settings icon
share icon
Vraag

Wat is die Christelike siening omtrent selfmoord? Wat sê die Bybel omtrent selfmoord?

Antwoord


Volgens die Bybel word toegang tot die hemel nie bepaal deur die feit of iemand selfmoord gepleeg het of nie. Indien ‘n onbekeerde persoon selfmoord gepleeg het, het hy of sy in werklikheid niks anders gedoen as om hul reis na die poel van vuur te “verhaas” nie. Nogtans sal die persoon wat selfmoord gepleeg het, uiteindelik in die hel beland, vir die blote feit dat hul verlossing deur Christus geweier het en nie omdat hulle selfmoord gepleeg het nie. Die Bybel noem vier spesifieke mense wat selfmoord pleeg: Saul (1 Samuel 31:4), Agitófel (2 Samuel 17:23), Simri (1 Konings 16:18), en Judas (Mattheüs 27:5). Elkeen van hulle was goddelose, bose, sondige mans. Die Bybel beskou selfmoord in dieselfde lig as moord – dis wat dit is – selfmoord. God is die Een wie besluit wanneer en waar ‘n persoon behoort te sterf. Wanneer jy die mag in eie hande neem, is dit volgens die Bybel lastering tot God.

Wat sê die Bybel omtrent ‘n Christen wat selfmoord pleeg? Ek glo nie dat ‘n Christen wat selfmoord pleeg sy verlossing sal verloor en hel toe sal gaan nie. Die Bybel leer ons dat vanaf die oomblik wat ‘n mens waarlik in Christus glo, hy of sy vir ewig veilig is (Johannes 3:16). Volgens die Bybel, kan Christene bo enige twyfel weet dat hul oor die ewige lewe beskik, ongeag wat gebeur. “Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God” (1 Johannes 5:13). Niks kan ‘n Christen skei van God se liefde nie! “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here is nie” (Romeine 8:38-39). Indien geen “geskape wese” ‘n Christen kan skei van God se liefde nie, en selfs ‘n Christen wat selfmoord pleeg ‘n “geskape wese” is, dan kan selfs nie eens selfmoord ons skei van God se liefde nie. Jesus het vir ons sondes gesterwe ... en indien ‘n ware Christen in ‘n tyd van ‘n geestelike aanval van swakheid, selfmoord pleeg – sal dit ook gereken word as ‘n sonde waarvoor Jesus gesterf het.

Dis egter nie te sê dat selfmoord nie ‘n ernstige sonde teen God is nie. Volgens die Bybel is selfmoord moord en dit is altyd verkeerd. Ek sou ernstige twyfel hê omtrent die egtheid van die geloof van enige iemand wat bely dat hy ‘n Christen is en desondanks selfmoord pleeg. Daar is geen omstandighede wat dit kan regverdig dat enige iemand, veral ‘n Christen, sy eie lewe kan neem nie. Christene is geroep om vir God te lewe – die besluit om dood te gaan is God s’n en God s’n alleen. ‘n Interessante wyse waarop die Bybel vir ons illustreer wat presies gebeur wanneer ‘n Christen selfmoord pleeg, kan miskien gevind word in die boek Ester. In Persië was daar ‘n wet wat bepaal het dat enige een wat ongenooid voor die koning verskyn het, doodgemaak kon word tensy die koning sy septer na die betrokke persoon sou uitreik – wat genade sou aandui. Selfmoord vir ‘n Christen sou dus daarop dui om jou weg in te forseer om die koning te sien, in plaas van om op Hom te wag om jou te ontbied. Hy sal sy septer na jou toe uitsteek, jou ewige lewe spaar, maar dit beteken egter nie dat Hy gelukkig is met jou nie. Alhoewel dit nie selfmoord beskryf nie, is die Bybelse tekste in 1 Korinthiërs 3:15 heel moontlik ‘n goeie beskrywing van wat gebeur as ‘n Christen selfmoord pleeg: “Alhoewel hy self gered sal word, sal dit wees soos deur vuur heen.”

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die Christelike siening omtrent selfmoord? Wat sê die Bybel omtrent selfmoord?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries