Vraag
Wat sê die Bybel omtrent ‘n Christen wat skuld aangaan? Behoort ‘n Christen geld te leen of uit te leen?
Antwoord
Paulus se opdrag aan ons in Romeine 13:8 om niks behalwe liefde te skuld nie is ‘n kragtige herinnering aan God se afkeur van alle vorms van skuld wat nie betyds betaal word nie (sien ook Psalm 37:21). Terselfdertyd verbied die Bybel nie alle vorms van skuld uitdruklik nie. Die Bybel waarsku teen skuld, en prys die waarde daarvan om nie skuld aan te gaan nie, maar verbied dit nie. Die Bybel het harde woorde van veroordeling vir uitleners wat diegene wat by hulle in die skuld is misbruik, maar veroordeel nie die skuldenaar nie.
Sommige mense bevraagteken die byvoeging van rente op lenings, maar verskeie kere in die Bybel sien ons dat ‘n billike rentekoers op geleende geld verwag word (Spreuke 28:8; Mattheus 25:27). In antieke Israel het die Wet verbied dat rente gehef word op lenings aan armes (Levitikus 25:35-38). Hierdie wet het baie sosiale, finansiële, en geestelike implikasies, maar veral twee is belangrik. Eerstens, die wet het werklik die armes gehelp deur nie hulle situasie te vererger nie. Dit was sleg genoeg om in armoede te verval het, en dit moes vernederend gewees het om hulp te vra. Maar as, behalwe om die lening terug te betaal, die arme boonop knellende rente moes betaal, sou die skuld meer nadelig as behulpsaam wees.
Tweedens, die wet het ‘n belangrike geestelike les geleer. Vir ‘n uitlener om nie rente op ‘n lening aan ‘n arme te hef nie, was dit ‘n daad van barmhartigheid. Hy het die gebruik van daardie geld verloor terwyl dit uitgeleen was. Maar dit kon ‘n tasbare manier gewees het om dankbaarheid teenoor God te bewys vir Sy barmhartigheid om nie “rente” te hef op die genade wat Hy aan Sy volk bewys het nie. Net soos God genadiglik die Israeliete uit Egipte gelei het toe hulle niks meer as pennielose slawe was nie, en hulle ‘n land van hul eie gegee het (Levitikus 25:38), so het Hy van hulle verwag om dieselfde weldaad aan hulle eie arm mense te bewys.
Christene is in ‘n soortgelyke situasie. Die lewe, dood, en opstanding van Jesus het ons sondeskuld aan God betaal. Nou, wanneer ons die geleentheid het, kan ons ander help wat in nood verkeer, veral medegelowiges, met lenings wat nie hulle probleme vermeerder nie. Jesus het selfs ‘n gelykenis met hierdie strekking vertel omtrent twee skuldeisers en hulle gesindheid tot vergifnis (Mattheus 18:23-35).
Die Bybel verbied of kondoneer nie die leen van geld uitdruklik nie. Die wysheid van die Bybel leer ons dat dit gewoonweg nie ‘n goeie idee is om skuld aan te gaan nie. Skuld maak ons in werklikheid ‘n slaaf van die een wat die lening verskaf het. Terselfdertyd is die aangaan van skuld in sommige gevalle ‘n “noodsaaklike euwel.” So lank as wat die geld verantwoordelik hanteer word en die terugbetalings haalbaar is, kan ‘n Christen die las van finansiële skuld aangaan indien dit absoluut noodsaaklik is.
English
Wat sê die Bybel omtrent ‘n Christen wat skuld aangaan? Behoort ‘n Christen geld te leen of uit te leen?