settings icon
share icon
Vraag

Wat is die gebed om verlossing?

Antwoord


Baie mense vra, “Is daar ‘n gebed wat ek kan bid wat my verlossing sal waarborg?” Dit is belangrik om te onthou dat verlossing nie ontvang word deur ‘n gebed op te sê of sekere woorde te uiter nie. Nêrens is daar in die Bybel aangeteken dat iemand verlossing deur gebed ontvang het nie. Om ‘n gebed op te sê is nie die Bybelse voorskrif vir verlossing nie.

Die Bybelse voorskrif vir verlossing is geloof in Jesus Christus. Johannes 3:16 sê vir ons, “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Verlossing word deur geloof verkry (Efesiërs 2:8), deur Jesus as Verlosser aan te neem (Johannes 1:12), en deur ten volle op Jesus alleen te vertrou (Johannes 14:6; Handelinge 4:12), nie deur ‘n gebed op te sê nie.

Die Bybelse boodskap van verlossing is eenvoudig en duidelik en terselfdertyd verbasend. Ons het almal teen God gesondig (Romeine 3:23). Behalwe Jesus Christus, is daar niemand wat ‘n sondelose lewe gelei het nie (Prediker 7:20). Vanweë ons sonde, verdien ons God se oordeel (Romeine 6:23), en daardie oordeel is liggaamlike dood gevolg deur geestelike dood. Vanweë ons sonde en verdiende straf, is daar niks wat ons uit ons eie kan doen om ons verhouding met God te herstel nie. As gevolg van Sy liefde vir ons, het God mens geword in die Persoon van Jesus Christus. Jesus het ‘n volmaakte lewe gelei en altyd die waarheid verkondig. Maar die mens het Jesus verwerp en Hom doodgemaak deur Hom te kruisig. Deur daardie afgryslike daad egter, het Jesus in ons plek gesterf. Jesus het die las en die oordeel van die sonde op Homself geneem en in ons plek gesterf (2 Korinthiërs 5:21). Jesus was daarna uit die dood opgewek (1 Korinthiërs 15), en daardeur is bewys dat die prys wat Hy betaal het voldoende was vir ons sonde en dat Hy die sonde en die dood oorwin het. As gevolg van Jesus se offer, bied God ons verlossing aan as ‘n gawe. God het ons onkunde omtrent Jesus oorgesien (Handelinge 17:30) en verkondig dat ons Hom moet aanneem as volle betaling vir ons sonde (1 Johannes 2:2). Verlossing word verkry deur die gawe wat God ons aanbied, nie deur ‘n gebed te bid nie.

Nou beteken dit nie dat gebed nie betrokke is by die verkryging van verlossing nie. As jy die evangelie verstaan, glo dat dit die waarheid is, en vir Jesus as jou Verlosser aangeneem het, is dit goed en toepaslik om daardie geloof aan God te bely deur middel van gebed. Gemeenskap met God deur gebed kan ‘n manier wees om te groei vanaf die aanvaarding van die feite omtrent Jesus tot by volle vertroue in Hom as Verlosser. Gebed kan deel vorm van die proses waar jy jou geloof in Jesus alleen plaas vir jou verlossing.

Weereens egter, dit is uiters belangrik dat jy nie jou verlossing vestig op ‘n gebed wat jy opgesê het nie. Die opsê van ‘n gebed kan jou nie verlos nie! As jy die verlossing wil ontvang wat beskikbaar is deur Jesus, plaas jou geloof in Hom. Vertrou ten volle dat Sy dood voldoende offer was vir jou sonde. Vertrou heeltemal op Hom alleen as jou Verlosser. Dit is die Bybelse voorskrif vir verlossing. As jy Jesus aangeneem het as jou Verlosser, bid gerus tot God. Vertel vir God hoe dankbaar jy vir Jesus is. Prys God vir Sy liefde en opoffering. Dank Jesus dat Hy vir jou sonde gesterf het en daardeur jou verlossing bewerkstellig het. Dit is die Bybelse verband tussen verlossing en gebed.

Het jy ‘n besluit vír Jesus Christus geneem as gevolg van wat jy hier gelees het? Indien wel, druk die “Ek het Jesus Christus vandag aanvaar” - knoppie hieronder.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die gebed om verlossing?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries