Vraag
Is dit verkeerd om met God gefrustreerd te wees?
Antwoord
Frustrasie is daardie gevoel van ongeduld en angstigheid wat ons kry as ons dink ons behoeftes word nie raakgesien of as met skynbare onoorkomelike probleme te doen het. Soms is God die fokus van ons ongeduld en ontevredenheid – ons raak gefrustreerd met Hom. Frustrasie met God, Sy maniere en Sy handelinge met ons, kan ‘n struikelblok vir Christene wees. God kon maklik hierdie probleme hanteer – hoekom doen Hy dit nie? God weet dat ek ‘n behoefte het – waar is Hy dan? Daar is min Christene wat nie gefrustreerd met die Here raak vir die een of ander rede, op ‘n sekere stadium van hul lewens nie.
Marta is so ‘n geval (Luk 10:38-42). Jesus het haar huis besoek en Marta wou Jesus trakteer op ‘n heerlike maaltyd. Die Skrif sê “Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak.” Intussen het Maria, Marta se suster “aan die voete van die Here gaan sit en na Sy woorde geluister.” In haar besige voorbereiding het Marta gevoel sy verdien om in die kombuis gehelp te word en haar frustrasie het opgebou. Sy sê toe, “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help.” Let daarop dat Marta gefrustreerd was met beide Maria wat haar nie help nie en met die Here wat toelaat dat Maria” lui” is. Jesus het haar kalmeer, “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies en dit sal nie van haar weggeneem word nie.” Hy het toe die geleentheid gebruik om ‘n les te gee oor om stil te wees en God te ken (Ps 46:19) – ‘n les wat ons vergeet wanneer ons gefrustreerd is.
‘n Ander welbekende verhaal is dié van Jona. Hy het ook gevind wat dit was om met die Here gefrustreerd te wees. Jona het God gehoor, maar hy het nie gehou van wat hy gehoor het nie (Jona 1:1-3a). Nadat hy teen sy sin God se boodskap aan Nineve gebring het, was hy oortuig dat hulle nie sou luister nie en dat dit vir hom satisfaksie sou bring om te sien dat hulle vernietig sou word, deur ‘n wraaksugtige God. Tot Jona se ergernis, het die mense van Nineve berouvol opgetree en was nederig teenoor God (Jona 3:5-10). Jona was gefrustreerd. Sy sin vir regverdigheid was in konflik met God se genade. Om dinge erger te maak, het die komkommerplant waaronder Jona geskuil het, verdroog en Jona was blootgestel aan die skroeiende son (Jona 7:7). Sy frustrasie het opgebou tot die punt waar hy gewens het om te sterf (Jona 4:9). God het Sy woedende profeet herinner dat sy perspektief verkeerd was: Jona het meer omgegee vir ‘n gevoellose plant as vir die groot stad vol mense. Frustrasie kan ons uitkyk benewel en ons medelye demp.
Is dit verkeerd om met God gefrustreerd te wees? Ja, dit is. Frustrasie is ‘n produk van ons sondige menslike natuur. Frustrasie met God kan ‘n bewys wees vertrouensgebrek in Hom of ‘n misverstand van wie Hy is. Indien God volmaak is – en die Bybel sê Hy is (Ps 18:30) – dan het Hy volmaakte bedoelings, volmaakte tydsberekening, volmaakte metodes en volmaakte resultate. Soos ons ons gedagtes op die Here plaas en op Hom vertrou, sal ons vrede ervaar en nie frustrasie nie (Jes 26:3).
Ons frustrasie met God kan ‘n byproduk wees van ons eie koppigheid. As ons ambisies in konflik is met God se planne, sal ons natuurlik frustrasie ondervind. Dit is nooit raadsaam om teen God te baklei nie. Saul van Tarsis het hierdie les op ‘n harde manier geleer en Jesus moes hom daaraan herinner, “Jy maak jou net seer deur jou te verset” (Hand 26:14). ‘n Eenvoudige gebed van nederige onderdanigheid gee verreweg groter troos as om hardkoppig met ons planne voort te ploeter.
God praat met aardse vaders, “Vaders, moenie gedurig by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie” (Kol 3:21). God skep sekerlik geen behae daarin om Sy eie kinders te treiter nie. Wanneer ons gefrustreerd voel met God, is dit te wyte aan ‘n gebrek van begrip aan ons kant, nie enige gebrek aan God se kant nie. Die beste manier om ons frustrasie te hanteer teenoor God, is om jou aan Sy wil te onderwerp, Sy tydsbereking te aanvaar en op Sy goedheid te vertrou. “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Pet 5:7).
English
Is dit verkeerd om met God gefrustreerd te wees?