settings icon
share icon
Vraag

Wie is die Jehova Getuies en wat bely hulle?

Antwoord


Die sekte wat vandag as die Jehova Getuies bekend staan het in Pennsylvania in 1870 begin as ‘n Bybelstudieklas gelei deur Charles Taze Russell. Russell het sy groep die “Millennial Dawn Bible Study” genoem. Charles T Russell het ‘n reeks boeke begin skryf wat hy die “Millennial Dawn” genoem het, wat uit ses volumes bestaan het voor sy dood en wat baie van die teologie bevat wat die Jehova Getuies nou aanhang. Na Russell se dood in 1916, het Regter JF Rutherford, Russell se vriend en opvolger, die sewende en finale volume van die “Millenial Dawn” reeks in 1917 geskryf, getitel “The Finished Mystery”. Die “Watchtower Bible and Tract Society” was in 1886 gestig en het vinnig die middel geword waarmee die “Millennial Dawn” hulle sieninge na ander versprei het. Die groep was bekend as die “Russellites” tot 1931 toe hulle, as gevolg van ‘n skeuring in die organisasie, bekend geword het as die “Jehova Getuies”. Die groep waarvan hulle geskeur het staan as die “Bible students” bekend.

Wat bely die Jehova Getuies? ‘n Noukeurige ondersoek van hulle leerstellings oor onderwerpe soos die godheid van Christus, verlossing, die Drie-Eenheid, die Heilige Gees, en die versoening toon sonder enige twyfel dat hulle nie tradisionele Christelike standpunte oor hierdie onderwerpe het nie. Jehova Getuies glo dat Jesus Migael die aartsengel is, die hoogste geskape wese. Dit weerspreek die Heilige Skrif op baie plekke waar dit duidelik gestel word dat Jesus God is (Johannes 1:1, 14, 8:58, 10:30). Jehova Getuies glo verlossing word verkry deur ‘n kombinasie van geloof, goeie werke, en gehoorsaamheid. Dit weerspreek die talle Skrifture wat verklaar dat redding alleen deur genade ontvang kan word (Johannes 3:16; Efesiërs 2:8-9; Titus 3:5). Jehova Getuies verwerp die Drie-Eenheid, hulle glo dat Jesus ‘n geskape wese is en dat die Heilige Gees hoofsaaklik die onbesielde krag van God is. Jehova Getuies verwerp die begrip van Christus se plaasvervangende versoening en glo eerder aan ‘n losprys teorie, dat Jesus se dood ‘n losprys was vir Adam se sonde.

Hoe regverdig die Jehova Getuies hierdie onBybelse leerstellings? Eerstens, hulle beweer dat die kerk die Bybel oor die verloop van eeue verander het; daarom het hulle die Bybel hervertaal na wat hulle noem die New World Translation. Die “Watchtower Bible and Tract Society” het die teks van die Bybel verander om aan te pas by hulle valse leerstellings, eerder as om hulle leerstellings te grond op wat die Bybel werklik leer. Die New World Translation het verskeie nuwe uitgawes ondergaan, soos wat die Jehova Getuies meer en meer Skrifture ontdek wat hulle leerstellings weerspreek.

Die “Watchtower” grond sy belydenis en leerstellings op die oorspronklike en uitgebreide onderwysings van Charles Taze Russell, Regter Joseph Franklin Rutherford, en hulle opvolgers. Die beheerliggaam van die “Watchtower Bible and Tract Society” is die enigste instansie in die kultus wat voorgee om die mag te besit om die Skrif te kan uitlê. Met ander woorde, wat die beheerliggaam sê aangaande enige teksgedeelte is die finale woord, en onafhanklike denke word sterk ontmoedig. Dit is in direkte teenstelling met Paulus se vermaning aan Timotheus (en ook aan ons) dat ons ons daarop moet toelê om ons beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny. Hierdie vermaning, in 2 Timotheus 2:15, is ‘n duidelike opdrag van God aan elkeen van Sy kinders om soos die Bereaanse Christene (Handelinge 17:10-11) te wees, wat die Skrifte daagliks bestudeer het om te kyk of dit wat aan hulle geleer word in lyn is met die Woord.

Daar is waarskynlik geen godsdienstige groep wat meer getrou daaraan is met die verspreiding van hulle boodskap nie as die Jehova Getuies. Ongelukkig is die boodskap vol verdraaiings, misleidings, en valse leerstellings. Mag God die oë van die Jehova getuies open vir die waarheid van die evangelie en die ware onderrig van God se Woord.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wie is die Jehova Getuies en wat bely hulle?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries