settings icon
share icon
Vraag

Wat is die vier geestelike wette?

Antwoord


Die Vier Geestelike Wette is ’n manier waarop die goeie nuus van die verlossing wat moontlik is deur in Jesus Christus te glo, gedeel kan word. Dit is ’n eenvoudige manier om die belangrike inligting wat in die Woord van die Here is, in vier punte saam te vat.

Die eerste Geestelike Wet: “God het jou lief en het ’n wonderlike plan vir jou lewe.” God se liefde: “God het bewys hoe lief Hy die wêreld het. Hy het sy unieke Seun na die wêreld gestuur sodat elkeen wat in hierdie Seun glo, nie verlore sal gaan nie, maar vir altyd saam met God kan leef” (Johannes 3:16). Die rede vir die Seun se koms vind ons in Johannes 10:10, “Ek is hier om vir julle die kans te gee om altyd by God te wees. By Hom sal julle die lewe voluit kan geniet. En dit is lekkerder as enigiets anders, glo My!” Wat keer ons weg van God se liefde? Waarom ervaar die meeste mense nie ’n oorvloedige lewe nie?

Die tweede Geestelike Wet: “Die mens is sondig en van God geskei, daarom kan hy nie God se liefde en plan vir sy lewe ken en ervaar nie.” Romeine 3:23 bevestig dit, “Ons is almal sondaars. Geen een van ons leef tot God se eer nie.” Romeine 6:23 beskryf die gevolge van sonde, “… as mens jou hele lewe lank vir die sonde werk, is die dood jou beloning.” Die mens is geskape om ‘n verhouding met God te hê, maar kies om sy eie kop te volg en om onafhanklik van Hom te leef. Die verhouding met Hom is dus beskadig. Wat is die oplossing hiervoor?

Die derde Geestelike Wet: “Jesus Christus is God se enigste oplossing vir die mens se sonde. Alleen deur Hom kan jy God se liefde en plan vir jou lewe ken en ervaar.” Romeine 5:8 sê vir ons, “Hy wys hoe lief Hy ons het deurdat Jesus in ons plek doodgegaan het toe ons almal nog ’n spul sondaars was.” 1 Korinthiërs 15:3-4 vertel wat ons moet weet en glo om gered te word: “…Christus het gesterf sodat ons nie self sal moet sterf vir al die verkeerde dinge wat ons voor God gedoen het nie. Dit is presies wat die Skrif voorspel het sou gebeur. Maar die Skrif het ook voorspel dat Hy begrawe sou word en dat God Hom na drie dae weer lewendig sou maak. Net so het dit toe ook gebeur.” Jesus self het in Johannes 14:6 verklaar dat Hy die enigste weg vir redding is: “Ek is die ‘pad’ en my Vader die ‘adres’. Wie hierdie pad loop, kom by die ware lewe uit. As iemand ’n ander pad loop, sal hy nooit by my Vader uitkom nie.” Hoe kan ek hierdie wonderlike geskenk van redding ontvang?

Die vierde Geestelike Wet: “Ons moet Jesus Christus persoonlik aanneem as Verlosser en Here. Slegs dan kan ons God se liefde en plan vir ons lewens ken en ervaar.” Dit word in Johannes 1:12 beskryf: “Daar was mense wat Hom met oop arms ontvang het. Hulle het Hom en dit waarvoor Hy staan ten volle in geloof aanvaar. Omdat hulle so op Hom vertrou, het Jesus alles vir hulle gedoen wat nodig was om God se kinders te word.” Dit staan baie duidelik in Handelinge 16:31, “Glo in die Here Jesus. Dan sal God jou as sy kind aanvaar en al jou sondes vergewe.” Ons kan alleenlik uit genade, deur geloof, in Jesus Christus gered word (Efesiërs 2:8-9).

As jy Christus in geloof as jou verlosser wil aanneem, kan jy soos volg bid. Hierdie woorde alleen sal jou nie red nie, maar wel as jy dit met volle vertroue in God sê. Hierdie gebed is ’n manier om jou geloof in God uit te druk en Hom te bedank vir jou verlossing: “Here Jesus, ek weet dat ek teen U gesondig het en U straf verdien, maar Jesus Christus het die straf op Hom geneem sodat ek deur geloof in Hom vergewe kan word. Ek maak nou die deur van my lewe oop en neem U as my verlosser en Here aan. Dankie dat U my sondes vergewe het en aan my die ewige lewe gee! Amen!”

Het u ‘n besluit vír Jesus Christus geneem as gevolg van wat u hier gelees het? Indien wel, druk op die “Ek het Jesus Christus vandag aanvaar” - knoppie hier onder.
English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die vier geestelike wette?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries