van ‘n samelewing wat die evolusieteorie aanvaar het as die oorsprong van lewe. As hierdie teorie waar is, dan het die lewe geen betekenis nie, het ons geen doel nie, en kan daar geen absolute reg of verkeerd wees nie. Die mens is dan vry om te lewe soos hy wil en is aan niemand aanspreeklik vir sy dade nie. Maar nieteenstaande hoe baie kere die sondige mens die bestaan van God en die absolute waarheid ontken, gaan hulle steeds eendag voor Hom verskyn om geoordeel te word. Die Bybel sê “…omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want Sy onsigbare dinge kan van die skepping af in Sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik Sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword” (Romeine 1:19-22).

Is daar enige bewyse vir die bestaan van absolute waarheid? Ja. Eerstens is daar die mens se gewete, daardie sekere “iets” binne-in ons wat vir ons vertel dat die wêreld op ‘n sekere manier behoort te wees, dat sekere dinge reg en ander verkeerd is. Ons gewete verseker ons dat daar iets verkeerd is met lyding, hongersnood, verkragting, pyn en boosheid, en dit maak ons bewus daarvan dat liefde, vrygewigheid, medelye, en vrede positiewe dinge is waarna ons behoort te strewe. Dit is algemeen waar in alle kulture te alle tye. Die Bybel beskryf die rol van die mens se gewete in Romeine 2:14-16: “Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hullself ‘n wet, al het hulle geen wet nie; omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig, in die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel, volgens my evangelie.”

Die tweede bewys vir die bestaan van absolute waarheid is die wetenskap. Wetenskap is bloot die soeke na kennis, die studie van dit waarvan ons weet, en die strewe om meer te leer. Dus, alle wetenskaplike studie is onvermydelik gebasseer op die oortuiging dat daar objektiewe realiteite in die wêreld bestaan en hierdie realiteite kan gevind en bewys word. Wat sou daar wees om te leer as dit nie vir konstante was nie? Hoe kan ons weet dat wetenskaplike bevindings waar is? Deur die feit dat die einste wette van die wetenskap gegrond is op die bestaan van absolute waarheid.

Die derde bewys vir die bestaan van absolute waarheid/universele waarheid is godsdiens. Al die godsdienste van die wêreld probeer om betekenis en duidelikheid aan die lewe te gee. Hulle ontstaan is te danke aan die mens se begeerte na iets meer as blote bestaan. Deur godsdiens soek mense na God, na hoop vir die toekoms, vergifnis vir sonde, vrede te midde van stryd, en antwoorde op ons diepste vrae. Godsdiens is ‘n werklike bewys dat die mens meer is as bloot ‘n hoogs ontwikkelde dier. Dit is bewys van ‘n hoër plan en van die bestaan van ‘n persoonlike en doelgerigte Skepper wat die begeerte om Hom te leer ken in die mens geplant het. En as daar inderdaad ‘n Skepper is, dan is Hy die standaard vir absolute waarheid, en is dit Sy gesag wat daardie waarheid vestig.

Gelukkig is daar so ‘n Skepper, en Hy het Sy Waarheid aan ons openbaar in Sy Woord, die Bybel. Om die absolute waarheid/universele waarheid te ken is slegs moontlik deur ‘n persoonlike verhouding met die Een wat daarop aanspraak maak om die Waarheid te wees—Jesus Christus. Jesus maak daarop aanspraak dat Hy die weg en die waarheid en die lewe is, en dat niemand na die Vader kan gaan behalwe deur Hom nie (Johannes 14:6). Die feit dat absolute waarheid wel bestaan, wys vir ons die waarheid dat daar ‘n soewereine God is wat hemel en aarde geskape het, en wat Homself aan ons openbaar sodat ons Hom persoonlik mag ken deur Sy Seun Jesus Christus. Dit is die absolute waarheid.


Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is daar iets soos absolute waarheid / universele waarheid?