settings icon
share icon
Vraag

Wat is die Christendom en wat glo Christene?

Antwoord


1 Korinthiërs 15:1-4 sê, “My liewe broers en susters, laat ons vir oulaas weer kyk na die goeie boodskap oor Jesus wat ek vir julle vertel het. Dit is die boodskap wat julle julle eie gemaak het en nou by sal staan of val. Toe julle hierdie goeie nuus gehoor het, het julle mos Christene geword, natuurlik mits julle nie allerhande afdraai-paadjies vat nie, maar dit glo soos ek dit vir julle vertel het. As julle egter ’n ander pad loop, stap julle weg van God af wat julle red en kan julle net sowel ophou glo, want dit alles sal julle niks help nie. Soos ek die boodskap van ander gehoor het, het ek dit ook vir julle vertel. Die hart van alles is dít: Christus het gesterf sodat ons nie self sal moet sterf vir al die verkeerde dinge wat ons voor God gedoen het nie. Dit is presies wat die Skrif voorspel het sou gebeur. Maar die Skrif het ook verder voorspel dat Hy begrawe sou word en dat God Hom na drie dae weer lewendig sou maak. Net so het dit toe ook gebeur.”

Dít in ’n neutedop, is die Christelike geloof. Die Christendom is uniek onder alle gelowe omdat dit meer gaan oor ’n verhouding as die beoefening van godsdiens. Die doel van ’n Christen is om ’n lewe te hê wat daaruit bestaan dat jy naby God die Vader loop, in plaas van om ’n lys moets en moenies na te kom. So ’n verhouding is moontlik danksy die werk van Jesus Christus en ook as gevolg van die werking van die Heilige Gees in die lewe van ’n Christen.

Christene glo dat die Bybel die geïnspireerde, onfeilbare Woord van God is en dat dit wat die Bybel leer gesaghebbend is (2 Timotheus 3:16, 2 Petrus 1:20-21). Christene glo in een God wat bestaan in die vorm van drie persone, die Vader, die Seun (Jesus Christus) en die Heilige Gees.

Christene glo dat die mens spesifiek geskep is om ’n verhouding met God te hê, maar dat sonde alle mense van God vervreem het (Romeine 5:12, Romeine 3:23). Die Christendom leer dat Jesus Christus op hierdie aarde geloop het, volledig God, maar ook volledig mens (Filippense 2:6-11), en dat Hy aan die kruis gesterf het. Christene glo ook dat Jesus na Sy kruisdood, begrawe is, opgestaan het uit die dood en nou sit aan die regterhand van God waar hy tussenbeide tree vir alle gelowiges (Hebreërs 7:25). Die Christendom verklaar dat Jesus se kruisdood voldoende was om alle mense se sondeskuld te vereffen en dat dit die gebroke verhouding tussen God en die mens, herstel (Hebreërs 9:11-14, Hebreërs 10:10, Romeine 6:23, Romeine 5:8).

Al wat jy moet doen om gered te word, is om jou volle geloof in die werk wat Christus aan die kruis voltooi het, te plaas. As iemand glo dat Christus in sy plek gesterf het, die prys betaal het vir sy eie sondes en weer opgestaan het, is daardie persoon gered. Daar is niks wat enige iemand kan doen wat sal lei tot verlossing nie. Niemand kan op sy eie “goed genoeg” wees om God tevrede te stel nie, want ons is almal sondaars (Jesaja 64:6-7, Jesaja 53:6). Tweedens, daar het niks oorgebly om te doen nie, omdat Christus al die werk gedoen het! Toe Hy aan die kruis was het Jesus gesê, “Nou het Ek alles gedoen wat Ek moes doen.” (Johannes 19:30).

Net soos daar niks is wat iemand kan doen om gered te word nie, so is daar niks wat iemand kan doen om sy/haar verlossing te verloor wanneer hy/sy volle vertroue geplaas het in die werk van Christus aan die kruis. Onthou dat die werk gedoen en voltooi is deur Christus. Niks omtrent verlossing is afhanklik van die persoon wat dit ontvang nie! Johannes 10:27-29 verklaar, “My skape sal my boodskap herken. Ek ken hulle en hulle volg My. Vir hulle gee Ek die lewe wat nooit sal ophou nie. Ek sal hulle versorg en beskerm. Niemand sal hulle uit my versorgende hand kan ruk nie. Daarvoor sal Ek sorg. Hierdie skape het my Vader self vir My gegee. Hulle is die belangrikste van almal. My Vader self sal ook na hulle kyk. En God sal nie toelaat dat enigiemand hulle uit sy versorgende hand kom ruk nie.”

Party mense mag dalk dink, “Dit is wonderlik – as ek eers gered is kan ek doen net wat ek wil en ek sal steeds gered bly!” Verlossing beteken egter nie om vry te wees om te maak nes jy wil nie. Verlossing is om vry te wees van jou ou sondige natuur en om vry te wees om die regte verhouding met God te hê. Vir solank as wat gelowiges op hierdie aarde in hulle sondige liggaam bly, sal daar ’n stryd wees om te swig voor sonde. Deur in sonde te lewe, word die verhouding wat God met die mens wil hê verhinder en so lank as wat ’n gelowige in sonde lewe, sal hy nie die verhouding wat God graag wil hê, kan ervaar nie. Christene kan egter die stryd met sonde wen deur die Woord van God (die Bybel) te bestudeer, dit toe te pas in hulle lewe en deur die Heilige Gees beheer te word – dit wil sê, om gehoorsaam te wees aan die invloed en leiding van die Gees in alledaagse omstandighede en om deur die Gees, God se Woord te gehoorsaam.

Dus, terwyl baie godsdienste vereis dat iemand sekere goed moet doen of nie moet doen nie, handel die Christendom in wese daaroor dat jy ’n verhouding met God te hê. Jy kan jou sondige aard oorwin en in gehoorsaamheid saam met God loop. Dit is ware Bybelse Christendom.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die Christendom en wat glo Christene?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries