settings icon
share icon
Vraag

Bestaan God werklik? Is daar bewyse dat God werklik bestaan?

Antwoord


Bestaan God werklik? Dit is baie interessant dat so baie aandag aan hierdie vraagstuk gegee word. Jongste meningspeilings dui daarop dat 90% van die wêreld se bevolking in die bestaan van God of ’n groter mag, glo. Op een of ander manier word verwag dat diegene wat glo in die bestaan van God, bewyse moet lewer dat Hy wel bestaan. Ek dink dit moet eerder andersom wees.

Die bestaan van God kan egter nie as waar of onwaar bewys word nie. Die Bybel sê ons moet deur geloof die feit dat God wel bestaan, aanvaar, “Dit kan nie gebeur as ’n mens nie op God vertrou nie. En daar is goeie rede voor: ’n mens sal God net soek en na Hom toe gaan as jy oortuig is en vertrou dat Hy dáár is en dat Hy mense wat na Hom toe kom met oop arms ontvang” (Hebreërs 11:6). Indien God dit so wil hê, kan Hy net verskyn en sodoende aan die wêreld bewys dat Hy wel bestaan. As Hy dit egter sou doen, sal daar geen nodigheid vir geloof wees nie. “Jesus sê vir hom: ‘Is jy oortuig omdat jy My gesien het? Wel, die mense wat My nie soos jy sal sien nie, maar My tog met oorgawe aanvaar, gaan van geluk oorloop” (Johannes 20:29).

Dit beteken egter nie dat daar nie bewyse vir God se bestaan is nie. Die Bybel sê: “As jy opkyk na die hemel, sien jy hoe mooi God se handewerk alles rondom ons versier. Alles wat Hy gemaak het, vertel hoe belangrik Hy is. Dis of die een dag met die volgende dag praat en die een nag vir die volgende nag fluister. Hulle dra die boodskap van God se eer en grootheid verder oor. Maar jy hoor geen geluid nie; hulle praat nie met mensewoorde nie. Hulle boodskap word versprei sonder klanke” (Psalm 19:1-4). Deur na die sterre te kyk, begrip te hê vir die grootsheid van die heelal, al die wonders van die natuur te sien, om na ’n mooi sonsondergang te kyk, dui alles op ’n Skepper God. In Prediker 3:11 lees ons, “God het alles mooi en op die regte tyd gemaak. Toe het Hy die mense iets laat verstaan van hoe sy soort tyd werk, maar die mense kon niks daarvan verstaan nie. Absoluut niks nie.”

As hierdie nie genoeg is nie, is daar nog bewyse in ons hart. Daar is iets diep binne ons wese wat erken dat daar meer is as net hierdie lewe en iemand groter as hierdie lewe. Ons kan hierdie kennis intellektueel ontken, maar God se teenwoordigheid in en deur ons, is nog steeds daar. Die Bybel waarsku ons egter dat daar, ten spyte van al hierdie dinge, steeds mense sal wees wat God se bestaan ontken. “Dit is net ’n baie dom mens wat dink God is nie daar nie.” (Psalm 14:1) Meer as 98% van mense regdeur die geskiedenis, in alle kulture, in alle beskawings en op alle kontinente, glo in die bestaan van een of ander god – daar moet dus iets (of iemand) wees wat lei tot hierdie geloof.

Daar is ook logiese argumente, aanvullend tot die Bybelse argumente vir God se bestaan. Daar is eerstens die ontologiese argument. Die vorm van die ontologiese argument wat die meeste gebruik word, is om die konsep van God te gebruik om God se bestaan te bewys. Dit begin met die definisie van God as “wat geen groter denkbaar moontlik is nie.” Daar word dan geredeneer dat om te bestaan groter is as om nie te bestaan en dat die grootste denkbare wese dus moet bestaan. As God nie bestaan het nie sou God nie die grootse denkbare wese gewees het nie, maar dit sal teenstrydig wees met die definisie van God.

’n Tweede argument is die teologiese argument. Die teologiese argument verklaar dat aangesien die heelal so ’n wonderlike ontwerp het, daar ’n Goddelike ontwerper moes wees. Byvoorbeeld, as die aarde slegs enkele honderd kilometers nader aan of verder van die son was, sou baie van die lewe wat tans bestaan, nie kon bestaan nie. As die elemente in ons atmosfeer net enkele persentasie punte anders was sou elke lewende ding op aarde gesterf het. Die kans dat ’n enkele proteïen toevallig kan vorm is 1 uit 10243 (’n 10 gevolg deur 243 nulle). ’n Enkele sel bestaan uit miljoene proteïen molekules.

’n Derde logiese argument vir die bestaan van God word die kosmologiese argument genoem. Elke gevolg moet ’n oorsaak hê. Die heelal en alles daarbinne is ’n gevolg. Daar moet iets wees wat veroorsaak het dat alles ontstaan het. Daar moet dus iets wees wat nie ’n “gevolg” is nie, wat kan veroorsaak dat alle ander goed ontstaan. Hierdie iets wat nie ’n “gevolg” is nie, is God. ’n Vierde argument staan bekend as die morele argument. Regdeur die geskiedenis het elke kultuur ’n vorm van wetgewing gehad. Almal het ’n sin vir wat reg en verkeerd is. Moord, lieg, steel en onsedelikheid word bykans universeel verwerp. Waar kom hierdie sin vir reg en verkeerd van as dit nie van ’n Heilige God kom nie?

Ten spyte van al hierdie argumente sê die Bybel dat mense die duidelike en onbetwisbare kennis van God sal verwerp en eerder ’n leuen sal glo. Romeine 1:25 sê, “En dit net omdat hulle die waarheid verruil het vir ’n spul leuens. In plaas daarvan dat hulle voor die Skepper buig, verkies hulle om voor hulle eie handewerk te buig. Dit is ’n groot fout. Daar is immers maar net een God wat tot in alle ewigheid aanbid moet word.”

Mense sê dat hulle nie in God glo nie omdat dit “nie wetenskaplik” is nie of “omdat daar geen bewys nie.” Die ware rede is dat wanneer iemand erken dat daar ’n God is, hulle ook besef dat hulle aan God verantwoordelik is en Sy vergifnis nodig het (Romeine 3:23; 6:23). As God bestaan moet aan Hom verantwoording doen vir ons aksies. As God nie bestaan nie, kan ons doen net wat ons wil sonder om bekommerd te wees dat God ons sal oordeel. Ek glo dat dit is hoekom evolusie so sterk aangehang word deur baie mense – dit gee mense iets anders om in te glo as in ’n Skepper God. God bestaan en op die lange duur weet almal dit. Die feit dat sommige so aggressief probeer bewys dat Hy nie bestaan nie, is juis ’n argument vir Sy bestaan.

Laat my ’n laaste argument vir die bestaan van God toe. Hoe weet ek God bestaan? Ek weet God bestaan omdat ek elke dag met Hom praat. Sy antwoord is nie vir my hoorbaar nie, maar ek voel Sy teenwoordigheid, Sy leiding, ek ken Sy liefde, ek smag na Sy genade. Daar het dinge in my lewe gebeur wat geen ander verklaring het nie, as dat dit God was. God het my so wonderbaarlik gered en my lewe verander dat ek nie anders kan nie as om Sy bestaan te erken en prys nie. Geeneen van hierdie argumente op hulle eie kan iemand wat weier om te erken wat so duidelik is, anders oortuig nie. Op die ou end moet God se bestaan deur geloof aanvaar word (Hebreërs 11:6). Geloof in God is nie ’n blinde sprong die donker in nie, dit is ’n veilige stap in ’n helder verligte kamer in waar 90% van die mense hulself reeds bevind.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Bestaan God werklik? Is daar bewyse dat God werklik bestaan?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries