Vraag
Hoekom is Bybelse Kreasionisme so belangrik?
Antwoord
‘n Duidelike siening oor oorspronge is belangrik vir dieselfde rede as wat ‘n fondasie belangrik is vir ‘n gebou. Die Christendom het ontstaan in die boek van Genesis, hoofstuk 1: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” Hierdie een stelling bevestig kreasionisme en opponeer enige siening wat naturalisme aanhang (die oortuiging dat die heelal ontstaan het sonder die ingryping van God en /of vooruitgang plaasgevind het sonder Sy betrokkenheid).
‘n Mens se sienings aangaande die skepping reflekteer of ons God se Woord glo, of die waarheid daarin in twyfel getrek word. As Christene moet ons onderskei tussen kreasionisme en naturalisme; dit beteken, hoe verskil hulle? Watter een is waar? Is dit moontlik om in beide kreasionisme en in een of ander vorm van evolusie te glo? Hierdie vrae kan beantwoord word deur die definisie van wat Bybelse kreasionisme is en hoe dit ons fundamentele oortuigingstelsel affekteer.
Die belangrikheid van Bybelse kreasionisme is dat dit die fundamentele vrae aangaande menslike bestaan beantwoord:
Hoe het ons hier gekom? Waar het ons vandaan gekom?
Hoekom is ons hier? Het ons ‘n doel en wat is die oorsaak van al ons probleme? Is die kwessies oor sonde en verlossing belangrik?
Wat gebeur met ons wanneer ons sterwe? Is daar lewe na die dood? ‘n Persoon se standpunt oor “ontstaan” is belangrik, omdat Genesis die grondslag vorm van die res van die Skrif, waarin hierdie vrae beantwoord word. Genesis kan vergelyk word met die wortel van ‘n boom, waarin die Skrif geanker is. As jy die wortel van ‘n boom afsny, gaan die boom dood. As jy Genesis in twyfel trek (in diskrediet bring), vernietig jy die outoriteitswaarde van die hele Skrif. Gen 1:1 sê, “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” Dit gee vir ons 3 groot waarhede, fundamenteel aan Bybelse kreasionisme en die Christelike geloof. Eerstens, God is een. Dit staan in kontras tot politeïsme (veelgodery) van die heidene en die dualisme van moderne humanistiese filosofie. Tweedens, God is persoonlik en bestaan buite die skepping. Dit is in kontras met panteïsme wat God sien as immanent (God bestaan oral in die skepping), maar nie transendent nie (God is buite die mens se volle belewenis, persepsie of bereik). Laastens God is almagtig en ewig. Dit is in kontras met die afgode wat mense aanbid. God was vantevore, is nou en sal altyd wees – Hy het alles geskep uit niks deur Sy gesproke woord.
Dit beantwoord ons skeppingsvraag oor die begin, maar wat van ons tweede vraag: hoekom is ons hier?
Bybelse kreasionisme beantwoord die vraag oor die toestand van die menslike ras. Gen 3 handel oor die val van die mens, maar gee ook vir ons hoop oor verlossing. Dit is belangrik dat ons verstaan dat ons in een mens verenig is, Adam – ‘n letterlike regte lewende persoon. Indien Adam nie ‘n letterlike persoon is nie,dan het ons geen aanneemlike verduideliking van hoe sonde in die wêreld ingekom het nie. As die mensdom, in Adam, nie geval het vanuit genade nie, dan kon die mensdom nie uit genade deur Jesus Christus gered word nie. 1 Kor 15:22 sê, “Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word.” Hierdie vergelyking – Adam is die hoof van die gevalle ras en Christus is die hoof van die vrygemaakte ras – is belangrik vir ons om verlossing te begryp. Rom 5:18-19: “Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal. Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword het, so ook sal baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens vrygespreek word.”
Ons moet na Bybelse kreasionisme kyk as die grondslag vir ons waardesisteem. Die skeppingsverhaal moet feitelik wees en nie net ‘n mite nie, want as dit fiktief is, dan is die waardes wat dit invoer, mensgemaak, onderliggend aan verandering, soos die mens “ontwikkel” en dus ongeldig. Die basis van die moderne daaglikse konflik tussen wetenskap en godsdiens (veral die Christendom) is die opvatting dat (ateïstiese) wetenskap feit is en godsdiens is merendeels bygelowigheid en mite. Sou dit waar wees, dan is ons Christelike waardes slegs die volgende – waardes vir Christene met geen relevansie in die sekulêre wêreld nie.
Die laaste basiese vraag vir die mensdom is wat met ons gebeur as ons doodgaan? Indien die mens maar net deel vorm van ‘n doellose (undesigned) en toevallige heelal en wat eenvoudig verander van een soort materie na ‘n ander wanneer hy sterf, beteken dit dat ons geen siel of gees het nie en dat hierdie lewe al is wat ons het. Hierdie oortuiging laat ons met slegs een doelwit in die lewe: om die plan van evolusie te volg, wat beteken: die oorlewing van die sterkste.
Die Christendom aan die ander kant, verteenwoordig ons met ‘n moraal, goed gevestig deur ‘n transendente, supernatuurlike Wese. Die morele natuur van God handhaaf ‘n onveranderlike standaard wat nie slegs ‘n beter lewe vir ons persoonlik bied nie, maar ons ook leer om ander lief te hê en uiteindelik eer te bring aan ons Skepper. Hierdie standaard is deur Christus as voorbeeld voortgesit. Dit is deur Sy lewe, dood en opstanding dat ons ‘n doelwit vir hierdie lewe vind en hoop op ‘n toekomstige lewe met God in die hemel.
Bybelse kreasionisme is belangrik, omdat dit die enigste stelsel is wat die basiese vrae van die lewe beantwoord en vir ons betekenis gee, groter as onsself. Dit moet duidelik wees aan alle Christene dat kreasionisme en naturalisme wedersyds eksklusief is en die een in opposisie teenoor die ander staan.
English
Hoekom is Bybelse Kreasionisme so belangrik?