settings icon
share icon
Vraag

Wat beteken dit dat God voorsien?

Antwoord


Daar is meer as 169 verse in die Bybel wat verwys na wyses hoe God vir ons voorsien. Fil 4:19 stel dit eenvoudig: “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens Sy oorvloedige rykdom in Christus Jesus.” Terwyl soekers na welvaart gedurig op soek is na geld of besittings om wonderbaarlik te arriveer, moet ons in diepte kyk na wat God graag vir ons wil voorsien.

Soos enige goeie ouer sal God nooit vir ons gee wat ons kan skade aandoen nie. Sy intensie is om ons te help ontwikkel om soos Christus te wees, dat ons sout en lig in die wêreld kan wees (Matt 5:13-14). God wil nie hê dat ons Hom as ‘n hemelse bron van uitsluitlik materiële besittings moet sien nie. Om dinge te verkry, is nie die fundamentele doel van ons lewe nie (Luk 12:15).

God onderskei tussen ons behoeftes en ons nood, want Hy weet dat waar ons skat is, is ons hart ook (Matt 6:21). Hy wil hê dat ons moet besef dat die wêreld nie ons tuiste is nie en dat ‘n gedeelte van wat ons benodig, is om ons fokus te skuif na die ewige lewe, terwyl ons steeds hierdie een op aarde leef.

God is besorg oor elke deel van ons bestaan: gees, siel, liggaam. Soos die fasette van Sy karakter ewig is, so is die maniere hoe God vir ons voorsien, ver bo enigiets wat ons kan vra of dink (Ef 3:20). Ons kan Sy goedheid vertrou, Sy leiding en herderlike omgee om meer vir ons te doen as wat ons ooit op ons eie kan behaal. God voorsien vir ons ‘n weg om ‘n intieme, gemeensame, gehoorsame verhouding met Hom te ontwikkel, sodat ons onsself en ander in ‘n “Psalm 23”-lewenskwaliteit kan inlei. Hulle wie se herder die Here is, kan sê, “Ek kom niks kort nie” (Ps 23:1).

In die Onse Vader-gebed leer Jesus Sy dissipels om vir voorsiening te vra en ons afhanklikheid van God word elke keer bevestig as ons bid, “Gee ons vandag ons daaglikse brood” (Matt 6:11). In Matt 6:25-34 vertel Jesus aan Sy dissipels om hulle nie oor kos en klere te bekommer nie. Die Vader ken ons behoeftes. Hy verlang verbondsverhouding met ons en dit sluit in om Hom te vertrou om in ons daaglikse behoeftes te voorsien en eerstens Sy koninkryk en geregtigheid te soek (Matt 6:33).

Ps 84:12b sê, “Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie.” Hierdie vers dra ‘n herinnering dat daar ‘n deel van ons is, wat in God se voorsiening lei tot vrug in ons lewens. Ons moet reg lewe.

Jak 4:3 is ‘n antwoord op ons vrae oor hoekom gebede soms onbeantwoord gelaat word: “As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.” God dien die hart en ons gebede se motiewe is vir Hom belangrik.

Baie gedeeltes oor God se voorsiening hou verband met ons behoefte aan kos en klere en die daaglikse, fisiese behoeftes van die lewe. Ander verwys na die behoeftes van ons siel en gees, ons innerlike wese. Hy voorsien ons van vrede (Joh 14:27), vertroosting (2 Kor 1:4) en “krag en liefde en selfbeheersing” (2 Tim1:7). Dit is so: Hy het ons “geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is” (Ef 1:3). In watter fisiese toestand ons ookal is,kan ons tevrede wees in die Here (Fil 4:12).

Gedeeltes soos Gal 1:15 en Jer 1:5 gee ons die versekering dat God se liefde en leiding reeds voor bevrugting begin het. Wat ‘n geskenk om te weet dat God van die verste begin af in ons lewens betrokke was! Sy liefde vir ons sluit Sy verlange in vir ons hoogste welstand. Hy is werklik Jehovah-Jireh, die Here-Wat-Voorsien.

God se voorsiening brei uit ten opsigte van Sy voortdurende verhouding met Sy hele skepping, wat diep afhanklik is van Hom (Ps 104:21). Dikwels aanvaar ons die reën asof ons dit verdien, die son wat elke oggend opkom, die verfrissende winde wat waai en die getye wat ons strande skoon spoel en die lewe in ons uitgestrekte oseane opwek. Maar al hierdie dinge is in die hand van ons liefdevolle God, in Sy voorsiening vir ons.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat beteken dit dat God voorsien?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries