settings icon
share icon
Vraag

Wie is Jesus Christus?

Antwoord


Wie is Jesus Christus? Anders as met die vraag, “Bestaan God”, is daar min mense wat bevraagteken of Jesus Christus regtig bestaan. Dit word algemeen aanvaar dat Jesus werklik ’n mens was wat in Israel, omtrent 2000 jaar gelede, die aarde bewandel het. Die debat begin wanneer Jesus se volle identiteit bespreek word. Bykans elke groot geloof leer dat Jesus ’n profeet of ’n goeie leermeester of ’n goddelike mens was. Die probleem is dat die Bybel ons leer dat Jesus oneindig meer as ’n profeet, goeie leermeester of goddelike mens was.

In sy bekende boek “Mere Christianity” maak Lewis hierdie stelling: “Ek probeer verhoed dat enige iemand die regtig dwase ding sê wat mense dikwels oor Hom [Jesus] sê: ‘Ek is bereid om te aanvaar dat Jesus ’n groot morele leermeester was, maar ek aanvaar nie sy aanspraak dat Hy God is nie.’” Dit is die een ding wat ons nie moet sê nie. ’n Blote mens wat al die dinge gesê het wat Jesus gesê het, sal nie ‘n groot morele leermeester wees nie. Hy sou eerder ‘n kranksinnige wees - op die vlak van iemand wat beweer hy is ‘n hardgekookte eier - of hy sou die duiwel uit die hel wees. Jy moet jou keuse maak. Of Hy was, en is, die Seun van God, ‘n mal mens of iets ergers. Jy sou Hom kon afmaak vir ‘n dwaas of jy kan voor Sy voete val en Hom aanbid as Here en God. Dit sal dwaas wees om Hom af te maak as ‘n ‘groot menslike leermeester’, Hy het nie aan ons daardie opsie oopgelaat nie.”

Wat het Jesus gesê oor wie Hy was? Wat sê die Bybel van wie Hy was? Kom ons kyk eerstens na Jesus se woorde in Johannes 10:30, “Ek en die Vader is een.” Met die eerste oogopslag lyk dit nie asof Jesus daarop aanspraak maak dat Hy God is nie, maar kyk na die Jode se reaksie op hierdie stelling, “Dit gaan nie daaroor dat jy mense gehelp het nie. Wat ons briesend maak, is dat jy God beledig. Jy, wat ’n gewone mens is, stel jouself sommer as God aan. Waar het jy dít nou al gehoor?” (Johannes 10:33). Die Jode het gedink dat Jesus in sy stelling daarop aanspraak maak dat Hy God is. In die daaropvolgende verse het Jesus nooit die Jode anders probeer oortuig deur te sê, “Ek maak nie daarop aanspraak dat ek God is nie.” Dit dui daarop dat Jesus gesê het Hy is God deur te sê, “ Ek en die Vader is een” (Johannes 10:30). Johannes 8:58 is nog ’n voorbeeld waar Jesus gesê het: “Luister hierna: Abraham was nog nie eens gebore nie, toe was ek al daar.” In reaksie hierop het die Jode weereens klippe opgetel om Jesus te stenig (Johannes 8:59). Jesus het gesê “Ek-wat-is”, wat ’n direkte toepassing van die Ou-Testamentiese naam vir God is (Eksodus 3:14). Hoekom sou die Jode Jesus wou stenig as die Hy nie iets gesê het wat hulle geglo het lasterlik was nie, naamlik ’n aanspraak daarop om God te wees?

Johannes 1:1 sê dat “die Woord was God.” Johannes 1:14 sê “Jesus het toe as mens aarde toe gekom.” Dit dui baie duidelik daarop dat Jesus God as mens is. Die dissipel Thomas het aan Jesus gesê, “My Here en my God!” (Johannes 20:28). Jesus het hom nie reg gehelp nie. Die Apostel Paulus beskryf Hom as, “…ons wonderlike God en Verlosser, Jesus Christus” (Titus 2:13). Die Apostel Petrus sê dieselfde, “…ons God en Verlosser, Jesus Christus” (2 Petrus 1:1). God die Vader is ook getuie van Jesus se identiteit, “Maar van sy Seun sê Hy: U, o God, sal vir ewig en altyd heers. Soos ’n koning sal U vir altyd goed en reg regeer.” Ou-Testamentiese profesieë van Christus kondig sy Goddelikheid aan, “Daar is vir ons ’n Kind gebore! Dit is ’n Seun wat aan ons gegee is! Hy sal oor ons regeer en sy koninklike titels sal wees: Spesiale Raadsman, God wat sterk is, Ewige Vader, Koning van Vrede.”

Soos C.S. Lewis dus geredeneer het, om te glo dat Jesus ’n goeie leermeester was, is nie ’n opsie nie. Jesus het duidelik en onbetwisbaar verklaar dat Hy God is. As Hy nie God is nie, is Hy ’n leuenaar en dus nie ’n profeet, goeie leermeester of goddelike man nie. Moderne “vakkundiges” beweer dat baie van die dinge wat die Bybel aanhaal as Jesus se woorde, nie deur die “ware, historiese Jesus” gesê is nie. Hoe kan ’n “vakkundige” 2000 jaar later beter insig hê in wat Jesus gesê het of nie gesê het nie, as die mense wat saam met Jesus gewoon en gedien het en deur Jesus self geleer is (Johannes 14:26)?

Hoekom is die vraag oor Jesus se ware identiteit so belangrik? Wat maak dit saak of Jesus God is? Die mees belangrike rede is dat indien Jesus nie God is nie, sou Sy dood nie genoeg gewees het om die hele wêreld se sondeskuld te vereffen nie (1 Johannes 2:2). Slegs God kan so ’n oneindige groot straf vereffen (Romeine 5:8; 2 Korintiërs 5:21). Dit was nodig vir Jesus om God te wees sodat Hy ons sondeskuld kon vereffen. Dit was nodig vir Jesus om mens te word sodat Hy kon sterf. Verlossing is alleenlik deur geloof in Jesus Christus moontlik! Jesus se goddelikheid is die rede hoekom Hy die enigste weg vir verlossing is. Jesus se goddelikheid is die rede waarom Hy verklaar, “Ek is die ‘pad’ en my Vader die ‘adres’. Wie hierdie pad loop, kom by die ware lewe uit. As iemand ’n ander pad loop, sal hy nooit by my Vader uitkom nie” (Johannes 14:6).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wie is Jesus Christus?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries