settings icon
share icon
Vraag

Moet Christene gehoorsaam wees aan die Ou-Testamentiese wette?

Antwoord


Om hierdie saak te verstaan, is dit belangrik om te besef dat die Ou-Testamentiese wette gegee is aan die volk van Israel en nie aan Christene nie. Die doel van sommige van die wette was sodat die Israeliete kon weet hoe om God te gehoorsaam en te behaag (byvoorbeeld die Tien Gebooie), ander was om hulle te wys hoe om God te aanbid (die bring van offergawes), en sommige was eenvoudig sodat die Israeliete anders kon wees as ander volke (die wette oor kos en klere ). Vandag geld geen een van die Ou-Testamentiese wette meer vir ons nie. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het hy die Ou-Testamentiese wette beëindig (Romeine 10:4; Galasiërs 3:23-25; Efesiërs 2:15).

In plaas van die Ou-Testamentiese wette is ons nou onderhewig aan die wet van Christus (Galasiërs 6:2) en dit is “Jy moet die Here jou God liefhê met alles wat jy is en het. Niks in jou lewe mag vir jou so belangrik soos God wees nie. Hierdie opdrag staan bo-aan die lys. Maar daar is ’n tweede opdrag wat langs die eerste een op die lys staan: Jy moet ander mense so liefhê soos wat jy jouself liefhet. Hierdie twee opdragte vorm die pilare waarop alles rus waarvan ons in die Bybel lees.” (Mattheus 22:37 – 40). Wanneer ons hierdie twee dinge doen, sal ons aan alles voldoen wat Christus van ons verwag, “Om God lief te hê beteken om sy opdragte ernstig op te neem en uit te voer. Wat Hy van ons verwag, is nie moeilik om te doen nie,” (1 Johannes 5:3). Tegnies gesproke is die Tien Gebooie nie eens van toepassing op Christene nie, maar 9 van die Tien Gebooie word in Nuwe Testament herhaal (almal behalwe die opdrag om die Sabbatdag te heilig). Dit is vanselfsprekend dat wanneer jy lief is vir God, jy nie ander gode sal hê of afgodery beoefen nie. Wanneer ons ons naaste liefhet, sal ons hulle nie doodmaak, vir hulle lieg, ons skuldig maak aan egbreek of begeer wat aan hulle behoort nie. Ons is dus nie onder enige verpligting van die Ou-Testamentiese wet nie. Ons moet lief wees vir God en ons naaste. Wanneer ons hierdie twee dinge getrou doen, sal al die ander dinge outomaties volg.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Moet Christene gehoorsaam wees aan die Ou-Testamentiese wette?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries