settings icon
share icon
Vraag

Hoe is dit moontlik dat hel ‘n regverdige straf vir sonde is?

Antwoord


Dit is ‘n onderwerp wat baie mense, wat die volgende drie dinge nie heeltemal verstaan nie, hinder: die natuur van God, die natuur van die mens en die natuur van sonde. As gevalle sondige menslike wesens, is die natuur van God ‘n moeilike konsep om te begryp. Ons is geneig om God as ‘n goeie, genadige Wese te sien, wie se liefde vir ons al Sy ander eienskappe oorskadu en ophef. Natuurlik is God liefdevol, goed en genadig, maar Hy is eerstens en bowenal ‘n heilige en regverdige God. Hy is so heilig, dat Hy nie sonde kan verdra nie. Hy is ‘n God wie se woede teen die slegte en ongehoorsame ontvlam (Jes 5:25; Hosea 8:5; Sagaria 10:3). Hy is nie net ‘n liefdevolle God nie – Hy is self liefde! Die Bybel vertel ons ook dat Hy alle soorte sondes haat (Spreuke 6:16-19). Alhoewel Hy genadig is, is daar perke tot Sy genade. “Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is. Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer” (Isaiah 55:6-7).

Die mens is deur sonde korrup gemaak en daardie sonde is altyd direk teen God gemik. Toe Dawid gesondig het deur egbreuk met Batseba te pleeg en Uria vermoor het, het hy met ‘n interessante gebed na vore getree: “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in U oë…” (Ps 51:6). Aangesien Dawid teen Batseba en Uria gesondig het, hoe kon hy sê dat hy teen God gesondig het? Dawid het verstaan dat alle sonde uiteindelik teen God is. God is ‘n ewige en onverganklike Wese (Ps 90:2). Die gevolg is dus dat alle sonde ‘n ewige straf verdien. God se heilige, volmaakte en oneindige karakter word deur sonde beledig. Met ons beperkte en verganklike verstande is ons sonde beperk tot tyd, maar God is tydloos en die sonde wat Hy so haat, gaan aan en aan. Ons sonde is vir ewig voor Hom en moet dus vir ewig gestraf word, om sodoende Sy heilige oordeel te regverdig.

Niemand verstaan dit beter as iemand wat in die hel is nie. ‘n Uiters goeie voorbeeld is die storie van die ryk man en Lasarus. Beide het gesterf en die ryk man is hel toe, terwyl Lasarus paradys toe gegaan het (Luk 16). Die ryk man was sekerlik daarvan bewus dat sy sonde net gedurende sy leeftyd plaasgevind het, maar interessant genoeg, hy het nooit gesê, “Hoe het ek hier beland nie?” Daardie vraag is nooit in die hel gevra nie. Hy het nie gesê, “Het ek dit regtig verdien? Dink jy nie dit is bietjie erg nie? ‘n Bietjie baie erg nie?” Hy het net gevra dat iemand sy broers wat nog geleef het, teen die daardie noodlottige bestemming moet waarsku.

Soos die ryk man, besef elke sondaar in die hel dat hy verdien om daar te wees. Elke sondaar is ten volle daarvan bewus, volledig ingelig en het ‘n sensitiewe gewete in die hel en dit raak sy eie foltering. Dit is die gewaarwording van pyniging in die hel – ‘n persoon is ten volle bewus van sy of haar sonde, met ‘n genadelose beskuldigende gewete, sonder verligting vir een oomblik. Die skuld van sonde sal jammerte en ewigdurende selfhaat voortbring. Die ryk man het geweet dat ewigdurende straf vir ‘n leeftyd van sonde is geregverdig en verdienstelik. Dit is waarom hy nooit geprotesteer of gevra het waarom hy in die hel is nie.

Die werklikhede van ewige verdoemenis, ewigdurende hel en straf is vreesaanjaend en ontstellend. Dit is goed dat ons tog bang word. Dit klink nou baie donker, maar daar is goeie nuus. God is lief vir ons (Joh 3:16) en wil ons van die hel red (2 Pet 3:9). Aangesien God ook billik en regverdig is, kan Hy nie toelaat dat sonde ongestraf gelaat word nie. Iemand moet daarvoor betaal. In God se groot liefde en genade, het Hy Sy eie betaling vir ons sonde voorsien. Hy het Sy Seun, Jesus Christus, gestuur om die boete vir ons sondes aan die kruis te betaal, deur te sterf vir ons. Jesus se sterwe was ‘n oneindige dood, omdat Hy die oneindige God/mens is, wat ons oneindige sondeskuld betaal het, sodat ons nie vir ewig in die hel hoef te boet nie (2 Kor 5:21). As ons ons sonde bely en ons geloof in Christus plaas, God se vergifnis vra, gebaseer op Christus se offer, is ons gered, vergewe, gereinig en ons het die belofte van ‘n ewige woonplek in die Hemel. God het ons so baie lief, dat Hy dit wat nodig was vir ons redding, voorsien het, maar as ons Sy geskenk van ewige lewe verwerp, sal ons die ewige gevolge van daardie besluit moet dra.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe is dit moontlik dat hel ‘n regverdige straf vir sonde is?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries