Vraag
Wat beteken dit dat God lig Is?
Antwoord
1 Joh 1:5 sê, “God is lig.” Lig is ‘n algemene metafoor in die Bybel. Spreuke 4:18 simboliseer regverdigheid as “helder oggendlig.” Fil 2:15 vermaan God se kinders om “onberispelik” op te tree as “ligdraers in die wêreld.” Jesus het lig gebruik as ‘n uitbeelding van goeie werke: “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik. ”(Matt 5:16). In Ps 76:5, sê God, “ Die glans waarmee U verskyn het, was skitterender as dié op die hoogste berge.”
Die feit dat God lig is, stel ‘n natuurlike kontras met duisternis. As lig ‘n metafoor is vir regverdigheid en barmhartigheid, dan sinspeel duisternis op boosheid en sonde. 1 Joh 1:6 sê dat “As ons beweer dat ons aan Hom deel het en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie.” Vers 5 sê, “God is lig en daar is geen duisternis in Hom nie.” Let op dat daar gesê word dat God nie “‘n lig” is nie, maar dat “Hy ís lig.” Lig is deel van Sy wese, soos liefde is (1 Joh 4:8). Die boodskap is dat God volkome, sonder voorbehoud, absoluut heilig is, met geen toevoegsel van sonde, geen smet van ongeregtigheid en geen teken van onregverdigheid nie.
Indien ons nie die lig het nie, ken ons nie vir God nie. Hulle wat God ken, wat ‘n pad met Hom stap, is van die lig en lewe in die lig. Hulle vorm deel van God se goddelike natuur: “Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is” (2 Pet 1:4).
God is lig en so is ook Sy Seun. Jesus het gesê, “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Joh 8:12). Om te lewe (in Engelse vertaling: “walk”) is om te vorder. Dus, kan ons hiervan aflei dat Christene veronderstel is om te groei in heiligheid en in geloof, as volgelinge van Jesus (2 Pet 3:18).
God is lig en dit is Sy plan dat gelowiges Sy lig moet laat skyn, en elke dag meer en meer soos Christus word. 1 Tess 5:5, “Julle is tog almal mense van die lig, mense van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.” God is die skepper van fisiese lig, sowel as die gewer van geestelike lig, waardeur ons die waarheid kan sien. Lig verhelder wat in die duisternis versteek is; dit wys dinge soos hulle werklik is. Om in die lig te wandel, beteken om God te ken, die waarheid te verstaan en in regverdigheid te lewe.
Gelowiges in Christus moet enige duisternis in hulself bely – hul sondes en oortredinge – en God toelaat om Sy lig deur hulle te laat skyn.
Christene kan nie net nutteloos sit en toesien hoe ander in die duisternis van sonde voortgaan nie, wetende dat hulle in die duisternis bestem is vir ewige skeiding van God af nie. Die Lig van die Wêreld verlang om die duisternis uit te wis en Sy wysheid oraloor bekend te maak (Jes 9:2; Habakuk 2:14; Joh 1:9). Deur die lig van die evangelie na die wêreld te neem, moet ons noodwendig dinge aangaande mense openbaar, wat hulle liewer versteek sou wou hou. Lig is ongemaklik vir hulle wat aan die duisternis gewoond is (Joh 3:20).
Jesus, die sondelose Seun van God, is die “ware lig” (Joh 1:9). As aangenome kinders van God, moet ons Sy lig reflekteer in ‘n wêreld, verduister deur sonde. Ons doelwit om as getuies op te tree teenoor die ongereddes, is soos in Hand 26:18 geskrywe staan, “Jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van die Satan tot God kan bekeer. Deur in My (Jesus) te glo, sal hulle sondes vergewe word en sal hulle deel word van die volk van God.”
English
Wat beteken dit dat God lig Is?